“Die naglug bo die see is gevul deur ’n elektriese storm. Ek was nat en koud, en kon myself bejammer, maar ek het die oomblik aangegryp en die natuurwonder geniet. Ek kon nie help om kort-kort 'wow!' uit te roep nie.” Só wóú Survivor SA se hoofinhoudsregisseur, Ingrid Linde, haar werk agter die skerms ervaar en sy het elke oomblik gekoester. Ondanks die ewige sandvlooie en muskiete, sonbrandmiddel wat in die hitte wegsmelt en die weer wat haar hare onbeheerbaar maak, het sy en die tien ander vroue uit ’n SA span van 36 nie tyd gekry om aan hul voorkoms te dink nie. Al is jy hoe selfbewus oor selluliet, het jy teen dag 3 jou langbroeke se pype afgesny!

Hoewel die lense gefokus het op die deelnemers se oorlewingstrategieë, het ’n oorlewingstryd in die kleine agter die kameras gewoed. ’n Ervaring wat nie een van die produksiespan onaangeraak gelaat het nie. Vir fotograaf Lisa Skinner was dit ’n persoonlike reis weg van die geweld in Suid-Afrika nadat dit verlede jaar te naby aan haar gekom het. Sy is in Mpumalanga met ’n mes gesteek toe sy vir Beeld foto’s geneem het. En vir M-Net se publisiteitsbestuurder, Lani Lombard, was dit ’n geleentheid om met ’n ander perspektief na die lewe te kyk. Sy het elke dag na ’n besondere plek op die Panama-eiland gestap waar sy ’n byna spirituele ervaring beleef het. “Ek wil nou elke dag daardie gevoel in my lewe hê. Ek kort meer vreugde in my lewe en ek besef ek kan beter keuses maak. Ek moet net dapper genoeg wees om dit te doen.” Sy en die produksiespan is - nes die deelnemers - uit hul gemaksone geneem en geplaas in ’n situasie waarin hulle hul goeie en slegte eienskappe moes bekyk en uitsorteer.

 

Jy raak bewus van die onbenullige dingetjies in jou lewe wat jy kan verander
- Ingrid Linde, hoofinhoudsregisseur

 

“Die lelike sandale wat aan ons uitgereik is, het ek net een kyk gegee en my neus opgetrek, maar die derde dag het ek hulle uit desperaatheid aangetrek,” vertel Ingrid. As kaalvoet-buitelugmens was dit vir Ingrid lekker om na aan die natuur te leef, maar sy het gou besef dis nie speletjies om op dié idilliese Panama-eilande in die versengende hitte aan ’n produksie te werk nie. Gelukkig het die natuur hulle tussen die harde werk deur soms beloon met ’n dolfyn- of walvisvertoning, sê die vrou wat verkies het om elke nag buite te slaap. “Dit was fisiek harde werk en dit het my gehelp om in voeling te kom met my lyf.“ Die lang ure het gehelp om te vergeet van die verlange na haar driejarige seun, Sebastian, wat by sy pa, Henk Boshoff, in Orange Grove, Johannesburg, moes agterbly. Vir haar het die ervaring op verskillende vlakke afgespeel. “Jy ervaar jou eie oorlewingstryd en dié van die deelnemers wat nie op kamera gewys word nie. Dan is daar ook die spel self.“ As inhoudsregisseur kies sy wat verfilm word. Sy en die klein kameraspan is die naaste aan die deelnemers en sy was een van die enigstes wat sonder om by die spel in te meng met die deelnemers kon praat. Sy het vriendskappe gesluit omdat sy “goeie inhoud vir die kamera“ uit hulle wou kry. Sy sê dié interaksie is ook ’n spel. “Jy speel hulle en hulle speel jou.“

Sy moes die ontwikkelende situasies fyn dophou om te weet watter visuele beelde die storie die beste sal vertel. Maar soms het sy haar misgis: “Jy is seker ’n deelnemer gaan uitgestem word en dan gebeur dit nie.“ Sy het mensekennis opgedoen en ook soms vir deelnemers jammer gevoel. “Maar jy mag dit nie wys nie, want dit kan die spel beïnvloed.“ Daar was onvergeetlike én benoude oomblikke. Eendag het ’n boot met agt gewapende soldate op hulle afgepyl. “Gelukkig kon ek hulle oortuig ons is nie besig om ’n pornografiese fliek te skiet soos dit kon gelyk het met al die halfnaakte mense op die strand nie! Ons kon hulle nie kwalik neem nie, want kokaïensmokkelaars word gereeld op die eilande aangetref.“ Sy het respek vir die natuur geleer. “Ek is een aand byna deur die gety op ’n eiland vasgekeer. Ek moes na veiligheid swem en ook seker maak die deelnemers is nie in gevaar nie. Jy raak gewoond daaraan om op jou voete te dink.” Die lang tyd weg uit haar eie werklikheid het haar gedwing om van buite na haar lewe te kyk. “Jy raak bewus van die onbenullige dingetjies in jou lewe wat jy kan verander.“ Maar die stukkie eiland wat in haar hart agtergebly het, sal onveranderd bly.

