Die Stellenbosch American Express® Wynroetes het juis hierdie jaarlikse hoogtepunt wat voorheen in die wintermaande plaasgevind het, na vroeër in die jaar verskuif sodat besoekers al die unieke juwele en attraksies van dié historiese dorp en sy meer as 150 wynplase in hul volle glorie gedurende die kleurvolle somer kan geniet. Die nuwe datum vier ook die geboorte van Suid-Afrikaanse wyn, soos gestaaf deur dié inskrywing op 2 Februarie 1659 in die dagboek van ene Jan van Riebeeck: “Vandag, eer aan God, is wyn vir die eerste keer met Kaapse druiwe gemaak.” “Ons het besef dat dit sin maak om eerder ons wêreldklas wyne te vertoon gedurende ‘n tyd in die jaar wanneer alles wat Stellenbosch bied – sy natuurskoon, unieke kulturele erfenis, uitmuntende akademiese instansies en florerende wynbedryf – op hulle beste en kleurvolste is. Perfekte sonskyn dae; die gedruis van ‘n nuwe Universiteits-jaar, en die gewoel van die oes-seisoen sal alles nuwe dimensie aan die Stellenbosch Wynfees verleen. Ons deelnemende plase is opgewonde en die hele dorp is slaggereed om seker te maak dat wynliefhebbers en toeriste van regoor Suid-Afrika, en die wêreld, se grootste verwagtinge oortref sal word,” gesels Annareth Bolton, Hoof Uitvoerende Beampte van die Stellenbosch American Express ® Wynroetes. Die 2013 Stellenbosch Wynfees beloof ‘n keurspel van uiteenlopende wyn-ervarings vir geesdriftiges en wyngroentjies asook die meer ernstige wynkenners, insluitende ‘n gala-geleentheid vir liefdadigheid; ‘n liplekker tiendag promosie by meeste van die area se bekroonde restaurante; spesiale kultivar-aande, en prettige wyntoere. Sportgebeure, kunsuitstallings en musiekkonserte wat in en om die dorp tydens die fees sal plaasvind, sal besoekers deel laat voel van die beminde Stellenbosch-leefstyl. ‘n Seën van die Oes asook ‘n Oes Parade op Saterdag, 26 Januarie beloof om ‘n groot fees-trekpleister te wees, wanneer wynmakers en werkers van deelnemde Stellenbosch wynplase met ‘n karnaval atmosfeer die dorp se strate gaan rooi verf. Gedurende die week sal entoesiaste hulle eie fees-ervaring na smaak en voorkeur kan beplan deur by deelnemende restaurante te gaan aansit vir ‘n ‘Wine & Dine’ kos-en-wyn verlustiging of om by die vele wynplase te gaan aanklop vir ‘n insiggewende toer en proe. Dit alles kom tot ‘n einde tydens ‘n driedag Wyn Expo wat in die hart van die dorp sal klop met interaktiewe stalletjies en proe-programme van meer as 130 wyn- en fynproewer kosprodusente. Die Wyn Expo vind plaas vanaf 1 tot 3 Februarie op Die Braak en sal volle voordeel trek uit die pragtige omgewing met ongekunstelde tafels, groen dekor en vryvloeiende Bedouin-tente. Skemer konserte op ‘n sentrale verhoog sal die feesgangers loslit vermaak terwyl hulle die lekker kelderskatte van die streek geniet. ‘n Volledige feesgids sal vroeg in Januarie beskikbaar wees en gaan loer ook op die fees se webtuiste vir al die besonderhede oor vanjaar se feesprogram. Vir meer inligting, besoek www.stellenboschwinefestival.co.za of skakel (+27) 21 886 4310.