Heel moontlik is dit omdat sulke skokkende misdade nie uitsonderlik in Suid-Afrika is nie, maar dat ’n buitelandse skrywer so ’n boeiende verhaal daaroor kan skryf, het my geraak. Dis ’n komplekse verhaal waarin ontvoering, moord, kindermishandeling en pornografie ’n rol speel. Die lyke van twee tienerseuns word ontdek. Hulle is op dieselfde manier vermoor en lyk of hulle uit dieselfde omstandighede kom. Vaughn de Vries, ’n speurder wat al jare in die polisie is, moet die saak ondersoek. Hy het ’n kollega, Don February, wat saam met hom aan die saak moet werk. Hulle ontrafel ’n smerige en diep, donker komplot en vind ’n moordenaar wat hulle nie verwag het nie. Ek het per e-pos met Paul Mendelson gesels oor sy boek, The First Rule of Survival (Constable & Robinson, R266) waarin hy hierdie verhaal uitmuntend vertel.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Vertel ons Suid-Afrikaanse lesers wie jy is en wat jy doen.

Ek is gebore en getoë in Londen, maar ek is gelukkig om drie tot vier maande per jaar in Kaapstad te spandeer. Meer as twintig jaar gelede het ek verlief geraak op dié stad, hoofsaaklik oor die ongelooflike mense wat ek daar ontmoet het, maar ook oor die uitsonderlike prag van die Kaap.

Ek skryf al my hele lewe lank, selfs toe ek op skool was en veronderstel was om ander dinge te doen. Eerste was dit kortverhale en toe vir die teater; my toneelstuk is in 1986 in die National Theatre opgevoer. Daarna het ek ’n bietjie vir televisie geskryf, en toe het ek meer as ’n dosyn nie-fiksie boeke oor sportsoorte soos brug, poker en casino gaming geskryf. Gedurende hierdie tyd het ek ook dialoog vir rolprent- en tv-draaiboeke afgerond en ek het kortverhale en koerantstories geskryf.

Ek het ’n paar jaar gelede weer my liefde vir misdaad ontdek en ek skryf nou ’n reeks misdaadboeke vir my huidige uitgewer.

Jou boek, The First Rule of Survival, is ’n Suid-Afrikaanse verhaal en speel af in Kaapstad. Waarom juis dié verhaal en waarom Kaapstad?

Ek is verlief op Kaapstad. Die stad verskaf ’n uitsonderlike fisiese en topologiese agtergrond waarin mens stories kan laat afspeel. Die politieke-, kulturele- en rassespanning beklemtoon temas wat volop is regoor die wêreld. Die laaste halfeeu se geskiedenis verseker dat daar baie stories is wat begrawe is en net wag vir karakters om hulle op te diep.

Waar het die storie ontstaan?

’n Paar jaar gelede het ek besluit om ’n avontuurverhaal in die styl van Ian Fleming se 1950’s stories te skryf, maar dis geplaas in Kaapstad. Daar was jaagtogte op die Chapmanpiekpad, die kabelkar, die hange van Tafelberg, en die seevliegtuig wat van die Waterfront af gevlieg het. Ek het dit suiwer as ’n literêre oefening gedoen, maar ’n uitgewersvriendin het dit gelees en gesê, hoewel die styl nie reg was nie, kon sy belofte sien as ek iets sou aandurf wat ernstiger en meer sielkundig van aard is. Dis wat ek toe gedoen het. Gelukkig vir my het die uitgewers daarvan gehou en dit lyk asof lesers ook daarvan hou.

Die storie gaan oor ’n misdaad waarvoor daar geen fisiese bewyse is nie, maar die hoofkarakter ontdek (wat hy glo) die persoon wat in beheer is van die gebeure. Hy moet nou net ’n manier vind om hom met die misdade te verbind. Die saadjie vir die verhaal is sewe jaar gelede geplant.

Moes jy baie navorsing doen, want die storielyn is kompleks, en kombineer ontvoering, kindermishandeling, pornografie en moord?

Ek skryf wat ek wil skryf en dan eers doen ek navorsing om te sien of ek prosedure gevolg het en of ek die storie geloofwaardig en logies gehou het.Vir my bepaal die karakters hoe die storie ontwikkel. My brein is nogal geoefen daarmee om verskillende drade bymekaar te trek en dit is wat ek geniet en wat my opgewonde maak.

Ek het vir ’n kort rukkie vir die Britse tv-reeks, The Bill, geskryf en dit het my ’n grondslag gegee van polisie prosedure. Ek het ook ontdek een van my Kaapse vriende het ’n familielid in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en sy kon foute optel in hoe ek oor dié polisiediens se prosedures geskryf het.

