Miskien vergeet ons net elke jaar hoe koud dit die vorige jaar was. Miskien raak ons velletjies net dunner soos ons ouer raak.

Ons lewenswinters is dieselfde. Soos ons ouer raak en die winter van die lewe op ons toesak, hoe minder sien ons kans vir die koue. As die onweerswolke begin saampak, maak ons deur, vensters en gordyne toe. Ons glo as ons nie buite is nie, sal die winter ons nie affekteer nie.  

Maar iewers hierbinne weet ons waarom ons nie die onweerswolke in die gesig wil staar nie. Dis nie lekker nie. Dis koud. Dis ongemaklik. Dit laat ons inmekaar voel. Ons wil niemand sien nie. Ons wil nie praat nie. Ons wil net niks.

Soos die winter met elke jaar, weer sy verskyning maak, so maak die winters in die lewe ook hulle verskyning. Jy weet dit gaan nie net altyd somer wees nie, maar tog wens jy die winters wil korter wees, vinniger verbygaan, nie so intens wees nie.

Toe ek 'n kind was, en later 'n jongmens, het ek die winters altyd gehaat. Ek sou enige iets doen, net om die winter vry te spring. Soos ek ouer geword het, het ek besef ek het die winters gepes, want ek het altyd koud gekry. Vandag maak ek voorsiening en sorg dat ek dik sokkies, 'n elektriese kombers, verwarmer en alles wat die koue wegneem, naby en om my het. 

So begin ons onsself ook staal vir die koue van die lewe. Jy vind 'n rustigheid, en soms sien jy al die negatiwiteit, maar affekteer jou nie meer soos vroeer nie, want jy het voorsiening gemaak. Jy besef jy het geen, maar geen beheer oor die koue wat oor jou pad gaan kom nie, maar jy het beheer oor hoe jy dit gaan hanteer.

Tog mag ons nie toelaat dat die winters ons tot stilstand ruk nie. Hoe moeilik dit ookal soms mag gaan, moet ons uitgaan en die son gaan soek. Hy is miskien vandag buite as jy hom gaan soek nie, maar dalk more. Moet net nooit moed opgee, en dink dat jy die son nie weer sal sien nie. Wanneer die somer kom, is dit onsigbare plantjie onder die sneeu wat 'n pragtige, sterk struik word. Dit is die mens wat uit sy hartseer opstaan en groei tot 'n pragtige boom, wat die volmaakste vrugte dra.

Dit is wanneer jy deur die winter van 'n verbrokkelde huwelik, of die seer van die dood in die oe gekyk het, dat jy eers leer om te verstaan. Dit is wanneer jy geleer het om te gee, dat jy sal leer om te ontvang. Want slegs dan sal jy die vreugde in die persoon wat gee, verstaan.

En dan een more, word ons wakker met die son wat in ons gesig skyn. En jy weet, alles is weer piekfyn, die winter is verby. Maar, ons stap nooit die somer tegemoet, sonder die lesse wat ons uit die winter geleer het nie. Volgende jaar, is ons "gegear".

Ek het eendag iets gelees wat iemand geskryf het "Mag ek jou leer ken terwyl jy lewe, voordat jy sterf en nooit geleef het nie".

Mag ons nooit toelaat dat 'n vernietigende winter ons volgende somers steel nie. Mag ons nooit toelaat dat 'n gebeurtenis, ons lewe steel nie. Mag jy nooit jou grootsheid van die liefde verloor, net omdat iemand jou hart vertrap het nie. Dink net aan die pragtige, rooi, volmaakte vuurlelie wat 'n brand nodig het om hom te laat ontkiem.

Staan op, beur treetjie-vir-treetjie vorentoe. As jy terugkyk, sal jy verstom staan hoe ver jy gevorder het.

Ek se altyd, maak 'n plan. Maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. Maak tog net 'n plan. Dis wanneer die planne opraak, dat ek weet hier kom 'n ding. Maar dan is ek weer klaar besig met 'n volgende plan. 

En ek bid vir elkeen, dat die dag mag aanbreek wat jy sal stilword en erken "dis moes gebeur het".

Kan julle dink hoe vervelig dit gaan wees as ons eendag in die aftreehuisie sit, en niks het om te vertel nie? Hoekom nie?

Want ons lewe was tog net só volmaak.....!

Ek groet julle elkeen met 'n warm hart, "vol planne".