Só bespiegel ek vanmiddag terwyl my hygende, swetende dogter saam met ’n bondel sesjariges die pylvak van die 800 m landloop aandurf.

Franse skole steur hulle nie veel aan sport nie. Die skooldag is lank, die akademiese standaard is hoog, die kinders kry van graad 1 af elke dag huiswerk - daar is net nie genoeg ure in die dag om boonop agter balle aan te hardloop nie. As jy ’n sport wil beoefen, doen jy dit van kleins af by ’n klub eerder as by die skool. En omdat die keuse so oorweldigend is - allerlei eksotiese bedrywighede soos sweefstoktoertjies of kransklim of hip-hop-dans word ook as sport beskou - doen baie kinders elke jaar iets anders. My seun, in sy agtste skooljaar, trek al by sy sesde klub. Van basketbal en sokker tot haikido en hengel, noem maar op, ons was al daar.

En as ek sê “ons”, bedoel ek hy én ek. Aangesien die skole glad nie betrokke is nie, moet die ouer self al die rondryery doen, al die toerusting koop, en taamlik gereeld mislukte terte en lelike almanakke koop om die klubs met geldinsamelings te help.

Toe ek op skool was, kon ek kies tussen atletiek, swem, tennis, netbal en hokkie. Dis al. Sekere sportsoorte, soos netbal of krieket, was bestem vir sekere geslagte, en daar was net mooi niks wat jy daaraan kon doen nie.

Stel jou dus voor hoe verbaas ek was toe my dogter my vanjaar meedeel dat sy by ons dorp se sokkerklub wil aansluit om saam met Paul en Valentin sokker te speel. Ek het niks teen sokker nie, moes ek stamel, maar Paul en Valentin is tog ... seuns? Soos al die ander lede van die plaaslike sokkerklub?

G’n probleem nie, het Mia my verseker, sy hóú van seuns. Hoe verduidelik jy vir jou sesjarige dogter, op ’n mooi manier, dat die seuns waarvan sy so hou miskien nie ’n meisie in hul klub wil hê nie? Ek het sidderend teruggedink aan my eie skooldae, toe ’n meisie in die rugbyspan omtrent so welkom soos ’n varktjop in Mekka sou wees. Maar Mia het aangehou tot sy haar sin gekry het. Die afrigter het haar geamuseerd dog geesdriftig verwelkom. En nou speel my rebelse dogter elke week doelwagter saam met ’n spul rowwe seuntjies op ’n modderige grasveld terwyl haar meisiemaats balletklasse bywoon.

Ek moet erken ek sou verkies het as sy ook in die balletklas was. Dit pas beter by my droombeeld van ’n dogtertjie. En tog is ek ook onbehoorlik trots dat my dogter haar so min steur aan die seksistiese tradisies waarmee ek grootgeword het. We’ve come a long way, baby, dink ek elke Woensdag as ek my modderige sokkerspeler se lang blonde hare tussen die borselkoppies om haar sien wapper.

Vanmiddag moes ek egter die enigste interskole-byeenkoms van die jaar bywoon. G’n wegkomkans nie. Een keer per jaar organiseer ’n klompie laerskole in ons omgewing ’n landloop in ’n bos rondom ’n eeue oue kasteel. Waarom dit altyd in die hart van die winter moet geskied, weet nugter. Die ysige mistralwind laat die affêre meer soos ’n strafkamp as ’n sportbyeenkoms voel. Vir die uitgeputte kinders wat teen die wind moet hardloop én vir die verkluimde ouers wat in die donker bos staan en juig.

Die versoeking was dus groot om nie daar te wees nie. My verskonings was klaar uitgedink - slegte verkoue, rubriek wat vir SARIE geskryf moet word, alles die heilige waarheid - maar toe my dogter vanoggend aan die ontbyttafel vir die derde keer vra of ek nie dalk sal kan kom nie, het ek besef plig is plig.

Gelukkig kan plig soms tog in plesier verander word. Die vreugde op Mia se gesig toe sy my tussen die ander ouers bespeur, het my hart so warm gemaak dat ek skoon van die wind vergeet het. En toe die sesjariges om daardie laaste draai kom, toe juig en gil en klap ek hande soos ouers oral in die wêreld mos maar maak as hul kinders aan sport deelneem.

En snaaks, toe voel dit skielik presies nes skoolsport in my sonnige geboorteland - al sou die Middeleeuse kasteel ietwat onvanpas gelyk het op enige Suid-Afrikaanse dorp.