Hoeveel keer het ek nie al die genade van so ’n dag by die water beleef nie. Alles getuig van ’n Maker - ongeag wat sommige geleerdes sê. Ek dink ’n mens moet jou gedagtes besaai met prentjies van skoonheid sodat jy op ’n saai dag die fluistering van berge en strome in jou herinnering kan oproep.

Met my derde ingooi, en met genoeg adrenalien om ’n walvis in te katrol, voel ek skielik ’n wilde pluk - nog voor die hoek en sinker die water tref. ’n Seemeeu het in die lyn vasgevlieg en oorverdowend begin protesteer. Ek het die verstrengelde voël ingekatrol en besef hy is gereed om te veg. Sy oopgetrekte snawel het gewaarsku dat iemand gaan seerkry.

Wat gevolg het, sal ek nooit vergeet nie. Ek het die voël probeer gryp sodat nie een van ons seerkry nie.

En tot my verbasing - toe ek begin om die lyn om sy vlerke en pote los te maak - lê die seemeeu doodstil. Geen geluid of beweging nie. Asof hy geweet het hy word deur ’n vriend gehelp. Ná ’n paar minute het ek hom die wind ingegooi en my vir ’n lang ruk verwonder oor die byna surrealistiese ontmoeting.

My gedagtes het teruggegaan na die verhaal van die eerste mense en die eerste seemeeue. Ek het iets beleef van daardie eerste opdrag dat die mens moet heers oor die Skepping.

Ek kyk om my en sien wat ons met die planeet gemaak het. Selfs op ons gunsteling-rots is die tekens onmiskenbaar daar, waar vissermanne soms so mors dat ek my skaam om aan ’n visstok te vat. As ek vlieg oor Johannesburg en die donker, vuil kombers sien, weet ek mense is besig om die planeet te verstrengel, net soos my vislyn daardie meeu.

Maar elkeen van ons kan iets doen. Ons almal het ’n bietjie meer groen bloed nodig.

Elke nou en dan gaan ek en my seun na ons rots en maak skoon. En dan kyk ek na die seemeeue en wens die tyd wil kom dat ons mense met die wêreld sal maak soos die Maker bedoel het.