Dit is ook hierdie tyd van die jaar wat oud en jonk se kinders, broers, oom en tantes in een vertrek bymekaarkom om mekaar, en natuurlik die feesmaal, te geniet.
 
Soms sien ons op na so 'n bymekaar kom, want, as ons nie deur die jaar met die een of ander persoon se gewoontes oor die weg kom nie, hoekom sal ons dan hierdie spesifieke dag aan sy of haar lippe hang?
 
Lank voor die tyd word daar beplan aan die kuier- of feesplek. Daar word geskaaf en gesoek na die mees geskikte kosse en spyskaarte. Vrouens vaar die winkels in vir 'n nuwe uitrusting en manlief se klere word afgestof. Die telefone word warm gebel soos daar oor en weer beplan word aan wie sit  waar en wie nie naby wie wil of gaan sit nie.
 
En dan breek die groot dag aan.
 
Die gasvrou se senuwees is gaarder as die bruin-gebakte kalkoen in die oond. Sweetdruppels vorm die veelbesproke pêreltjies op haar voorkop. Romanties as mens dit in boeke lees, maar definitief nie as jy van vroegoggend voor die stoof gestaan het nie. Haar onderrok kleef benoud aan haar bobene, terwyl sy haastig tussen die warm kombuis en die eetkamer of buitestoep trippel.
 
Arriveer die gaste, is dit 'n vreeslike gegroet en gedruk. Sitplekke word aangedui en drankies geskink. Tussendeur probeer gasvrou haar stylvolle self wees.
 
Familie en vriende wat mekaar lanklaas gesien of van gehoor het , ruil oor en weer oppervlakkige geselsies uit. Wat my nou laat wonder. As hulle nie gedurende die jaar kontak gehad het nie, vanwaar die hartlikheid op hierdie Feesdag? Kleinneef Alles-weet, wat jou verlede jaar en al die vorige jare geïrriteer het met sy ontydige, persoonlike afgewaterde pittighede, is weereens langs die tafel.
 
Oom Vaat Brink, aangetroude van die een of ander niggie, glo dat die glas brandewyn en Coke, geen verskil van 'n pikante glasie sjerrie is nie. Solank daar net iets in die glas is om die feesvieringe in te lyf. En dan, almal van ons ken Gert Spiere, wat glo sy borskas en 6-pak moet vertoon word. Dalk nou nie deur die oopknoophemp nie, maar wel deur die knap nommertjie wat hy aanhet. Mens verkyk jou meer aan die knapheid van die hemp en wonder hoe hy dit aangekry het, as aan sy geseënde lyf. Pronkperd sal hy van gas na gas beweeg.
 
Broer IK se kinders is steeds die slimste twee wesens wat ooit hulle voete op hierdie dierbare aarde van ons gesit het. Hulle vlieg eintlik, want volgens hulle pa se vertellings, kan wesens soos hulle net hier en daar grond raak. Hulle loopbane is benydenswaardig, hul salarisse grens kort duskant 'n Oppenheimer s'n en natuurlik hou hulle op hierdie spesifieke dag vakansie op die een of ander idilliese eiland. Gasvrou raak nie betrokke in die gespog nie, want haar twee bloeitjies het net-net op hulle gatte deur hulle onderskeie standerds geskuur. Knik net nou en dan haar kop.
 
Laatmiddag as almal klaar geëet en gedrink het, word daar met uitgestrekte bene en moeë oë agteroor gesit. Gasvrou is steeds besig om al wat gebruik is uit te krap, af te vee, op te was of weg te pak. Beide sit- en eetkamer lê vol van die Groot eet se papierhoedjies, krummels en papiertjies.
 
Vroegaand as al die gaste weg is en gasvrou stokflou neerplons op haar stoel, neem sy haar voor, "dit was die laaste keer".
 
Tot middel volgende jaar, wat die vrouens weer begin resepte uitruil vir die groot feesviering in Desember.
 
 
Groetnis tot net voor die Groot eet!

Tallie