 

Ek het geleer die enigste grense is dié wat ons vir onsself stel
- Lisa Skinner, publisiteitsfotograaf

 

Lisa Skinner het as persfotograaf by Beeld al angswekkende situasies getrotseer, maar teen die tweede week agter die skerms van Survivor SA was sy gedaan. “Ek het vasgebyt omdat ek geweet het die deelnemers kry swaarder as ek en ek wou hulle nie in die steek laat nie. Ek sou ook nie met myself kon saamleef nie.“ Daarna het haar “innerlike oorlewingsdrang” oorgeneem en kon sy met nuwe ywer werk - ’n volle 52 dae lank, 12 tot 15 uur per dag. Sy glo die geleentheid om aan die program te werk het net op die regte tyd in haar lewe gekom. “Ná die mesaanval verlede jaar was ek moeg vir misdaad en ek kon nie fokus op my werk nie. Ek wou oorsee gaan om te dink.“ Maar toe kom Survivor SA - en dit word vir haar ’n geestelike groeiproses.

As enigste vrou tussen die kameramanne moes sy gou wys waartoe sy fisiek in staat is. Die mans het haar vinnig aanvaar, want sy het haar kant gebring en die swaar toerusting help dra. Sy kon saam met hulle na aan die deelnemers werk, maar oogkontak en gesprekke met hulle was taboe. “Ek het besef ek het ’n sterk moedersinstink, want ek het heeltyd die drang gehad om hulle te help. Ek moes myself troos dat dit net ’n spel is en dat hulle nie sal doodgaan van die honger nie.“ As fotograaf is Lisa ingestel op lyftaal en sy kon sien wanneer sy te na aan ’n deelnemer was. Sy het baie van die mens geleer, veral dat jy iemand maklik kan onderskat. “Ek het geleer die enigste grense is dié wat ons vir onsself stel. Dit was baie bemagtigend.” En aan stereotipes sal sy haar nooit weer steur nie, omdat mense net so dieselfde is as wat hulle verskil, sê sy. Sy is nie ’n natuurmens nie, maar sy het die beeldskone omgewing geniet en haar lewe so tussendeur uitgepluis. “Baie goed waaroor ek my altyd bekommer het, het skielik nie meer saakgemaak nie. “’n Mens ken jouself nie regtig nie. Jy moet eers tyd in jou eie geselskap deurbring voordat jy weet wie jy is.”

Lani het binne 3 dae haar langbroek afgesny!

 

Dinge kan net gebeur as jy dit toelaat - Lani Lombard, M-Net-publisiteitsbestuurder

 

As Lani terugdink aan die oorlewingspel is dit aan die besondere vroue voor en agter die skerms. “Dit het my laat nadink oor die nuwe soort vrou wat besig is om te ontwikkel. Vroue met fisieke en innerlike sterkte.“ As private mens was sy skrikkerig om deel te wees van ’n groot groep van wie sy net enkeles ken, maar die SA span het gou soos ’n eie “stam” gefunksioneer. Lani het die deelnemers wat uitgestem is onder haar vlerk geneem. “Hulle wil dadelik iets eet en dan bad!” Dit was nie vir haar lekker om te sien hoe deelnemers maerder, swakker en moeër word nie. Sy het haar ingeleef in die spel en selfs een keer op die stamvergadering in trane uitgebars omdat sy ’n deelnemer jammer gekry het. “Ons het as buitestanders gedink ons ken die karakters, maar elke episode het verras.“

Nou besef sy dat mense eintlik heeltemal anders is as hoe jy hulle opsom. Vir haar was mense se ervaring voor en agter die kameras in ’n mate dieselfde. “Jy is weg van jou gemaksone en in ’n ander rol. Dit dwing jou op ’n persoonlike reis. Jy maak aanpassings en groei,“ verduidelik sy. Tydens haar 32 dae op die eiland het sy kopskuiwe gemaak. Al het sy soms net vier uur per nag geslaap, was daar tyd om haar eie lewe in perspektief te kry. “Daar is baie dinge wat ek nou anders gaan doen.“ En sy wat nooit kinders wou hê nie, dink nou anders daaroor. Sy het ook teruggekom met waardevolle lesse wat sy by deelnemers geleer het. “Heelwat oor deursettingsvermoë en hoe om jouself op te tel as ander dink jy het gaan lê. Ek het ook gesien hoe ’n sin vir humor moeilike situasies kan ontlont en dat materialisme eintlik min tel.” Hoewel net een persoon op 26 November met die R1 miljoen gaan wegstap, is daar eintlik vele wenners voor en agter die kameras, sê sy. “Dit hang af hoe oop jy was vir verandering en hoe graag jy uit die situasie wou leer. Dinge kan net met jou gebeur as jy dit toelaat.“