Ons is weg van die see af en ek dink ons sal dit eers weer sien as ons by die Rooisee in Egipte aankom.  Ons het van Vilanculos af vertrek na Gorongosa Nasionale Park.

Gorongosa was 'n wildtuin met duisende diere, maar tydens die oorlog is meeste van die diere doodgeskiet. Dit was vir my 'n baie mooi park met verskriklike baie verskillende habitatte.  Dis net jammer dat die groot getale diere nie meer daar was nie.  

Na 'n ruk was ek maar moeg om net vlakvarke en waterbokke te sien!  Tog is die hoeveelheid diere besig om toe te neem.  Ek sal graag wil sien hoe die park gaan lyk in so 5-10 jaar se tyd.  
Dit was baie lekker om in 'n Lodge te bly, maar dit nou was weer tyd om te kamp.  Ek het uitgesien na my daktent.

Ons het verder gereis na die Zambezi waar ons by Mary Moffat Livingstone se graf gestop het.  Sy was Dr.  Livingstone se vrou, en is dood aan malaria in Mosambiek.  By die graf is daar 'n baie mooi kerk gebou en ons het 'n fantastiese middagete daar geëet, met vars Mosambiekse pao-brood.  Ons het die aand langs die langste treinbrug in Afrika gekamp en dit was indrukwekkend om te sien.

Die volgende dag het ons verder gereis na Cahora Bassa dam toe, waar ons by  die Ugezi Tiger Lodge gebly het. Ons het gehoop om 'n paar massiewe tier visse uit te trek, maar ons sou moes wag om te sien wat gebeur.  Die tweede dag daar was ons al 4:30 wakker om uit te gaan met die boot. Ek het maar gesukkel om op te staan, want ek geniet dit baie om lekker laat te slaap! Ek kon eintlik maar 'n bietjie later geslaap het want die boot se engine wou nie vat nie as gevolg van water in die brandstof.  Ons het op die ou einde eers na 6 vertrek.

Cahora Bassa is 'n baie groot dam en ons moes eers 'n uur met die boot ry om by ons visvang bestemming aan te kom. Toe begin daar 'n lang dag van visvang. Ons was vir 12 ure op die water en net Gideon het 'n vis gevang.  Stefan en my pa het 'n vis verloor. Ek was teleurgesteld, want ek het gedink die dag sou meer indrukwekkend wees.  Ek was spyt dat ek nie 'n vis kon vang nie, want ek het al gehoor dit is baie lekker om 'n tiervis aan die hoek te kry.  

Ons het ons besoek aan die dam afgesluit deur te gaan kyk na die damwal.  Ons is deur mense van die Cahora Bassa hidro-elektriese skema binne in die wal in.  Dit was vir my ongelooflik hoe groot die masjiene was wat die krag opwek.  Die krag gaan meestal na Suid-Afrika toe.

En ja, dit is die einde van ons besoek aan Mosambiek, een van my gunsteling-lande.  En nou gaan ons verder wes na Zambië. Ek sien verskriklike uit daar na.

Groete

Streicher