In Kigali het ons by die Suid-Afrikaanse ambassade aangegaan. Ons het by Viresh, een van die ambassade-personeel, se huis gaan kamp. In Kigali is daar geen ander kampplek nie, en Viresh was vriendelik genoeg om sy tuin vir ons aan te bied.

Die volgende oggend het ons suid gery na die Nyungwe Nasionale Park. Al langs die roete het ons van die 1994 Genocide Memorials gesien. Ek het al Hotel Rwanda gesien, en het so 'n bietjie van die land se geskiedenis geken. En tog is dit vir my baie erg om te hoor wat die mense aan hulle eie mense gedoen het. Meer as 'n miljoen mense is hier doodgemaak in 1994.

Ons het by die King’s Palace aangegaan. Dis is blykbaar die oorsaak van die massamoord omdat die Tutsi koning die Hutu’s baie sleg behandel het. Toe die Hutu’s kans kry, het hulle oorgeneem en die Tutsi’s probeer uitwis. Min Tutsi’s het oorleef en vandag word daar na almal verwys as Rwandese.

Ons het na 'n lang dag se ry by die Nyungwe Forest Lodge aangekom. Dit was 'n ongelooflike luukse lodge en ek het dit baie geniet. Die kos was ongelooflik, en die geriewe, soos die verhitte swembad het my selfs in die reën laat swem.

Ons het by die lodge 'n canopy walk en Sjimpansee tracking gedoen. Die canopy walk was baie mooi. Jy loop op 'n vlak gelyk met die bometoppe. Ek het baie jammer vir my pa gevoel omdat hy hoogtevrees het en hy het dit nie geniet om so hoog bo die grond op 'n bruggie te loop nie.

Die chimp tracking was moeilik om mee te begin want ons moes 4 uur die oggend reeds opstaan vir ontbyt. Ons het vir 'n uur lank die chimps getrack voor ons hulle gevind het. Ongelukkig, net na ons hulle gevind het, het hulle in die digte woud verdwyn. Die spoorsnyers het ons op 'n ander roete begelei sodat ons die chimps kon voorlê. Na 'n lang ruk se wag was die spoorsnyers se aanwysings reg, en ons het 'n groot groep van 45 chimps gekry. Nadat ek so 'n paar skote met my kamera van die chimps geneem het, het ek besluit om maar die kamera weg te sit en net na die ape te kyk en luister. Dit was ongelooflik om die lawaai te hoor wat hulle maak . Ons het ook ander aapspesies gesien soos die mono, mangabie, blue en black and white colobus monkey.

Ons het ook een aand in die woud gekamp, en moes ons eerste keer op hierdie reis kamp in die reën opslaan. Die aand het ons lekker tuisgemaakte frikkadelle en pasta geëet.
Na 'n fantastiese tyd in die Nyungwe Forest is ons terug Kigali toe.

Die Suid-Afrikaners in Kigali het ons uitgenooi om Sondagoggend saam met hulle rugby te kyk. Ongelukkig het die Bokke verloor, alhoewel ek dink hulle moes ver gewen het. Ons het die dag by Viresh se huis geniet, en die aand saam met hulle gebraai.

Die volgende dag was my 16e verjaarsdag en ek het 'n pragtige T-hemp en sleutelhouer as persent gekry. Dit was vir my baie spesiaal om op 'n Voetspore-reis te verjaar en ek sal dit nooit vergeet nie.

Ek het die dag my laaste grenskruising op my Kinder Paspoort gedoen. Al wat ek nie so baie van my verjaarsdag geniet het nie, was 'n Genocide Memorial waarheen ons aan gegaan het met skedels van mense wat met machettes en gewere doodgemaak was binne 'n kerk.

Ek het my verjaarsdag afgesluit met 'n pragtige uitsig oor die Bunyonyi-meer in Uganda.

Groete

Streicher.