’n Engelse skoolmeisie, ene Alexandra (17), het op ’n dag in 1991 verslaap, die roosterbrood verbrand, en toe sukkel sy met haar hare. Haar verduideliking omdat sy laat was: “Slegte haredag.”

Ander bronne sê die uitdrukking kom uit die 1992-rolprent Buffy the vampire slayer, toe Buffy teenoor die vampier met die een arm opmerk: “I’m fine, but you’re obviously having a bad hair day.”

Die Oxford-woordeboek sê ’n Amerikaanse rubriekskrywer (Susan Swartz) het dit in 1988 in die Houston Cronicle gebruik. Of dit was Snoopy se skuld - Charles M. Schultz het reeds in 1962 ’n strokiesprent geteken onder die opskrif: “Violet’s Bad Hair Day.”

Terwyl enige vrou vir jou sal sê ’n slegte haredag is so oud soos die berge. En sedertdien hou ’n vrou se probleme nie op nie, nè? Als loop altyd verkeerd, sy’t ’n Toyota nodig.

“Ek stel nie belang wáár die uitdrukking vandaan kom nie. Ek sit hier met die gevolge!” sê sy.

Want die krag is af. Eskom se skuld. Sy kan nie haar haardroër gebruik nie.

“Hoekom gebeur dit altyd dié tyd van die oggend?” vra sy. “Hoekom kan hulle nie wag tot ’n mens eers by die werk is nie?” (Waar die hysbakke ook nie werk nie.) Sy oorweeg dit om haar haardroër saam te vat werk toe. Iewers is daar hopelik ’n kragprop met noodkrag. Maar hoe om agterom die gebou in te glip dat niemand haar sien nie? ’n Modieuse hoed, maar sy’t nie ’n modieuse hoed nie, net ’n tuinhoed, wat soos ’n omgevalle blaar lyk.

Dan liewer babapoeier. Dit werk so: Jy was nie jou hare nie, jy vryf net die poeier in, dit absorbeer die olie en jou hare lyk heel aanvaarbaar en ruik lekker. (Onthou net: Dit werk goed vir blondines, maar dit kan jou vaal laat lyk as jy donker hare het. En dit werk glad nie as jou hare klaar nat is nie.)

Party vroue probeer selfs hul hare by die motor se lugverkoeling droogmaak, full blast.

“Jou hare lyk nogal mooi so nat en deurmekaar,” sê jy.

“Dis presies hoe ek voel!”

Nat en deurmekaar? Die ergste is as hierdie kombinasie van enersyds nat en terselfdertyd deurmekaar gekombineer word met ... PMS. Dit kan dodelik wees.

“Los my net uit, man!” beveel sy. En jy’t nie eens aan haar geraak nie. Sy maak haar hare styf agteroor op haar kop vas, báie styf, haar oë trek Chinees.

“Het jy geweet?” vra jy. “Hulle’t ’n geen ontdek wat hare beheer. Dis nie jou skuld nie.”

“Wat?”

“Hulle noem dit die Frizzled 6-geen.” Dis hoekom party mense woeste wenkbroue het en ander opslaan-krulle op die voorkop. (Volgens sjampoe-advertensies moet jy net die regte sjampoe gebruik.) Die navorsing is nogal by die Johns Hopkins-universiteit in Maryland gedoen. En hoewel die geen in muise ontdek is, reken die navorsers dit behoort by mense ook so te werk.

“Whatever,” sê sy. “As dit vir muise geld, geld dit vanselfsprekend vir mans. En ek gaan nie vandag werk toe nie!” kondig sy aan terwyl sy die krulle op haar voorkop bo-oor haar onderlip wegblaas.

“Omdat jou háre nat is?” Teen dié tyd het die punte begin droog word - en dit staan in rigtings. Sy lyk vir haarself soos ’n vampier en sy voel frizzled, glad nie fine nie.

Skielik hoor jy harde musiek en al die ligte in die huis gaan aan, dis soos ’n disko wat vinnig oorwaai. A! sê jy.

“Móét jy jou musiek so hard speel?” vra sy. Jy sit als af en die ketel aan. Daar’s nog tyd vir koffie en roosterbrood - en om haar hare droog te blaas.

PS: Maar wees vroegtydig gewaarsku: 6 Desember is Internasionale Slegte Haredag. In Amerika