Maar soms gaan ek tog.

As ek sou kon terugreis in my eie verlede en by tye kon aandoen, sou ek, met dieselfde voorbehoude, weer my kinderdae wou oorhê - en weer redakteur van SARIE wou wees. Die oorheersende emosie van my kinderdae was een van veiligheid, liefde en sorgloosheid.

By SARIE was dit altyd ’n gevoel van een groot familie, ’n wenspan op pad na die posisie van topverkoper. Lizette Rabe het een maal na hierdie tyd as Camelot verwys: Byna soos die glanstyd van die ridders van die ronde tafel. Ons teetafel was groot, lank en vierkantig, maar daar het ons baie stories gemaak, planne gesmee en soms sommer net onsin gepraat. Daar is baie gelag.

Wanneer ’n mens in die gang af gekom het, kon jy ’n soort vrolike, besige opgewondenheid aanvoel. En my uiters gevoelige neus kon die fyn parfuumgeure van die redaksie van ver af ruik.

Dit was aanleiding tot ’n gedig wat ek later geskryf het:

HEILIGE REUK
Sint Mattias-kerk, Boedapest 1993

By Sarie het dit soms Chanel geruik,
by die koerant na sigaret en sweet.
My ouma het Eau de Cologne gebruik,
en boegoe vir die bors en elke skeet.
Ek snuif soms aan ’n stukkie Lifebuoy-seep,
belééf my huis se breë geelhoutvloer,
die potte rose vranksoet in ’n greep
van “ iets soos paraffien ” -Bokpolitoer.
Geboue, oud, muur asemdwelms vas,
wat “ Boland” fluister oor geslagte heen:
die soet, die stank van dié wat eenmaal was
maar nou vergeet, vermuf in mis en reën.
In hierdie ou kapel sweet mure týd
en altaarkerse damp Teenwoordigheid.

Wanneer ek stokou katedrale besoek, soos die ou Middeleeuse Sint Mattias hierbo, verbeel ek my ek is in die ou tempel van Jerusalem, waar die reuk-offers opstyg tot eer van God en die kerse flikker in ’n heilige donkerte om die altare, met God baie naby.

Daar was die dag toe ek gaan treur het in die eeue oue Sint Stefansdom in Wene, toe hulle my van SARIE af gebel het om te sê Janetta is skielik die vorige nag aan beroerte oorlede. Sy het ’n tyd lank van hoofpyn gekla. Sy was ons jong, vrolike handwerkredakteur met die heerlike brgy. Toe huil ek sommer ook oor Alta, die gelukskind van die kantoor, wat ek vroeër die jaar ná ’n tragiese motorongeluk in die nag in die polisielykhuis moes gaan uitken:

DOOD VAN ALTA
26 April 1990

Die lang snikke / van die herfsviole
verwond my hart / met een tonige loomheid
Paul Verlaine: Chanso n d’Automme
Met môre nog in daardie nag se kruik het ek jou uitgeken,
my blonde kind, die bloed nog in jou hare, op jou wang,
en vir die lykhuisman geknik dis jy; my kake styf geklem.
Die donker in die deurloopstraat het traagweg lig geword.
Ek het gesien hoe die kantele van kastele berge tint
na die strand se kant, die mis klaar ondertoe gestort.
Die lug het, soos dit lug betaam, ’n silwer boog gestaan,
soos ’n verligte koepel van ’n temadorp of katedraal,
of in ’n groot teater net voor die gordyn oopgaan.
Toe kom ’n sekel son aan Stellenbosch se koppe raak
terwyl die melkwa voor kafees hard briek aanslaan,
koerantjoggies by die verkeerslig pakke nuus oopmaak.
Die baai was nog daar, bote, maste, en die bries van laat-April.
Die son het vinnig half en vol geword, en ek was stukkend
en verwonderd, met die herfsviole stil.

Maar ek sou dit alles weer beleef, die vreugde én die trane, ’n besonderse tyd wat soos ’n droom was. Alta se foto staan hier op my boekrak. Dit word effe geel, maar sy bly glimlag, jonk en vrolik. Janetta ook.

In iets wat werklik geniet word, speel al die oktawe van lewe: Lig en fyn, diep en swaar. Mooi, besonderse herinneringe proe soos ’n goeie Franse Cognac , met al die geure van die ou vate, die wingerd, God se helder somerlug én die kelder se donkerte.

Om werklik te leef moet ’n mens geurige parfuum kan ruik én ’n traan kan afvee. En later bly net die herinnering vir jou glimlag, selfs in ’n foto wat vergeel, maar in dankbaarheid dat jy dit kon ervaar en vir alles wat jy nog gáán ervaar.

* Die aangehaalde verse het uit twee ou SARIE-Agterblaaie ontstaan en is opgeneem in I.L. de Villiers se digbundel Jerusalem tot Johannesburg, wat pas by Tafelberg - Uitgewers verskyn het.