Dis waar ’n vrou se bene begin, dis waar sy dikwels eerste koud kry, en dis waar jy haar druk as sy pootuit is. (“Bietjie links, bietjie óp, aaa... net daar ...”)
Alles begin by haar voete. En eindig nie ver daarvandaan nie - by haar skoene.
“Ek sien jy’t ’n liddoring op jou linker-kleintoontjie.”
“Wha! Nooit! Waar?” Jy sê dit was maar net ’n grappie. Sy trek dadelik haar skoene aan, en jy’t dit nog oorweeg om haar tone (soen-soen) met jou kleintongetjie te kielie.
“Daardie skoene se punte gaan jou beslis probleme gee,” waarsku jy. “Kyk hoe gedruk sit jou tone.”
“Se voet, man!” sê sy terwyl ál 26 beentjies, 33 gewrigte, 107 ligamente en 20 spiere in haar voet begin kreun - van die metatarsale bene tot by die tibialis anterior, om nie te praat van daardie arme klein sesamoïed-beentjies tussenin nie.
“Jy kan ook metatarsus primus varus kry. Of mediale eksostose.
’n Dokter sal eksteriorering moet toepas.”
Wat? kyk sy jou aan.
“Sulke taal sal jou nêrens bring nie.” (En jy was nie eens op pad êrens heen nie.) “Wat probeer jy nou eintlik sê?” vra sy.
Voete, omdat dit so klein is in verhouding tot die res van jou lyf, vat baie druk. Hulle sê die drukking is tot 50 % meer as jou liggaamsgewig. So, as jy 100 kg weeg, is die druk op jou voete ...
“ Honderd kilogram?! Kan jy nie meer realisties wees nie?”
Jy sê dis net ’n afgeronde syfer om die berekening eenvoudiger te maak. Hulle het uitgewerk mens gee gemiddeld elke dag 8 000 tot 10 000 treë. ( Mans seker heelwat minder van sit voor die TV, sê sy, maar jy ignoreer dit.)
Jy wou haar net vriendelik daarop wys dat dit belangrik is dat die skoen haar reg pas. Maar éintlik wou jy net sê sy’t te veel skoene.
“Kyk,” sê sy, soos in verstaan-my-nou-mooi-vir-eens-en-viraltyd: “’n Vrou kan nooit te veel geld of te veel skoene hê nie. Onthou dit. As jy dít verstaan, sal baie ander dinge ook vir jou duidelik word.”
Jy sê jy verstaan.
Jy verstaan sy koop skoene vir 1. die werk, 2. ’n troue of begrafnis, 3. om sexy te voel. Daardie hakke laat haar kuite elegant lyk, sy voel langer, sy voel bó-op die wêreld terwyl sy afkyk op rye en rye onderdane (die rye skoene in haar kas), en sy’s dadelik 100 kg ligter. Dit sit ’n swaai in haar heupe terwyl sy probeer om nie van die hakke af te val nie. Dis boonop in die mode en sy wedywer so ’n bietjie met ander vroue se skoene (altyd iets te sê oor ander vroue se skoene).
Jy verstaan dit ook.
Jy verstaan net nie daardie reddelose, redelose rede no. 4 nie: Ek móét daardie paar skoene hê! “As jy dit probéér verstaan,” sê sy, “dan verstaan jy klaar net mooi niks.”
Daarom het navorsers (www.thescotsman.scotsman.com/print.cfm?id=234032005 ) agtergekom Britse vroue besit saam hoë hakskoene ter waarde van £637 miljoen. Wat hulle nog nooit gedra het nie.
Dis sowat R 7,3 miljard! Hulle noem dit wastefulconsumption.
Mans, daarenteen, koop glo takeaways terwyl daar nog baie kos in die yskas is. ( Maar hulle eet dit seker op, sit dit nie in ’n skoenboks onder in die kas nie, nè?)
In ’n ander studie (www.about.com) is bevind dieselfde Britse vroue - en hoekom sal dit anders wees vir vroue van die Filippyne tot in Fisantekraal? - gee in hul leeftyd, van 14 jaar tot 80, amper £32 000 uit op skoene. Dis sowat R368 000 (hoeveel blikkies bier is dit?).
’n Derde van daardie vroue het gebieg hulle het 25 paar skoene in hul kas, wat £1 000 per paar gekos het. Dis meer as R11 000 - vir een paar skoene! Ons praat Prada, ons praat Armani, ons praat Valentino, Nine West, Manolo Blahnik en ons praat Jimmy Choo (en hoeveel blikkies bier?).
Die 3 top-skoene is: stilettos (dankie, Manolo), stewels en hof - skoentjies. En kort op die hakke - letterlik, nè? - van die skoene volg die bykomstighede: Laagsittende gordels en handsakke, waarvan sy ook te veel het, as iemand jou sou vra.
Maar die heel beste van enige paar skoene? Dit laat ’n vrou nooit vet voel nie ...
“ Verstaan jy nou? Kom kielie dan my tone, toe ...” sê sy en skop haar stilettos stilletjies uit.
PS: Sy draai op haar maag soos in ’n kaalvoet Clarins-advertensie ... met nuwe Total Body Lift .