"Vanjaar se voetspore reis het in Kaap Agulhas begin en eindig hopelik in Egipte by Alexandrië. Ek het al die laaste paar weke afgetel en kon nie meer wag vir die reis om te begin nie. Dit is al my 5de Voetspore reis en hopelik nie my laaste nie. Ek geniet dit verskriklik baie.

Ons het Sondag die 4de in die Kaap vertrek op 'n verskriklike reënerige dag alhoewel dit lekker was met al die mense wat vir ons totsiens kom sê het en ons voorspoed toegewens het op ons reis. Al slegte ding van Sondag was om vir my ma en my twee susters koebaai te sê.

Verder was die dag vir my verskriklike lekker omdat ek nie kon wag vir die 7de Voetspore-reis om af te skop nie. Ons het toe vertrek in die rigting van Lesotho waar ons die eerste aand in 'n ongelooflike mooi huis in 'n verskriklike mooi dorp, Cradock, geslaap het.

Die volgende dag se reis na Rhodes sou vir my 'n baie lang dag wees. Ek het al op die vorige Voetspore-reis saam met Barnie Tromp in sy helikopter gevlieg en dit was vir my baie lekker. So toe ek weer die kans kry in Queenstown, toe klim ek in.

Vir die eerste 10 minute was dit baie lekker gewees. Ek het 'n kamera saam met my in die helikopter gehad om net 'n paar skote van die motors te neem.

Ons het vir een skoot bo-oor die motors gevlieg - dis toe waar als begin. Die linkerpoot van die helikopter het toe aan twee drade vasgehaak. Die hele helikopter draai toe so dat ons reguit afkyk grond toe.

Vir 'n oomblik het ek gedink dis die einde, maar gelukkig het die drade toe gebreek! Gelukkig was die loods so ervare en het weer vinnig beheer gekry. Toe ek weet dat als reg sou wees, het ek weer begin afneem soos ons die noodlanding maak.

Ek was verskriklik bly om weer op vaste grond te wees! Nie ek, die loods of die ander passasier het die drade gesien nie en ek is net verskriklik bly dat dit uitgedraai het soos dit het.

Ons het laat daai aand op Rhodes aangekom en 'n baie lekker aand by pêlle gehad. Ek was net baie opgewonde om in Lesotho aan te kom en om die mooi bergpasse te sien.

Sover geniet ek die trip baie en hoop dat die ergste al verby is!!!:)

Groete Streicher

* Volg die Voetspore-span op hul roete.