uMama: Recollections of South African mothers and grandmothers, saamgestel deur Marion Klem (Umuzi, R150)
Party van hulle was voltyds ma en ouma. Ander het deeltyds gewerk, ander voldag. Hulle almal het twee dinge gemeen. Die eerste is: Hul kinders is almal in die openbare oog. En die tweede: Hulle het ‘n besliste invloed op die lewens en emosies van hul kinders. In dié boek skryf 40 bekende "kinders" oor hul ma's en oumas. Hulle sluit in Chris Chameleon, Desmond Tutu, Antjie Krog, Pam Golding, Trevor Manuel en Pieter-Dirk Uys. Die stories is uiteenlopend, maar in almal voel jy die onderliggende liefde en band wat die ma's en kinders ewig bind.

Irreverent mothers' The irreverent mothers' handbook, Sam Cowen en Lee van Loggerenberg (Oshun, R149,95)
‘n Boek oor alle aspekte van moederskap, van swangerskap, die vanselfsprekende oggendnaarheid, geboorte, na-geboorte depressie en enigiets wat enigsins verband hou met die onderwerp van ma-wees. Cowen en Van Loggerenberg skryf tong-in-die-kies en humoristies oor moederskap, aangevul deur bydraes van kundiges. Vrae word eerlik beantwoord en dit help om die boek ‘n gids vir nuwe en bestaande ma's te maak.
Working mother The secret world of the working mother, Fiona Millar (Vermilion, R240)
Millar is self ‘n werkende ma wat ‘n balanseertoertjie doen tussen haar beroep, kinders en kop-bymekaarhou. In die boek ondersoek sy die dilemma van beroepsma's teenoor tuisbly-ma's. Sy praat met ‘n verskeidenheid van vroue uit altwee wêrelde oor hoe hulle dinge hanteer. Al die vroue se stories dra by om dit ‘n baie insiggewende studie oor die onderwerp te maak.
Vroue Gesondheidsgids Omvattende Vrouegesondheidsgids, Dr. Linda Friedland (Tafelberg, R250)
Die gids is ‘n moet vir elke vrou. Dit dek elke moontlike aspek van vrouegesondheid reg deur jou lewe. In verstaanbare en toeganklike styl word die verskillende lewensfases, hormonale gesondheid, die belangrikste gesondheidsgevare, algemene mediese toestande, teenverouderingstrategieë, plastiese chirurgie, gereelde ondersoeke en prosedures en vrae aan jou dokter bespreek. Die boek sal jou bystaan om die regte keuses oor jou gesondheid te maak.
Women & Wealth Women & Wealth, Jacques Magliolo (Oshun, R139,95)
Die boek begin met die basiese beginsels van finansiële beplanning en lei jou dan verder tot jy ‘n volledige stel einddoele het waarvolgens jy self jou finansiële welstand kan beplan. Dit gee riglyne vir al die potensiële foute wat jy kan maak en waarsku teen slaggate wat jy moet vermy. Die belangrikste boodskap is dat jy as vrou verantwoordelikheid moet neem vir jou eie finansiële onafhanklikheid, selfs in ‘n verhouding, en dat jy deel moet wees van die beplanning met die neem van ingeligte besluite. ‘n Praktiese gids met eenvoudige en verstaanbare raad.