Hoe vreemd was dit nie vir my om hierdie briljante, professionele vrou - wat gewoonlik sprankelend, onafhanklik en sterk is, en enige gesprek in ’n filosofiese belewenis van humor, warmte en intellektuele stimulering kan laat verander - so broos in die heilige stilte van ’n gebedshoekie agter ’n loodglaskruis te sien nie.

Hoe moeilik was dit nie vir my, wat gewoonlik vir mense antwoorde moet gee, om daar saam met haar, in die plek waar ons weekliks saamkom om te hoor wat God vir mense sê, te wonder of Hy gaan praat of swyg nie.

Só skielik kan mens se probleme verander.

Hoe beuselagtig kan die verspotte bekommernisse oor geld, huispaaiemente, vakansieplanne of kar koop skielik nie lyk nie. Gister se frustrasies oor verkeer, wat alles gedoen moet word, of kinders se eksamens kan vandag na seëninge lyk. Een telefoonoproep, een doktersverslag, en die hele lewe lyk anders. Alles kom tot stilstand.

Al die stemme wat gister so dringend op jou onverdeelde aandag aangedring het, vervaag tot die blote byklanke van alledaagse onbenullighede. Mens kry amper skaam dat jy kon wakker lê oor sulke kleinighede. Jy wens amper jy kon vandag honderd keer eerder sulke “probleme” hê.

Dis in sulke tye dat ons weer besef wat regtig belangrik is. Selfs te midde van die ontnugterende hartseer, was ek tog bly om te sien dat my vriendin haar toevlug tot die oop deur van die klipkerk geneem het. Hoe swaar dit ook al was om haar so gebroke te sien was ek tog bly dat sy haar gebrokenheid na die veilige omgewing van ewige, vaste dinge soos ou houtbanke, klip, kruise en kerse gebring het. Hoe eensaam sy ook al gelyk het in haar stryd wat voorlê, weet sy vandag sy is nie alleen nie. Sy het mense wat omgee. Sy kon ’n telefoonoproep maak. Sy het vriende wat vir haar lief is. Haar pyn is nie net haar eie nie.

My vriendin en ek het daar in die stilte maar net weer besef dat antwoorde in sulke tye nie altyd so maklik of eenvoudig te vinde is nie. Chemo of nie chemo nie. Chirurgie?
Mastektomie? Alternatiewe dieet? Net geloof? En dan die vreeslike besef dat ’n verkeerde besluit dalk nie reggemaak sal kan word nie.

Saam het ons ons domheid aan mekaar bely. Mens kom in donker tye pynlik in kontak met hoe blind en doof en baie klein jy is. ’n Stukkie stof in ’n groot, donker, onverklaarbare heelal.

Maar ons is nie nét dom nie. Die heelal is nie nét donker nie. Sommige slim mense wil ons vertel dat alles wat ons glo maar mites is.

Net die produk van ons primitiewe vrese. Die oorblyfsels van oer-onkundigheid. Maar gister het twee mense in die klipkerk opnuut ontdek ons is nie alleen nie. Iemand gee om. Hy is naby aan elkeen wat roep. Nader, en meer werklik as ons grootste vrese. Nee, die heelal is nie nét donker nie.