Ons het rugby gaan kyk, gesels en vriende opgesoek. Ons het baie geredeneer, deeglik gestry en vir mekaar goeie stories vertel: wat ons gelees het en alles wat ons ervaar het.

Elke dorp het sy boeiende storievertellers gehad, vertolkers van gewone, alledaagse Boere-wyshede. Skrywers met ’n oor vir goeie storievertellers soos Abraham H. de Vries het dié kuns verstaan en vasgevang en dit tot ’n nóg fyner kuns omvorm. Maar met die TV en die SMS, die video en die DVD het die stem van die egte storieverteller begin verdof.

Want die storieverteller van eergister het ’n oor en ’n oog gehad vir wat vreemd, skreeusnaaks, ongewoon, vol misterie, en dikwels vol wysheid was. Wanneer hulle vertelhet, het almal geluister, dikwels met die stoele in ’n kring. Maar die groot geleenthede was wanneer ware storievertellers smiddags op ’n groot Bolandse stoep by mekaar gekuier het en die een die ander soms in die rede geval het met nog ’n beter anekdote.

My ma was ’n storieverteller. Haar relaas van die lyk wat in die Groot Griep in die nag opgestaan en water gevra het, laat my nou nog ril met ’n groot respekte vir die donker Onbekende.

My ooms was storievertellers wat soms nog die hele storie opgevoer het ook. Die plaaslike (gewigtige) LV was hul geliefde voorwerp van spot. Maar die koning van die storievertellers uit my kinderdae was Oom Petrus, wat saans by ons op die stoep kom sit het en met ’n vonkel in sy blou oë die voëltjies nagemaak het en van sy plaasdae vertel het: van sy winkeltjie en klante, van sy Hollandse onderwyser wat hulle met ’n lat leer spel het, van die buurt se gedoentes, van die ou geskiedenisse van die Boland, van die groot vetes en vergete skandes tussen trotse families, van die swartskaap wat weggejaag is van die plaas, en van die streng reëls wat gegeld het by ’n ernstige vryery. Meer as dikwels het ons so gelag dat ’n paar keer tee gemaak moes word om kele te laaf.

Maar Oom Petrus het ook vertel van die meer as ’n dosyn jongmense wat in Bainskloof tydens ’n CJV-kamp verdrink het (ek het al baie hieroor navraag gedoen, maar niemand onthou die verskriklike tragedie meer nie, en dit hét gebeur), van die vloek wat op die slawe-akkerboom gerus het, van die groot troues en vendusies, van die dag toe die dominee te veel vars geparste mos by die wyksbasaar geëet het en moes hardloop vir die bossies daar naby.

Onlangs het Nataniël by ’n vriendin se deftige verjaardag opgetree en ek het gedog: jy wat Nataniël is, is net ’n hedendaagse weergawe van Oom Petrus - ’n ware storieverteller, geseën met ’n lieflike sangstem, ’n innigheid van humor en verbete Boerse opmerksaamheid. Nataniël het die mense laat skater met ’n simpel storie oor ’n ete op Kersdag by familie op Wellington toe sy nefie met sy kos in die kombuis se sifdeur vasgeloop het. As ek dit sou vertel het, sou niemand geluister het nie.

Want die storieverteller sien dinge op ’n fyner manier as ander en demonstreer iets uit ’n hoek waar jy nooit gekyk het nie. Dan sê jy vir jouself: “Maar my magtie, dis so raak!” Jy begin saam met die storieverteller die storie wórd. En ongemerk kom ’n klein of groot wysheid dikwels in humor te voorskyn wat net sou verbygegaan het.

’n Deel van Jesus se aantreklikheid vir die skares was dat Hy ’n aangrypende, diepsinnige storie oor ’n eenvoudige ding kon vertel: van onkruid wat tussen koring groei, van ’n dwaas wat net vir homself gesorg het, van ’n Samaritaan wat omgegee het, van ’n deftige troue en die deur wat gesluit is, van ’n groot ete en genooide gaste wat slegte verskonings uitgedink het.

Bo-al het Hy aan mense met stories verduidelik dat sy Vader hulle liefhet en vergewe, dat Hy vir ’n stomme mossie omgee. Dié stories en veral hul waarhede leef nog elke dag én sal voortleef lank nadat selfs TV uit die mode is.