Die eiland is ’n skamele 293 km² groot. Tog het jy baie tyd nodig om alles te sien. Die Kek Lok Si-tempel was die hoogtepunt van my besoek. Dis die grootste Boeddhistiese tempel in Suidoos-Asië en word as ’n argitektoniese wonder beskou. 

Kek Lok Si Tempel van die straat af. Boeddhabeeldjies in die muur.
Kek Lok Si gesien van die straat af. Boeddha-beeldjies in die muur.

Bouwerk het reeds in 1893 begin. Die tempelmure is versier met klein inhammetjies waarin Boeddha- beeldjies met ’n klein liggie daarby sit. Die sewe verdieping hoë hoofpagoda, ook genoem die Pagoda van 10 000 Boeddhas, is in 1930 voltooi.  Dit het ’n Chinese agtkantige voetstuk, ’n Thaise middelbasis en ’n Birmaanse koepeldak.  In 2002 is ’n Kuan Yin-bronsbeeld van oor die 30 meter, beter bekend as die “Godin van genade”, opgerig. Tussen die jare 2005 en 2009 is drie versierde afdakke aangebring. Dit bestaan uit 16 pilare waarop draakfigure en ander motiewe uitgekerf is.

Ek het ook  die Khoo Kongsi-huis in die oudste gedeelte van Georgetown besoek. Dis gebou in die kenmerkende styl van al die clan-huise in Penang. Dit het fyn kerfwerk en vele ornamentele houtdwarsbalke wat destyds deur die beste vakmanne in China gemaak is. Die rooi teëldak is versier met uitgekerfde drake en ander mistieke figure en karakters. Die unieke gebouekompleks is ’n vermenging van Suid-Fidjiaanse en Anglo-Indiese boustyle en bestaan uit die Leong San Tong-huis, ’n administratiewe gebou, ’n ontvangslokaal, kantore, ’n opera-verhoog, asook 62 terras-eenhede vir die gebruik van huise en winkels. 

Vooraansig van Khoo Kongsi tempel. Mure in die Khoo Kongsi tempel
Die vooraansig van die Khoo Kongsi-huis. Ryklik versierde mure in die Khoo Kongsi-huis.

In die 17e eeu het die voorvaders van die Khoo Kongsi-clan China verlaat en hulself as handelaars kom vestig in Penang en Malakka.  Die kompleks is destyds vergelyk met ’n miniatuur-dorpie. Dit het sowat 200 jaar later ’n selfgeadministreerde regering gehad, met opvoedkundige, finansiële en ander organisasies. Ongelukkig het die kompleks in 1894 afgebrand en is ’n kleiner weergawe in 1902 op dieselfde plek opgerig. Die fliek Anna and the King is hier verfilm.

Die Armeense Straat (Armenian Street) is in die hart van Georgetown en daar is baie plekke met historiese waarde langs dié straat. G’n wonder dit is deel van UNESCO se Wêrelderfenisgebied nie. Dit was eers bekend as Malay Lane omdat baie Maleisiërs hulle hier gevestig het. Besighede het ontstaan en daar is ’n besondere mooi moskee in die omgewing gebou. Met die aanbreek van die 19de eeu het baie Armeniërs hul intrek hier geneem en sodoende is die straatnaam verander. Ook hulle het in 1822 ’n eie kerk gebou, die Armeense Kerk van St. Gregory. Die kerk is honderd jaar later gesloop omdat die Armeniërs die gebied begin verlaat het. 

Armeniese straattoneel 'n Riksja voor 'n huis
’n Toneel in die Armeense Straat. ’n Riksja staan voor ’n huis.
 Die Yap Kongsi tempel  Amelie eetplek
 Yap Kongsi-tempel
 Amelie, ’n gesellige eetplek in die straat.

 

Mettertyd het al hoe meer Chinese handelaars  ingetrek en toe het die straat se voorkoms verander om by die Chinese invloede aan te pas.  Die clans wat steeds in die gemeenskap gewoon het, het die Chinese geloofspraktyk aangeneem en byeenkomste is in die tempels Khoo Kongsi, Cheah Kongsi en Yap Kongsi gehou. Die handelaars van daardie tyd het welvaart na die gebied gebring. Hier is ook heelwat oornaggeriewe en ’n verskeidenheid eetplekke soos ’n Switserse herberg en Amelie, ’n klein en snoesige eetplekkie.

Die oudste tempel dateer uit 1805. Die Dharmikarama Birmaanse Boeddhistiese tempel het in elke hoek ’n afbeelding van Boeddha in verskillende meditasie-posisies. Daar is mooi muurskilderye van sy tog as prins Siddharta tot voor hy lord Boeddha geword het. Aan die kant van die tempel staan twee Panca Rupa-beelde wat waak oor ’n replika van die aardbol. Daar word geglo hierdie mistieke wesens is die heersers van water, land en lug. Elkeen het die kop van ’n leeu, met ’n slurp soortgelyk aan dié van ’n olifant, die lyf van ’n vis, vlerke van die mistieke figuur Garuda, ore en hoewe van ’n perd, en horings van ’n jong takbok.

Die "bewakers van die aarde." Detail van die muur in Dharmikarama tempel
Die beelde voor die tempel. Die muurversierings is die ene detail.

Die Chayamangkalaram-tempel is gebou op ’n stuk grond wat koningin Victoria in 1845 aan die Thai-gemeenskap geskenk het. Dis nou in ’n moderne Thai- Boeddhistiese styl nadat verskeie verbouings aangebring is. Die tempel huisves ’n Slapende Boeddha, Pra Buddhachaiya Mongkul, wat in 1958 gebou is ter herdenking van sy 2 500ste verjaardag. Dis glo een van die langste slapende Boeddhas ter wêreld, met ’n lengte van 33 meter. Die dood van Boeddha word hierdeur uitgebeeld en dit simboliseer volmaakte vrede en verlossing van die wêreld en sy sorge. Die Slapende Boeddha lê op sy regtersy met sy kop rustend in sy handpalms.

Slapende Boeddha Die Slapende Boeddha is 33m lank.

Die vloerteëls verteenwoordig lotusblomme, ’n kragtige simbool in dié geloof. Die binnekant van die tempel is versier met uitbeeldings van Boeddha wat oortrek is met goue foeliepapier. Teen die mure is skilderye van Boeddha deur bekende Thaise kunstenaars.

Dié besoek is ’n belewenis wat ek nie maklik sal vergeet nie. Daar is nog soveel om te sien en daarvoor het ek meer tyd nodig.

Groete tot volgende keer.

Tjaart