Die volgende land op ons reis is Uganda. Van af lake Bunyoni het ons gereis na Queen Elizabeth Nasionale Park. Ek was redelik opgewonde want ek het al van die park gehoor met sy tree-climbing-lions!

Ons was eers aan die suidelike kant van die park want dit is waar ons blykbaar die leeus sou kry. Ons het 'n klein groepie leeus gekry maar ongelukkig was hulle nie in die bome nie. Dit was twee wyfies met vier welpies, wat besig was om aan 'n Ugandese-waterbok te vreet.

Die Ugandese-waterbok is 'n weergawe van die rooibok wat ons in SA het. Ons het ook heelwat ander diere gesien soos verskillende bok-spesies, buffels, olifante, vlakvarke en wildevarke. Ons het in die park gekamp, Norbert het vir ons brood gebak en ons het ons eie Boerewors Rolls gemaak in Uganda!

Die volgende oggend is ons na die noorde van die park. Op pad noord het ons vir die eerste keer op vanjaar se Voetspore-reis vasgeval. Drie vragmotors het in die pad vasgesit. Toe ons probeer het om om hulle te gaan, het ons ook vasgeval.  Dit was baie interessant want ons moes vier sand lere en 'n winch gebruik het.  Ek moet elke keer toe by my knieë in die modder klim om die sand lere vir die volgende kar op te stel... Dit was baie lekker maar ek was vuil van kop tot toon! Ons het die aand kamp gemaak by Mweya met 'n mooi uitsig oor lake George.  

Ons is die volgende dag na 'n baie interessante plek toe, 'n soutmyn binne 'n krater-meer. Een van die mynwerkers het vir ons gewys hoe die manne die sout by mekaar maak. Dis baie harde werk vir min geld.

Daarna is ons na die Mweya Safari Lodge toe om wi-fi te kry sodat Stefan op sy seuntjie se eerste verjaarsdag kon huis toe Skype. Ek was bly dat hy die geleentheid kon kry!

Ons het laatmiddag vertrek met 'n klein bootjie op Lake George. Vanaf die boot het ons baie mooi buffels, seekoeie, krokodille en heelwat voëls van naby af gesien. Ons het so bietjie op die boot natgereën maar dit was deel van die pret.

By Queen Elizabeth National Park, het ons ook op 'n Crater drive gegaan. 12 miljoen jaar gelede was daar baie vulkaniese aktiwiteit in die omgewing. Vandag sien mens net die kraters en sommige van hulle het mere gevorm.

Na ons besoek aan die kraters het ons oor die ewenaar gegaan vir die eerste keer op vanjaar se reis! Ons is noord na Fort Portal en toe wes na Entebe en later Jinja.

By Jinja het ons gaan bly by Wildwaters Lodge. Dis 'n pragtige Lodge op 'n eiland in die Nyl. Ek het 'n ongelooflike kamer gekry met 'n uitsig op een van die rapids. Ek het dit baie geniet. Die kos by die Lodge was fantasties, maar die hoogtepunt is al die watersports wat hulle hier aanbied.

Eerste was White water River rafting. Na dat ons bietjie opleiding gekry het, is ons rivier toe. Ons sou in die dag agt verskillende rapids doen waarvan die ergste een as 'n nommer 5 geklassifiseer word. Ons het met omtrent vier uit die agt kere omgeval maar gelukkige het die lifejackets ons almal bo gehou. Die manne het maar almal 'n bietjie water op 'n stadium gesluk maar niks te ernstig nie. Ek het die dag verskriklik baie geniet en kan nie wag tot ek dit weer kan doen nie.

Ons volgende aktiwiteit by die Nyl was om met 'n jet-boot op die rivier te vaar. Blykbaar benodig die boot net so 4-6 duim water om in te ry en dit het vir ons die geleentheid gegee om by van die rapids op te ry. Die boot het 'n 7.5 liter v8 Chevrolet engine en kan 'n spoed van 90 km/h haal.

En toe kom die bungi. Ek het nog nooit van te vore gebunji nie en het uitgesien daar na. Hier was die kans op te dip in die Nyl met 'n bunji van 44 meter. Gelukkige het die jump master my heel kalm gehou want ek was maar 'n bietjie bang. Ek weet nie hoekom ek myself so opgewerk het nie, want toe ek gespring, was dit vir my ongelooflik. Ek sal nou graag selfs 'n paar ander hoër bungi's wil probeer.

Na die bunji het ons gaan vis vang op die Victoria meer naby aan die bron van die Nyl. Die hele Voetspore-span het elkeen 'n vissie uit getrek. Ons het almal 'n Nile Perch gevang. Dis net jammer dat hulle nie baie groot was nie, maar tog eetbaar en baie lekker.

Na Uganda is ons in die rigting van Nairobi en Mount Kenya waar 'n nuwe uitdaging wag.

Groete Streicher