Waar woon julle?
Ek en Wynand woon in Kent in die dorp Bromley. Dis sowat 20 minute van Londen af, wat beteken ons het die beste van twee wêrelde - die platteland vir rustigheid, maar die stad is net so toeganklik as ons iets daar wil doen. Ons het op universiteit (NWU) ontmoet en is in 2007 getroud. Ons is beste vriende en geniet dit om die wêreld saam te verken.

Die grootste aanpassing?
Ons albei is familiemense en al ons familie, behalwe een nefie hier in Engeland, en die meeste van ons vriende is in SA. Dis hartseer as 'n mens groot familiebyeenkomste en belangrike dae, soos 'n 21ste verjaardag of 'n doop,misloop. Om praktiese redes, soos werksverlof, het ons vinnig besef 'n mens kan nie vir elke geleentheid terugvlieg SA toe nie, al wil jy.Nog 'n aanpassing was en is steeds die min ruimte.

Werk jy daar?
Ja, as immigrasie-konsultant. Die maatskappy behartigdie immigrasie-aspekte van verskeie internasionale beleggingsbanke en ander wêreldwye organisasies. Dis baie interessant om met verskillende kulture oor verskillende tydsones te werk.Die Japannese, Indiërs en Amerikaners het elkeen hul eie manier van werk en dinge doen.

Die Tower Bridge in Londen. Suzanne en Wynand - Arc de Triomphe
Die Tower Bridge in Londen Suzanne en Wynand - Arc de Triomphe
Twee tipiese Engelse posbusse in Windsor Die Tower of London
Twee tipiese Engelse posbusse in Windsor Die Tower of London

Lekkerste en slegste van daar wees?
Of jy £10, £100 of £1 000 in jou sak het, daar's altyd iets in Londen om te doen. Die Weseinde met die verskeidenheid musiekblyspele en teaterstukke is 'n skatkis om vanuit te kies.Op 'n sonnige somerdag is dit heerlik om in Hyde Park of Regents Park te gaan piekniek hou. Baie museums se toegang is ook gratis. Al die nuutste tendense, flieks en modes begin meestal hier - Old en New Bond Street, Carnaby Street en Oxford Street is enige modeliefhebber se droom!

Ons geniet ook die koffiedrink-kultuur - Starbucks, Pret-A-Manger, Costa, Caffè Nero. Sg. city breaks is baie gewild, so dit is nie snaaks om vir die naweek na Parys, Milaan of Amsterdam weg te breek nie. Die seisoene is 'n daaglikse aanpassing.Winters kan maande aaneen nat en koud wees.Wintertyd beteken ook baie kort dae, wat nie noodwendig akkordeer met Suid-Afrikaners nie. Aan die ander kant is dit ook deel van die unieke ervaring.

Sal julle terugkom SA toe?
Beslis! Ons is baie positief oor die geleenthede in SA - vir elke probleem is daar 'n geleentheid. Ons sien baie uit na daardie dag,maar tot dan geniet ons die avonture hier in die verte ten volle.

Wat mis julle die meeste?
Familie, vriende, son, see, Kersfees in die somer, 'n winteraand in die Klein-Karoo, vroegoggende op die plaas, die gewone braai op 'n Saterdag ná rugby, biltong, boerewors, Creme Soda, cocktails in Houtbaai. Hoera vir winkels wat SA produkte hier verkoop - hulle maak beslis 'n wins.

Reis julle baie?
Ons probeer so gereeld moontlik reis. Die Engelse platteland is beslis die moeite werd,maar dis ook heerlik om verskeidenheid te verken. So verskil Wes-Europa bv. drasties van Doha, Katar.Wanneer jy jou horisonne verbreed, ontwikkel jy 'n sensitiwiteit en waardering vir elke kultuur. Soos hulle sê: As die gogga eers gebyt het . . .

Is dit duur om daar te woon?
As toeris kan ek verstaan dat Suid-Afrikaners veral Londen as duur kan beskryf,maar sodra 'n mens hier 'n salaris verdien, is basiese lewensmiddele taamlik goedkoop.