Met die aanloop tot die Simonsberg Wynroete Markdag, sal gesogte kelders, geleë langs die voet van die Simonsberg, eksklusiewe Woord & Wyn ervarings op Vrydag, 8 Maart aanbied, wanneer aanhangers van literêre kuns en vermaak tydens middagete die gaste van van die land se voorste skrywers en inspirerende persoonlikhede sal wees – dit alles in die geselskap van gehalte wyn. Die 2013 Woord & Wyn program bied intieme ‘woord-en-wynwisselinge’ soos ‘n ete saam met die lawwe Liz Meiring by Uitkyk; ‘n guitige kuier saam met storieman Dana Snyman by Neil Ellis Landgoed, en Stellenbosch skrywer Karin Brynard wat die kollig saam met Delheim wyne sal deel, terwyl die land se gunsteling ‘Oupa en Ouma’, Johan en Lida Botha, by Muratie stories sal vertel dat dit gons. Of jy nou ‘n boekwurm is of lees beskou as dit wat jy doen om meer uit te vind wat ‘n wynbottel op sy rugetiket verklap, is die Simonsberg Wynroete Markdag, wat by die Delvera agri-village plaasvind, jou kaartjie om die laaste druppel somerpret in die Wynlande met oorgawe te geniet. Besoekers sal kan uitsien na ‘n pretbelaaide dag met die beste wyne vanaf die roete, kontreikos, stalletjies met unieke plaaslike produkte, oestydvermaak, perderitte en musiek vermaak. Die kleinspan sal hulle gate uit geniet in die speelhoekie en sal ook met pret-karretjies, ‘n trampolien, ‘jungle gym’, en ‘n Kinderteater besig gehou word. Die Simonsberg Wynroete Markdag begin 10vm en toegang is GRATIS. Die Vine Hopper pendelbussie is ook tot gaste se diens met ritte na en vanaf Stellenbosch op die dag. Vir meer inligting oor die Simonsberg Wynroete Markdag en die Woord & Wyn ervarings, skakel die Stellenbosch American Express® Wynroetes by Tel: (021) 886 8275 of besoek www.wineroute.co.za. Kaartjies vir die onderskeie Woord & Wyn geleenthede is beskikbaar by Computicket. Sitplek by elk van hierdie unieke middagetes is beperk so maak seker jy bespreek nou jou kaartjies. Besoek ook www.woordfees.co.za vir die 2013 Woordfees program.