Die Lente is besig om vinnig sy of is dit nou haar, buiging te maak. As dit gelyk het asof van die struike ophou groei het, dan verras hulle ons nou met nuwe, vet, blink volmaakte blare.
 
Nog 'n seisoen is ampertjies hier en ek pak met genoegdoening die meeste winterklere weg, vir volgende jaar.
 
Tussendeur kyk ek in die spieël en sien nog 'n fyn lyntjie wat besig is om sy plek in te burger op my gesig. Mmmm, van hulle raak mens nie maklik ontslae nie.
 
Dan vra ek myself, waarna jaag ons. Waarom wens ons die tyd verby? Of dit die winter se koue of die somer se hitte, ons hou aanhou wens vir meer, minder, warmer, koeler. Selfs ouderdom bring nie berusting van dit wat ons op 'n spesifieke oomblik ervaar of beleef nie.
 
Ons kla so maklik dat ons lewe eentonig, voorspelbaar en geroetineerd is. Besef ons nie dat ons self daardie ritme skep van slaap, werk, eet, slaap skep nie? Skep ons nog tyd om vir 7 minute stil te staan en dit waarin ons is, hetsy goed of sleg in te neem? Eers dan sal ons die verskil van 'n "verskil maak" besef, hoe gering ook al.
 
Ek kyk soms na foto's van myself wat 20 of 30 jaar gelede geneem is. Op daardie tydstip het ek gedink ek is vet en het natuurlik al wat dieet is probeer om gewig te verloor. As ek vandag na die foto's kyk, besef ek dat ek geensins oorgewig was nie. Maar mens maak mos hierdie dinge in jou kop wys. Hoe se hulle nou weer? "Mens kan nooit Te maer, Te ryk of Tevrede" wees nie. Die Tevrede deel is sommer my bydrae tot die TE gesegde. Dit is eers wanneer jy jare later terugkyk en besef hoe verkeerd jy in jou denkwyse was. En steeds leer ons nie daaruit nie.
 
Die resessie het ook twee jaar gelede sy merk op ons familie gelaat. Vandag se ek dankie vir dit wat ons daaruit kon leer. Ek waardeer dinge meer, selfs die warm water wat by die stortkop uitloop wanneer ek soggens stort vir werk. Wanneer ek my kar aansit, se ek dankie Vader vir die voorreg om met 'n kar te ry wat ek nie eers aan die brand moet stoot nie. Daar is net so baie duisende mense wat nie naastenby het wat ek het nie.
 
'n Goeie kennis van ons se dogter lê kritiek in die hospitaal na 'n galblaas-operasie. Sy het 2 klein kinders en 'n man wat nie weet wat om te verwag as die telefoon lui nie. Sy is net 35 jaar oud. Kan julle onthou waarvoor julle gewens het toe julle 35 jaar oud was?
 
Ons moet ophou wens dat die tyd verbygaan, ophou hoop op more en oormore. Vandag is wat saak maak. Jy het op hierdie oomblik tyd om 'n verskil te maak. Wees tevrede waarmee jy het, jy het dalk meer as baie ander, jy is dalk gelukkiger as baie ander. SIEN DIT NET RAAK.
 
Maak hierdie komende maand 'n verskil in iemand se lewe. Jy weet nooit wanneer jy die lente in iemand se lewe bring nie.