“Jy kyk elke dag na my, wat’s dit nou?” vra sy en smeer nog SBF 15 aan haar tone.

“Mmm, nes ek gedink het . . .”

“Wat?” Sy gryp na haar gesig. “Is daar lipstiek op my  tande? Is daar ’n sandkorrel op my wang? Ek sê altyd jy moet my sê as . . .” Veral in die openbaar, soos op die strand.

Nee, sê jy, jy wonder net hoekom sy vir jou so mooi is. (Groot glimlag.) Want nes jy het Plato met dieselfde filosofiese vraag geworstel: Waarin, o, waarin lê
skoonheid? En die antwoord waarmee hy vorendag gekom het: Dit lê in proporsie en simmetrie.

Jy (2009) kon vir Plato (427 – 347 v.C., daar rond) gesê het: Skoonheid lê op haar maag in ’n bikini op die strand. Dáár’s nou vir jou proporsie, Plato, dís mos
simmetrie!

Volgens hom is alle mooi vroue se gesigte simmetries. Veral van agter, sê jy.

Van agter?

“Ja,” sê jy en maak ’n gebaar met jou hand so wyd soos die oseaan. “Sien jy? Selfs ’n vrou wat nie juis aansienlik is nie – kyk daardie een met die drie kenne en
die dubbele nek, byvoorbeeld – is simmetries van agter. Dit sê mos nou vir jou . . .”

Wat sê dit? vra sy onmiddellik, maar jy weet ook nie eintlik wat dit sê nie, behalwe dat alle vroue simmetries van agter is. Dis nou wel nie wetenskaplik bewys nie, jy’t dit vir jouself uitgewerk. ’n Mens sien dit veral op die strand – die wetenskap van bikini’s (met of sonder ’n bikini). As Plato nou by was, kon jy hom heel platonies daarop gewys het.

Sy teorie is deur die Griekse eeue aanvaar en deur moderne wetenskaplikes bevestig, met rekenaarmanipulasie: As die linkerkant van jou gesig  ’n presiese spieëlbeeld is van jou regterkant, word jy algemeen as mooi beskou. Selfs babas kyk langer na foto’s van simmetriese gesigte as na gewone gesigte.

Dis hoekom iemand soos Cindy Crawford vir almal mooi is.

En proporsioneel is jy op jou mooiste as die wydte van  jou gesig presies twee derdes is van die lengte, en jou  neus moenie langer wees as die afstand tussen jou oë nie. Plato het dit uitgewerk. (Dis nie nodig om ’n liniaal  te gaan haal nie, keer jy.)

Dit gaan als oor selle wat mooi netjies en identies verdeel om ’n simmetriese voorkoms te verseker, wat dui op goeie gene en vrugbaarheid. Simmetriese gesigte lyk ook sommer jeugdig en gesond, daarom vind mans sulke vroue aantreklik (groot oë, vol lippe, fyn neus, smal ken, hoër wangbene). Veral wanneer die
man se testosteroonvlakke hoog is, dit maak vir jou sin.

Net so verkies vroue simmetriese mansgesigte met ’n sagte, fyner voorkoms. Maar wanneer hulle ovuleer, verkies hulle iets manlikers (fors oogbanke, dun lippe,
sterk ken), want dan moet die man beskerm en sorg vir ’n nageslag met ’n goeie immuunstelsel.

Brad Pitt vs. Mick Jagger (uitgesonderd die lippe).

“Dis eerder omdat julle nie julle mind kan opmaak nie,” sê jy. “En as jou groottoon-se-maat langer is as jou groottoon self, het jy lelike voete.”

Los my voete uit! keer sy en druk haar tone in die sand. Sy grawe in haar strandsak en bring ’n handspieëltjie te voorskyn. Jy dink dis tyd vir lipstiffie, maar nee: “As alle mooi vroue se gesigte simmetries is, hoekom is myne nie?” vra sy stroef (en ietwat asimmetries) terwyl sy die spieëltjie terugsit in haar sak, amper asof dit ’n slang is. Sy voel kennelik nie soos Cleopatra nie.

Mmm, nes jy gedink het . . .

“Dis presies hoekom ek op die punt staan om Plato verkeerd te bewys!” sê jy triomfantlik. Sy draai drie keer in die rondte en kom op haar maag tot rus.

“Bewys!” sê sy ...

*Volgende maand: Om Plato verkeerd te bewys.