Ek hou van gerief. ’n Warm bord kos, bad en bed. In daardie volgorde. Dan ’n boeiende boek, goeie musiek, ’n aangrypende fliek. Hoekom jouself martel met ’n staptog in die boendoes? Die skrywer Johan Bakkes antwoord: “As jy nie weet nie, sal jy nie verstaan nie. Ás jy geweet het, sou jy nie gevra het nie. As ek daai stewels aantrek en die swaar rugsak maak hom deel van my, dan verander my persoonlikheid toetentaal. Daar kom so ’n bullet proof-gevoelte oor my, want ek gaan nou plekke sien en beleef wat jy net per voet en met bloedsweet kan ervaar.“ Esma le Roux, joernalis van die buitelug-tydskrif Weg!, sê Suid-Afrikaners het nog ’n bietjie van ’n pioniersgees, wat ons destyds oor berge en die oopsee gedryf het. “Die son is ons horlosie, die bergstroom ons bad, die bos ons heiligdom.“ Iemand het eenkeer gesê: “As jy kreatief wil wees, gaan stap. Engele fluister vir stappers.“ Laat die stappers dan self verduidelik . . .

‘Maanlig-stap is opwindend!’
Jo-Ann Strauss, TV-aanbieder van SABC3 se joernaalprogram Top Billing en Mej. SA in 2000

“My stap-repertoire is beperk tot Leeukop in Kaapstad.“ Onlangs het sy en haar kêrel in Toskane, Italië, truffels gaan uitsnuffel in ’n feetjiemooi-woud. “Dít was nou ’n stappery van ’n ander aard. Ons het soos locals gevoel, en een met die natuur.“ Charlene Truter (aanbieder van Pasella op SABC2) is haar stapmaat in Kaapstad. “Ek het Leeukop die eerste keer in 2003 in 45 minute uitgestap. Toe ek onder kom, was ek honger en gereed vir eiers en spek. Glád nie skaam vir my reuse-aptyt nie,” sê Jo-Ann. Sy hou daarvan om teen sonsondergang bo-op die berg te wees. “Omdat die Kaap se sonsondergange daagliks verskil, voel ’n mens Kaapstad is jóú stad. Jy voel die berg gee jou ’n drukkie. ‘Moederstad’ kry nuwe betekenis.” Sy het al piekniek op die berg gehou en vonkelwyn gedrink. “Gewoonlik neem mense water, vrugte en energiestafies saam. Ek stap met goeie stapstewels,’n langbroek, langmoukleefhemp en ’n trui om die heupe.“ Maanlig-stap is opwindend. “Moet net nie, soos ek en my kêrel een keer, ’n flits vergeet nie. Dis gevaarlik. Gelukkig het ons op studente met flitse en kopligte afgekom wat ons begelei het.“ Jo-Ann sal nooit alleen teen Leeukop uitklim nie. “Dis te gevaarlik.“ Haar gunsteling-staptyd is soggens vroeg, voor dit te warm word. “Dis so lekker om daar bo te besef jou lyf is letterlik in staat tot groot hoogtes.“

Lees ook

Staproetes in Suid-Afrika, Willie en Sandra Olivier (Struik, R169,95)

 

‘Dit maak jou siel oop’
Johan Bakkes, skrywer, professor in rekeningkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland en Mondi-wenner

Hy loop op plekke wat woes en leeg is, waar motors nie kan kom nie. Johannes die Loper. “’n Staptog is vir my dít wat jy op jou rug kan saamdra in die natuur. En as jy anderkant uitkom, dan kan jy sê: Nou het ek die Skepping beleef soos hy oorspronklik bedoel is. Daarom kry die klein dingetjies soos ’n koue bier weer betekenis.“ Van sy lekkerste staptogte was in die Wolkberge, Sederberge, die Transkeise Wildekus, die Visrivier-skeurvallei (19 keer) in Namibië, Kilimandjaro in Tanzanië, Siemensberge in Ethiopië, die Biafo-gletser in die Pakistanse Karakoram of die Choemboe-vallei in Nepal se Himalajas. “En as dit te duur word, stap jy 300 km van Seeheim al langs die Namibiese Visrivier tot waar hy in die Oranjerivier uitmond. Of jy stap 780 km te voet vanaf Opuwo deur die harde Namib tot in Swakopmund. ’n Groot lekkerte is die Naukluftgebergtes in Namibië. Dis ’n tog van agt dae en saans slaap jy onder ’n skuiling. Hier moet jy mooi beplan om die laaste aande nog ’n blerts whiskey of twee te kan skink. Elke aand braai jy ’n vleisie. Onthou, Napoleon het gesê ’n weermag loop op sy maag, maar die ritueel van lekker eet is ’n okkasie wat die gees weer regruk vir môre se swaar. Malvalekkers gedoop in warm kakao, gestolde Visrivierwater-jellie, met ’n skoot jenewer en vla.

