Die nadeel is glo dat ’n suisende gholfbal soms op haar agterste patio beland wat teen die vleisbraaiplek spat. Die voordeel is dat sy vrylik op die gholfbaan kan gaan stap, veral wanneer die son sak.

“Want die sonsondergang oor die Magaliesberge is iets om elke aand te beleef. Dit word ’n towerwêreld.”

Ek kan dit glo. Ons is laatmiddag daar weg en die son was aan die water trek. Die lug het reeds ’n koperagtige kwaliteit gehad met ’n gefluisterde belofte van ’n helder winteraand langs die dam en die groen strepe skoonveld.

Nogal iets om te beleef, want in Johannesburg gaan die son nie onder nie. Dit verdwyn sommer net. In die woorde van die digter Quasimodo: “En skielik is dit aand.”

Daar is ’n plekkie in Oostenryk genaamd Hallstadt aan die Hallstädtersee in die berg-en-meer-distrik van die Salzkammergut naby Salzburg. Bokant dié dorp het ek een middag op die berg ’n toneel aanskou van stil water en hoë bergspitse met hul skaduwees in ’n son wat ondergaan - ’n belewenis wat ek nou nog soos ’n stemmingsfoto in my geheue bewaar. Daar was sneeu op die hoogste toppe en die son het letterlik “strale” gemaak wat van die kim geskiet het. Presies dáár het dit gelyk asof die lig vlammend uit die sneeu brand sonder dat die sneeu verdwyn, byna soos God se verskyning by ’n braambos in die woestyn. En ek het by myself gewonder: Is daar iewers aangrypender natuurskoon?

Ek is ’n sonmens. In mistige wêrelddele waar dit aanhou reën, sal ek nie aard nie. Soos Richard die Leeuehart sou ek ’n son op my skild vir die geveg laat verf het. En soos Richard in die beroemde heldesang sou ek gedurig bewus gewees het dat die son elke aand gereeld verdwyn. Naas die les dat alles tot ’n einde kom, is daar ook ’n skoonheid in: Die skoonheid van lewe en lig en van verganklikheid en tydelikheid.

Op die eiland Key West, die laaste van die stringetjie eilande aan die kus van Florida, daar waar die skrywer Hemingway gewoon het, is sonsondergang ’n hele ritueel. By die klein hawe gaan sit een ou elke agtermiddag hoog op ’n paal en namate die son sak, lewer hy kommentaar totdat dit oor die baai verdwyn.

Dis die teken dat die partytjie moet begin! Want daar is die aand l-á-á-ánk, die mense mooi en die drinkgoed volop. Op so ’n middag het ek op ’n skuit by dié baaitjie uitgevaar. Die son was net sowat ’n kwartier bokant die louwarm Karibiese See. Iemand het begin kitaar speel. ’n Pragtige meisie (ongelukkig geseën met die lag van ’n man) het vrolik sjampanje geskink. En ek het letterlik gevoel hoe my stresvlakke daal (ek was op pad na ’n konferensie in Washington). Toe die kitaarspel ophou, het almal vreemd stil geword soos Wordsworth dig: It is a beautuous evening, calm and free: / The holy time is quiet as a nun / Breathless with adoration.

Toe doen ons dit weer een middag op die lieflike eiland Santorini in die Middellandse See: Uit met ’n seilboot na die vulkaan en toe verder om die son oor die see te sien sak. Wat ’n ontsaglike wonderwerk! Wat ’n skouspel van die skepping! Daar is ’n stadjie Oia op die eiland, die huisies as ’t ware teen die rotswande ingebou: Daar skyn die son op die middag soos ’n goddelike krag en verdwyn saans met ’n towervuur oor die sagte golwe. Vir my is daardie eiland waarskynlik die mooiste plek op aarde - en dis eintlik die produk van groot natuurrampe, geweldige aardbewings so onlangs as die jare sestig, en tsoenami’s vanaf die vroegste tye.

Want van die skoonste ervarings en herinneringe is ook ietwat hartseer dinge. Van die aangrypendste tonele het iewers ’n geskiedenis van ’n ramp. Die sonsondergang het ’n blydskap soos die ou wat roep in Key West, en ’n element van dankbare aanbidding vir die kosmiese ervaring van die seën van ’n dag, van die verbygaan van smart - en dat God die son weer sal laat skyn. En weer sal laat ondergaan.