Vir my was “kardoes” en “karnuffel” nog altyd in daardie knop-in-die-keel-liga. En “skuinslê”, mymer ek gister terwyl ek ’n laaste sin op my rekenaar probeer regdokter voordat ek my middagslapie aanpak. Watter wonderwerk van ’n woord! (En ’n daad!) ’n Wonderbaarlike woord om ’n wonderbaarlike daad te beskryf.

Want as daar één Mediterreense gewoonte is (benewens om met olyfolie te kook) wat ek hartstogtelik bewonder en geesdriftig aangegryp het, is dit die goeie ou middagslapie. La sieste, soos die Franse hier in die suide dit noem - al doen die meeste van hulle dit nog net oor naweke. ’n Daaglikse sieste is nou eenmaal nie deel van die meeste groot maatskappye en bedrywige sakemanne se beleid nie. Tog jammer.

Weet hulle wat hulle mis? wonder ek terwyl ek op my bed lê en luister na die geluide in die straat. Op die kliptrap van die Middeleeuse abdy oorkant die straat klets ’n poetsvrou met ’n ouma wat soos ’n bondel wasgoed by ’n venster uithang, iewers speel ’n snerts popmusiek oor ’n radio, twee huise verder blaf die Amerikaanse buurman se stylvolle hond op sy stylvolle manier . . .

En dan skrik ek wakker, skaars ’n halfuur later, uitgerus en helder van gees en gereed vir die volgende werkskof. Want die geheim van ’n goeie sieste is dat dit kort en kragtig moet wees, nie lank en lusteloos nie. ’n Middagslapie, soos Franse parfuum, moet bietjie-bietjie benut word.

Altans, dis hoe ek my man aanmekaar moet vermaan. Ironies dat hy, ondanks sy Franse geboortereg, veel slegter as ek vaar met la sieste. Dis nie dat hy teen die gewoonte gekant is nie. Inteendeel, hy is gek daaroor, maar omdat hy nie soos ek by die huis werk waar hy daagliks die tradisie kan handhaaf nie, is hy geneig om dit te ver te voer wanneer hy wel die kans kry.

Gedurende somervakansies bring hy soms die ganse middag sluimerend in die slaapkamer deur - en gevolglik die ganse nag helder wakker voor die TV in die sitkamer. Die volgende dag is hy so uitgeput en buierig - sy normale slaappatroon omvergegooi, sy bioritme versteur - dat hy nie kan wag vir sy middagslapie nie. Wat hy dan natuurlik wéér te lank uitrek . . .

Dís wanneer ek wens daar was ’n vertaling vir die sprekende Afrikaanse skuinslê. Dan sou ek die saak mos mooi kon verduidelik: “Smiddags moet jy skuinslê; snags moet jy platlê.” Of: “Al wat jy moet doen, my liewe man, is om ’n uiltjie te knip.”

“Uiltjie knip” is amper so manjifiek soos “skuinslê” - en helaas net so onmoontlik om in Frans te vertaal.

Dikwels gee ek gewoon die stryd gewonne. As my man dan nie kan verstaan wat dit beteken om ’n uiltjie te knip nie, is dit seker sy probleem? Mý enigste probleem met la sieste is die verdomde Calvinistiese skuldlas wat ek nie kan afskud nie. Sê nou net ’n buurvrou kom klop aan die voordeur en tref my rustend op my bed aan pleks van regop voor my rekenaar? Die meeste mense op die dorp glo hoeka nie eintlik die storie dat ek ’n skrywer is nie. Ek hoor al hoe vertel madame Voisine vir almal in die omtrek dat ek ’n lui en swak huisvrou is wat smiddags lê en slaap . . .

Dié dat ek so uitbundig verlig was toe ek onlangs in SARIE lees dat ’n middagslapie goed kan wees vir my. Nie net vir my gesondheid nie (dit het ek nog altyd instinktief aangevoel; verminder klaarblyklik stres en die risiko op hartsiektes), maar sowaar ook vir my werk as skrywer. ’n Sieste kan glo my vermoë verbeter om aandag aan detail te gee. (Soos in watter karakter in watter toneel watter kleur rok dra?) En om belangrike besluite te neem. (Soos of daardie karakter in die volgende toneel dieselfde kleur rok gaan dra?)

Dink net. Dís mos die soort verskoning wat ek al jare lank soek om sonder skuldgevoel te gaan skuinslê!