"Nou hoe dra jy als? Die reël: Nie meer as 25% van jou eie gewig nie. Jy’t nie klere nodig nie - net iets warms vir die aand, maar jy hét mos ’n slaapsak, vuurtjie en ’n knerts whiskey. Neem net ’n reg opgeskroefde houding saam! En brei die ou lyf bietjie voor die tyd. Vat ’n rugsak, prop hom vol bakstene en gaan loop opdraandes. Onthou, dis jou voete wat jou anderkant gaan uitkry. Sorg vir hulle, want die ergste wat enigiemand kan oorkom, is as jou voete ingee. Maak jou siel oop. Dís wat pakstap doen. Die mens se ewige behoefte aan boemel, om te sien wat lê aan die anderkant van daai bultjie, word nooit bevredig nie. Dit maak dat jy met nuwe oë na jou medemens kyk.”

‘Dis asof God aan jou gesig vat’
Ivan Zimmerman, Koert in die M-Net-sepie Egoli

Stap ontlaai sy verstand en gee hom ’n energie-inspuiting. Ivan is vir seker ’n man wat hou van die natuur en min woorde. Sy e-pos is kripties. “My gunsteling-roete is die Fanie Botha-staproete in Mpumalanga en verskeie eendag-roetes in en om Pelgrimsrus.” Hy hou ook van die natuur langs die Tuinroete en in die Drakensberge, onder meer Sentinelpiek en roetes langs die Weskus. Ivan het ’n gemaklike rugsak, goeie stapstewels en neem ekstra kouse saam. “Mense wat nie van fisieke uitdagings hou of kan oorleef op blikkieskos en in slaapsakke kan slaap nie, moet staptogte vermy.” Sy beste herinnering is aan die Drakensberge, waar hy en sy vriende ’n ongelooflike uitsig op ’n waterval gehad het. “Dit was asof God aan ons gesigte gevat het.”

Ivan in die Kogelbaai-biosfeer-reservaat.

Ivan beveel aan

"Berei altyd goed voor, wees stapfiks. Doen kardiovaskulêre oefening. Pak die regte kos in." En die ergste op 'n staptoer? "Nat kouse."

 

‘Ek gee my oor aan die natuur en myself ’
Cheryl Carolus, politikus en voorsitter van die Sanparke-raad

“Ons bring so baie tyd deur in kunsmatige ruimtes, in kantoorpakkies, en stuur e-pos die kuberruim in. In ons vrye tyd hol ons rond in winkelsentrums. Ek is ’n moderne vrou en kan my nie ’n lewe sonder tegnologie indink nie, maar soms het ek ’n behoefte aan aardsheid. “Ek wil die Skepping met al my sintuie ervaar. Om te stap help my om te ontspan. Daar is niks soos ’n steil heuwel om jou te laat fokus nie. Dit stroop my emosies tot op die been. Op ’n lang staptog is my belangrikste oorwegings: Hoe gaan ek die kruin van die berg bereik, wat gaan ek vir aandete eet en waaroor gaan ons gesels? Ek hou daarvan om gemaksones te verskuif. Dis ’n ongelooflike ‘ontdekking’ om ander spiergroepe te voel werk.”

Die natuur bekoor haar. Die klank van ’n insek, voëls. ’n Delikate doudruppel. “’n Mens verloor die kunsmatige beskermingslae wat jy opbou om in die stad te oorleef. Ek leer ken ook my ‘donkertes’ en maak my brein skoon. Soms breek ek weg van die groep om alleen te wees. Dan gee ek my oor aan die natuur en laat dit oor my spoel.”  Sy het as tiener begin stap omdat dit goedkoop vermaak was. “Ek draf gereeld, maar is nie marathon-fiks nie.  Dit help met stresontlading.“ Cheryl is dol op die Amatola-roete in die Oos-Kaap naby King William’s Town tot by Hogsback. “Lord of the Rings kon daar verfilm gewees het - misterieuse mis, ongelooflike kranse, watervalle, rotsformasies.“ Sy geniet ook die Kalkbaai-St. James-Muizenberg-roete. “My sussie en ek het vroeër buite geslaap in die grotte. Nou is dit ongelukkig te gevaarlik. Ek is dol op Tafelberg. Om ’n sonsondergang te ervaar en daarna die kabelkar ondertoe te neem. Selfone is waardevol, maar gebruik dit slegs in noodgevalle. Ek is ’n anti-selfoon-fascis in sosiale situasies en sal enigiemand berispe wat dit onnadenkend gebruik.” As sy ná ’n staptog na die “regte wêreld” terugkeer, is sy altyd ’n bietjie hartseer. Terug in haar gemaklike bed, dink sy aan hoe sy dit geniet het om op te kyk na die sterre en te luister na die naggeluide . . .