Peter Primich het meer as 10 000 km in Suid-Afrika gereis om meer te leer oor ons land se koffie kultuur.

Op hierdie reis het hy ook probeer uitvind watter koffiewinkels in die land die beste brousel bedien. Dis fassinerend om saam met hom dieper te delf in die geskiedenis van dié drankie wat deesdae ontwikkel het tot ’n hele ritueel van moet's en moenie's. Hoe jy jou koffie drink, sê baie meer oor jou as wat jy dink!

In sy boek, Coffee Culture: The South African Coffee-lover’s Bible (Map Studio, R125) gee hy ’n bondige geskiedenis van koffie, die verskillende variëteite koffie en waar dit voorkom, waarna mens moet op let as jy koffiebone koop, die verskillende prosesse van hoe koffie gemaak word en watter toerusting mens benodig. Hy verduidelik ook hoe koffie smaak wat deur verskillende prossese voorberei word. Primich het ’n onderhoudende skryfstyl en gee baie interessante koffie trivia, soos Finland is die grootste verbruiker van koffie in kg per kapita, daarna volg Swede, Noorweë en Nederland. Mens sou dink Italië behoort nommer-1 op die lysie te wees, want so baie van ons koffie kultuur het ons juis oorgeërf by dié nasie.

Die laaste twee derdes van die boek neem jou op ’n reis deur 250 van Suid-Afrika se koffiewinkels en Primich het elkeen beoordeel volgens die maatstawwe van die World Barista Championships. Ek het onmiddellik nageslaan om te sien hoe my gunsteling-uithangplekke gevaar het! Die handige boek moet sommer in jou motor bly wanneer jy deur die land reis, sodat jy vinnig die beste koffiewinkel kan opspoor om jou lus vir die verslawende drankie te bevredig. Ek het per e-pos met die skrywer gesels oor koffie.

Wanneer en hoe het jou liefdesverhouding met koffie begin?

Reeds in my kinderjare. Toe ek vyfjaar oud was, het my pa altyd vir my Turkse koffie met melk gemaak. Later het ek deur ’n donker periode gegaan waar ek net kistkoffie gedrink het, en uiteindelik gegradueer het tot Nescafé. Op hoërskool het ek vir die eerste keer cappuccino en espresso geproe. Dit was soos ’n openbaring. Ek het bus gery na die middestad van Johannesburg vir cappuccino by die Brazilian Coffeeshop en espresso by L’Edicola.

As volwassene het ek ’n klein espresso-masjien vir my huis aangeskaf. ’n Vriend het later vir my ’n beker gegee om melk mee te stoom, omdat hy geleer het hoe om melkskuim te maak en om latte-kuns te skink. Ek was dadelik ’n gevangene van my derde koffiebrander!

Ek het aangesluit by ’n groep koffie-junkies, die Barista Underground wat gestig was deur John Brinkman en Trevor Ou Tim. Dit was groot pret en daar het ek het so baie geleer. Ek het uitgevind daar bestaan iets soos koffie-kompetisies regoor die wêreld en ek kon nie wag om een by te woon nie. By dié kompetisie het ek ’n paar professionele baristas ontmoet. Ek het ook so veel koffie-geleenthede as moontlik bygewoon om meer te leer sodat ek beter koffie kan maak.

Ek het ook ’n paar barista-kursusse by Wayne Burrows gedoen, hy was die eerste kampioen barista van die Eastern African Fine Coffees Association (EAFCA). Verlede jaar was ek gelukkig genoeg om ’n Green Bean-opleidingskursus aangebied deur Jeremy Wakeford (’n legende in koffie) en georganiseer deur Seven Oakes (koffie-invoerders en groothandelaars) by te woon. Ek het ook begin om barista-kompetisies te beoordeel. My liefde vir koffie bly net groei soos wat ek meer leer.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Waarom wou jy ’n boek oor koffie skryf?

Dis maklik, ek is gevra om die boek te skryf. Map Studio het my geskakel en gesê hulle dink daaraan om ’n boek oor koffie uit te gee en het gevra of ek hulle daarmee kan help. Ek het onmiddellik ja gesê, omdat ek reeds meeste van die mense in die bedryf ken en hulle aan mekaar kon voorstel.’n Paar weke later het hulle teruggeskakel en gevra of ek die boek sal skryf! Ek was opgewonde, maar het voorbehoude gehad, want ek het nog nooit voorheen ’n boek geskryf nie en beskou myself glad nie as ’n skrywer nie.

Wat was die interessantse ding wat jy oor koffie geleer het?

Ek het ’n tydjie terug gehoor dat koffie verantwoordelik was vir die Franse Rewolusie! ’n Ander interessante ding wat ek ontdek het: Ons weet die vrugte van die koffieboom is eerste geëet in Ethiopië (volgens legende het ’n bokwagter, Kaldi, opgelet sy bokke was baie lewendiger nadat hulle die vruggies geëet het), maar die plant se oorsprong is eintlik verder wes in Kameroen.

Maak jy jou eie koffie tuis en watter proses verkies jy?

Natuurlik! Dis die beste deel van my dag, dis my oggend meditasie. Ek maak ’n koffie met ’n espresso-basis, iets tussen ’n flat white en ’n latte. Koffie gaan vir my oor die verhouding tussen koffie, water en melk. Hierdie koffie proe heerlik in die grootte koppies wat ons by die huis het, al is dit nie ’n erkende drankie nie.

Het jy ’n gunsteling-koffiewinkel?

Nou vra jy my ’n ding! As jy gaan op waar ek al die meeste koffie gedrink het, moet ek antwoord dis my huis. Daar is soveel koffiewinkels wat die heeltyd oopmaak dat dit moeilik is te om een as ’n gunsteling uit te sonder.

Hoeveel koffie drink jy gemiddeld per dag?

So tussen drie en ses dubbel shots per dag. Dis dikwels meer, maar nooit minder nie.

Hoe lank het dit gevat om hierdie boek te voltooi?

Die boek het ongeveer drie en ’n half maande geneem om te skryf en te redigeer. Ek het meer as 10 000 km kruis en dwars oor Suid-Afrika gereis. Ek het 250 café’s besoek en die idee was om net die koffiewinkels in die boek te noem wat goed tot uitstekend is. Die ontwerpers en redakteurs by Map Studio het nog ’n verdere twee maande aan die kaarte en infografika gewerk. Dit was die vinnigste wat hulle al ’n boek aanmekaar gesit het, maar dis steeds van hoogstaande gehalte.