Ek soek vir 'n kortkursus by UNISA. Vergeet skoon ek het 34 jaar gelede laas 'n studieboek onder oë gehad.
 
Die maklike deel is die inskryf en fooie se betaal. Nou wag ek mos dat iets gebeur - miskien bel UNISA my, of mail iets, of sms dalk, miskien kom wat ookal moet kom, deur die pos.

Drie weke gaan verby, met die enigste inligting, 'n voorgeskrewe boek vir die kursus.
 
Die kry ek toe maklik by een van hulle boekwinkels te koop. Ek kyk vir boek en boek kyk vir my.
 
So onthou ek, toe dat toe ek die boek gaan koop het, het ek 'n UNISA bordjie verder af in die straat gesien. Etenstyd vat ek, en boek, die pad na een van die administratiewe kantore.
 
Daar gekom, word ek verwys na die tegnologie-afdeling, waar 'n krulkop jongman baie mooi verduidelik dat ek al elektronies moes registreer het om al my inligting te ontvang. Vinnig word dit afgehandel en toe ek die mailbox oopmaak vir enige inligting, borrel die inligting uit soos 'n oorvol kas wat se deur skielik oopgemaak word.
 
Behalwe my studiemateriaal, moet ek my eerste werkstuk binne 7 dae indien. Ek vat en los en vat en los weer. "Nee man Tallie", begin sistematies werk, sooo deurmekaar gaan jy nooit hond-haaraf maak nie.
 
Dus liewe susters, sit ek saans en begin sistematies deur my inligting werk. Ek is seker vir jong studente is dit peanuts en baie maklik om te onthou, vir my, verroeste brein, neem dit 7 keer langer, maar ek hou uit. Boonop is die studiemateriaal in hogere engels - nie goed vir my gestel nie, maar ek hou uit.
 
Gisteraand het ek aan my eerste werkstuk begin werk wat oor drie dae ingehandig moet word, en kom wat wil! Klaar sal hy klaar wees.
 
Toe ek vanoggend wakkerword, voel dit asof ek die dag kan omblaai en weer more-oggend wakkerword. Moeg, moeg, moeg.
 
Met twee vitamienpille, 'n sterk koppie koffie en min verkeer, kom ek toe 'n halfuur laat by werk aan, onseker of ek die regte besluit met my studie-idee geneem het.
 
 
Ek hou julle op hoogte.