Was dit ’n maklike boek om te skryf? Moes jy alles vooraf uitplot om dit geloofwaardig te hou?

Dit was lekker om die boek te skryf. Omdat dit ’n persoonlike projek was, het ek geen spertyd gehad nie. Voordat ek begin skryf, het ek ’n goeie idee van my karakters, ’n basiese plot van waarheen ek dink die storie gaan beweeg, en dan laat ek die karakters die gebeure dryf. As karakters buite karakter optree, dan is dit nie geloofwaardig nie.

Ek dink gewoonlik so drie of vier dae aan opkomende tonele. Ek improviseer die dialoog, maak baie notas in amper onleesbare skrif. Dan, ongeveer drieuur in die middag, gaan sit ek met my skootrekenaar en kom dikwels eers na middernag uit my skryf ‘trance’. Dis ’n wonderlike gevoel, alhoewel ek soms bekommerd is dat as ek dit in die oggend lees, dit rubbish sal wees.

Het jy ’n roetine wanneer jy skryf, of is dit ’n geval van enige tyd, enige plek?

Vir my hang skryf van my bui af. Die ideaal is om jou af te sny van die wêreld en die fiktiewe wêreld waaroor jy skryf te betree en dan moet jy getrou bly daaraan. Dit werk die beste as ek in Kaapstad is en ek is ontslae van die verantwoordelikhede van die huislike lewe, daaglikse takies en huislewe stres. In Kaapstad is bestuur, inkopies, DIY alles net soveel makliker as my lewe in Londen.

In Londen is nie-fiksie skryf baie anders. Ek sê net vir myself ek moet vir agt ure skryf en dan gaan sit ek en ek doen dit. Maar dit kan ek nie met kreatiewe skryf doen nie.

Het jy Vaughn de Vries op iemand gebaseer?

Hy is heeltemal fiktief, maar darem saamgestel uit dinge wat ek gehoor het, geselsies wat ek met die polisie gehad het en goed wat ek gelees het oor polisie ondersoeke.

Ek wou ’n karakter skep wat nie ontsteld is met die staat waarin hy hom bevind nie. Sy huwelik het opgebreek, omdat sy vrou meer beroepsgerig was, sy dogters is uit die huis, hy is op die rand van alkoholisme en tog kry hy dit reg om dit te beheer. Hy is nie ongelukkig oor hierdie verwikkelinge in sy lewe nie, want hier in sy middel-veertigs besef hy die een ding wat hom bevredig, is sy werk – hy vind vreugde daarin. Dit gesê, sy obsessie met sy werk maak dat hy meer betrokke raak by sy sake as wat moontlik goed is vir hom.

De Vries is ’n man op ’n reis na, aan gebrek aan ’n beter woord, enlightenment. Hy is middeljarig, geanker in hoe hy dinge doen, steeds gedeeltelik simpatiek aan die ou apartheid manier van dinge doen, die houding van vervloë jare. Stadigaan leer hy van beter . . .

Daar is ’n interessante verhouding tussen Vaughn en Don February. Was dit ’n belangrike aspek wat jy wou uitlig in die polisiediens?

Ek het met baie polisielede gesels: swart en wit en gekleurd – en die indruk wat ek gekry het was nie ’n gemaklike een nie. Duidelik is daar heelwat wrewel oor positiewe diskriminasie, hoe die Polisie van bo bestuur word, die invloed van die regering. Dis polities nie ’n maklike werkplek nie, dis virseker.

Ek wou die eerste van die universiteitsopgeleide swart offisiere in die verhaal bring, om te leer by old timers soos Vaughan de Vries, wie se geskiedenis teruggaan tot by die einde van die apartheidsera. De Vries leer gou, dat al dink hy Don is nie afgerond nie, is daar dinge waarmee hy besonder goed is, en dit verras hom. Hulle ontwikkel ’n teësinnige respek vir mekaar, en in volgende boeke gaan hierdie verhouding getoets word op vele maniere.

Gaan ons meer van Vaughn sien in die toekoms?

My uitgewers het gevra ek moet meer verhale skryf oor Vaughn de Vries en Don February en die tweede boek oor hulle is nou by die uitgewers en is bestem om volgende Maart of April te verskyn. Die derde boek word nou beplan.

Die volgende verhaal is meer van ’n politieke spanningsverhaal. Ek is al gewaarsku dat ek met vuur speel hier, maar as ’n fiksie skrywer kan ek temas ondersoek en dit openlik bespreek. Op ’n beskeie manier kan ons deur kuns kwessies opper en mense kry om daaroor te praat. Ek glo dis ’n goeie ding.