Marielise van Rooyen skuur gereeld skouers met bekendes in Hollywood waar sy as aktrise werk.

Dis vir haar ’n droom wat waar geword het. Sy woon sedert 2013 in Los Angeles, Kalifornië, waar sy meestal in televisierolle en advertensies speel, en ook ’n bietjie modelwerk doen.

Wat is spesiaal van die plek waar jy woon?

Dis ’n moeilike vraag, want Los Angeles is ’n unieke en interessante plek met soveel verskillende mense en fasette. Wat dit vir my spesiaal maak, is beslis die klem op dit waarvoor ek lief is en dit is die film-, televisie- en die vermaaklikheidsbedryf. Ek het by AFDA (filmskool) drama en film geswot en dan is Hollywood seker die ‘ultimate’ plek. Dis hier waar die meeste reekse en films gebore word. Dinge is besig om te verander en die bedryf word beslis meer globaal, maar volgens my is hierdie steeds die plek waar meeste van die top-mense ter wêreld in die vermaaklikheidsbedryf woon en werk!

Ek het vir 'n jaar en 'n half in Venice Beach, Kalifornië gewoon. Ek het vir 'n jaar en 'n half in Venice Beach, Kalifornië gewoon.

Ek is ook mal daaroor dat ek omring word deur berge en die see, en tog voel dit asof ek in ’n wêreldstad woon. Die landskap verander so drasties net binne LA self en dis juis hoekom meeste van die studios hier gebou is in die beginjare van Hollywood. Mens kan gaan surf en hike en vir ’n naweek gaan ski in die berge. Daar is ’n geleentheid vir alles.

Daar is ook soveel kreatiwiteit in die stad en mense trek van oral oor die wêreld om hier te kom bly. Dit maak dit baie kosmopolitaans en ek is gek daaroor dat ek enige dag van die week na een van die top-bands kan gaan kyk. Die toegang tot vermaak is so maklik en wêreldklas! Dan is ek boonop ’n groot Disney ‘geek’ en dis ongelooflik om ’n uur van Disneyland af te bly.

Hier wag ek en 'n paar vriende vir die 'Calvin Harris show' om te begin tydens die Coachella musiekfees. Hier wag ek en 'n paar vriende vir die 'Calvin Harris show' om te begin tydens die Coachella musiekfees.

Die mense in LA het my ook verras. Hulle is baie oop en vriendelik, al is dit nie die idee wat meeste mense van LA het nie. Mense is ook altyd baie geïnteresseerd in Suid-Afrika en die feit dat ek van daar af kom.

Die kaartjie wat mens kry as jy by Paramount Pictures skiet om by die hek te mag ingaan. Die kaartjie wat mens kry as jy by Paramount Pictures skiet om by die hek te mag ingaan.

Is dit goedkoop of duur om daar te woon?

Dis een van die duurste stede in Amerika om in te woon en die huur hier is belaglik! Ek probeer om nie my leefkostes na Rand te verwerk nie, maar soms kan ek dit nie help nie en dan wil ek omtrent ’n hartaanval kry as ek dink wat die geld alles in Suid-Afrika vir my sou kon koop. Maar dis natuurlik ’n ander land en ’n ander geldeenheid, so mens kan dit nie regtig vergelyk nie. In Suid-Afrika is mens baie bederf dat jy by meeste restaurante en winkels ongelooflike gehalte kos en wyn kan kry en dis baie beskostigbaar. Hier is dit ongelooflik duur en mens moet hard soek daarvoor! As my Amerikaanse vriende Suid-Afrika toe gaan, is dit altyd die nommer een ding wat hulle verstom en waaroor hulle kommentaar lewer.

Hier is ek op die stel van 'Grey's Anatomy'. Hier is ek op die stel van 'Grey's Anatomy'.

Kry jy tyd om te reis?

Ek probeer om Amerika bietjie vir bietjie te verken as ek nie moet werk nie. Ek het in 2015 ’n paar plekke besoek saam met ’n Afrikaanse vriendin van my. Ons was na New York vir die Amerikaanse Ope Tennistoernooi en ook New Orleans en Las Vegas toe. New Orleans is sover my gunsteling-plek in Amerika wat ek al besoek het.

By die Amerikaanse Ope Tennistoernooi in New York saam met my vriendin,  Jeanette Rademan. By die Amerikaanse Ope Tennistoernooi in New York saam met my vriendin, Jeanette Rademan.

Dan was ek ook in 2015 vir ’n troue in Noord-Carolina. Ons het van LA na San Francisco gery al langs die kus af, wat ’n pragtige rit. Beslis die moeite werd.  Daar is ook soveel plekke net buite LA wat mens vir ’n naweek of so kan verken soos San Diego en Palm Springs of om te gaan ski in ‘Big Bear’. Ek het altyd gedink dié plek bestaan net in die sepie, The Bold and the Beautiful, maar nee, dit is ’n werklike plek, haha.

Daar’s nog baie ander plekke in Amerika wat ek sal wil beleef. Dis ’n massiewe land, boonop met verskillende tydsones in dieselfde land.

Vir meer oor Marielise van Rooyen se lewe in Los Angeles, lees Kuberkuier in die Januarie 2017-uitgawe.

Januarie 2017 SARIE. Januarie 2017 SARIE.