Ons moes vir die laaste keer met dit wat ek reken die slegste pad in Afrika is, reis om tot in Ethiopië te kom. Dis die pad tussen Masabit en Moyale. Dit het 'n lang tyd gevat en ons is eers 'n dag later Ethiopië binne.

Die grenspos op Moyale was presies dieselfde as wat ek kan onthou van laas toe ons daar deur is. Ongelukkig het die land nog nie ver vooruitgegaan met tegnologie nie en die grenskruising het 'n rukkie geduur. As gevolg van die oponthoud in Nanyuki moes ons maar 'n bietjie aanstoot.  So ons het tot laat die nag gery tot by Yabello. Ons het vyf jaar terug in presies dieselfde hotel in Yabello geslaap, maar die keer het ons gekamp.

Ons het in die rigting van Addis Abeba gery waar Gideon se vrou, Liza, vir ons gewag het. Ons moes deur die een reënstorm na die ander ry. Die roete was nie sleg nie alhoewel die dropies langs die pad ons bietjie teruggehou het. Ons het uiteindelik laat die aand in Addis uitgekom. Daar het ons onsself reggemaak vir die res van die reis deur die een kar se suspensie reg te maak en voorraad te koop. Wat ek verskriklik baie geniet het, was die tradisionele kos wat ons in Ethiopië geëet het. Dit het bestaan uit 'n soort kerrie en njera, dis 'n suur deeg, maar dit gaan baie lekker af saam met die kerrie.

Nadat ons by Dessie 'n nuwe roete afgedraai het noord van Addis het ons in die rigting van Aksum gery. Ons het vantevore van Dessie na Lalibela, maar die keer was ons lus vir iets nuuts.

Aksum was 'n dorp, baie dieselfde as Lalibela. Albei het baie geskiedenis van die Christelike geloof. By Aksum het ons deelgeneem in 'n optog. Dit word gesê dat die Ark van die Verbond in Aksum bewaar word, en tydens die optog dra hulle 'n replika van die Ark rond. Die seremonie het vyfuur die oggend begin en dit het baie mooi gelyk. Almal het wit aangetrek en het met kerse geloop. Ek dink dit het ongelooflike mooi prentjies vir Gideon en Stefan gemaak.

Vir eers moes ons verder wes draai om meer in die rigting van Soedan te ry. Die roete vanaf Aksum en ook tot by Aksum is 'n ongelooflike roete om te ry as gevolg van al die bergpasse. Daar is die een bergreeks na die ander en die karre moes hard werk. Die laaste dorp waarby ons sou slaap voor ons Soedan binnegaan, was Gonder. Daar is nie te veel om in die dorp te doen nie, so ons het maar aanbeweeg om tot in Soedan te kom. Die tweede laaste land op ons reis.

Groete

Streicher