Ter plesiering van EEN persoon maak jy so:

5 rou garnale in hulle doppe (hoef nie Leviathans te wees nie)

'n gekapte rooi brandrissie of net 'n stukkie as jy bang is

'n knoffelhuisie

15ml gekapte platblaarpietersielie

2ml Khoisansout

20ml olyfolie

'n skeut vars suurlemoensap (ek skat 5ml)

2 handevol blare (ek hou van botterslaai en bronkors)

30ml fyngesnyde wortelstokkies (julienne)

30ml fyngesnyde rou beetstokkies (ook julienne)

3 skyfies of sirkeltjies van 'n lekker brood met gate en baie olie en goeters

30ml botter

3 stukkies Bocconcini (jy kan ookChevre of Labneh gebruik)

7 mooi ronde Makadamianeute

3cm stukkie gepreserveerde suurlemoen, in klein blokkies gesny

Makadamia-olie

Dop die garnale af en meng hulle liggies met die brandrissie, knoffel (nou vermorsel), pietersielie, sout en olyfolie. Bedek die bakkie met kleefplastiek en sit in die yskas terwyl jy die res van die slaai maak.

Was en droog die blare en meng die helfde van die wortel- en beetstokkies met jou hande in die blare in. Sit dit in 'n hopie op 'n mooi bord. Verhit die botter in 'n pannetjie en rol die neute daarin tot jy hulle kan ruik. Hou eenkant. In dieselfde pannetjie, braai gou die broodsnytjies tot hulle bros is. Hou eenkant. Kry die garnale en braai hulle ook in daai pannetjie tot hulle pienk en gekrul is.

Roep die kunstenaar in jou en rangskik die garnale, broodjies, neute en kaas op en om die slaaihopie.

Meng die orige groentestokkies met die gepreserveerde suurlemoen en sprinkel bo-oor die gedoente.

'n Paar druppels Makadamia-olie rond die dis af. Jy kan dalk ekstra Khoisansout op die tafel hê.

Sien ander resepte