Min het ek geweet daar sou invloede verskyn, engele verbyvlieg, musikale openbaringe plaasvind en leidrade ontvang word wat my uiteindelik in ’n heel ander rigting sou stuur.

As student het ek my sakgeld verdien deur orrel te speel in die kerk, daar was nie ’n begrafnis of ’n troue wat ek deur my vingers laat glip het nie. (Beloning tersyde, by ieder geleentheid het ek my gaar gehuil, die helfte oor die geweldige verlies, die ander helfte oor die onbeskaamde swak smaak.) Elke Saterdagoggend klim ek met my kontant op die trein en gaan koop ’n nuwe langspeelplaat by Hans Kramer se winkel in Kaapstad. Op ’n ongure oggend lei ’n onbekende met mooi boude my egter by ’n luidrugtige winkeltjie in en daar (uiteindelik!) koop ek my eerste populêre plaat, “Songbird” deur Barbra Streisand.

Terug op Stellenbosch bewe ek van opwinding. (Ek was toe nog vas oortuig popmusiek is sonde.) Ek kry die draaitafel op dreef en so maak Barbra vir die eerste keer keel skoon in my binnekamer. Sy sing die mooiste lied wat ek in my lewe gehoor het, my hele wese verlaat my, lewer ’n vertoning teen die plafon en kom land toe op ’n nuwe plek.

I sing, you sing along, you find your life in my song, en later: The song sets you free, but who sings for me? Aanvanklik sentimenteel en uiteindelik die waarheid, het hierdie lirieke die leuse geword van my lewe, my loopbaan en plek as sanger. Ek sal die oomblik nooit vergeet nie - tot op daardie dag in my lewe het ek nog nooit ’n mikrofoon vasgehou nie - maar net daar op my ligblou enkelbed in my skreeulelike kamer het ek besluit dat ek eendag, op die regte tyd en om die regte redes, ook hierdie lied sou sing.

Verlede jaar raak ek onverwags betrokke by Project Fame en so tussen vergaderings en grimeersessies raak ek bevriend met Richard Loring. Hy vertel my van hierdie opwindende nuwe groep, Hi-5, vyf oulike klonge, hulle spring ure lank heen en weer en onthou nog die wysie ook. Ek glimlag, maar steur my aan niks, ek is nog glad nie gereed vir jong talent en kompetisie nie.

Uiteindelik nooi Richard my na die openingsaand van Hi-5 se vertoning, Oh Boy. My moed sak tot in my skoene, my tyd is kosbaar en ek is glad nie lus vir 5 gretige knape wat 2 ure lank bokspring op bekende deuntjies nie. Maar ek trek vir my mooi aan en sleep myself die teater binne. Die volgende oomblik ontplof ’n rookbom en 5 sexy terroriste spring op die verhoog. Hulle wikkel en sing dat jy naderhand brand ruik soos die gehoor veg teen hul eie vuil gedagtes. My bek hang oop.

Ná die tyd staan ek in ’n ry saam met die res van die land se bekende spoke om hulde te bring aan die jong talent. Só ontmoet ek vir Dihan Slabbert. By ’n latere geleentheid kry ons kans om te kuier, hy bring vir my ’n eksemplaar van die groep se CD en ek kan met aandag luister na alles wat ek tydens die vertoning gemis het. Een van die liedjies begin met ’n paar solo-frases gesing deur Dihan. Hy’t nog nie ingeasem vir die tweede vers nie, toe weet ek dis ’n stem wat ek wil deel maak van my musikale ervaring op hierdie aarde.

Net ’n paar keer in my lewe kon ek die voorreg hê om ’n hemelse stem te hoor, my hart te verloor, en dan saam te sing. Ek dink aan o.a. Lydia vom Hagen, Wess-Lee, Alida White, Mimi Coertse en Joe Niemand. Dihan loop gebuk onder ’n wavrag talent, ’n geseënde paar stembande, ’n goue hart en al die nederigheid wat nodig is om berge te versit.

Ons het so pas “Songbird” opgeneem as ’n duet. Ná 22 jaar kon ek ’n siklus voltooi en met ’n nuwe begin. Ek dank my Skepper, nie net vir die heerlikheid van ’n nuwe asem, ’n nuwe stem en ’n nuwe vriend nie, maar vir die bevestiging dat ná al die jare, al die aandag, publisiteit, drama, inkopies en kostuums, behoort my hart nog aan my eerste liefde, die musiek.

Ek hoop dat elkeen wat ons lied hoor, herinner sal word en sal terugkeer na sy groot liefde. Maak nie saak hoe verwaarloos nie. Of hoe ver.