So land daar nou weer gister so 'n lysie in my e-pos boks. Baie mooi uiteengesit met foto'tjies van die kindertjies, elkeen se verdrietige omstandighede en geskiedenis. Geen fout daarmee nie, dit is die werklikheid daar buite. Alles word gebruik om die maksimum emosie aan te raak.
 
Die lysie van behoeftes lees as volg:
 

40 pakke weggooidoeke (verskillende groottes)
24 blikke sojamelk
verskeie pakke wetwipes
'n sekere bekende naam melkbottels vir babas
'n sekere bekende soort "dummies"
skoonmaakmiddels vir verkillende groottes en bekende name
bekende naam baba-bad-middels
'n bekende pienk middel vir baba se brandboudjies
 
 
Nou wonder ek net. Wat het geword van mooi spierwit linnedoeke waarmee ons ons kinders grootgemaak het. Daar was nie bekende pienkmiddels vir bababoudjies nie. 'n Lekker groot pot Vaseline het menige bababoudjie wang-pienk gehou. Daar was nie dinge soos wetwipes nie, baba het 'n gesig- en 'n boudjie-waslap gehad. Dieselfde met duur bababottels en dummies. Daar was of nie geld daarvoor nie, of dit was nie daardie tyd beskikbaar nie.
 
Ryk en arm het dieselfde middels, doeke, bottels en as baba nie 'n allergie gehad het nie, dieselfde blikke melk.
 
Ek voel dis tyd dat ons terugkeer na die basics van ouds. Te veel geld word spandeer op middels wat hopeloos te duur is, maar dieselfde funksie verrig as middels van ouds, wat nie net goedkoper is nie, maar soms beter gewerk het ook.
 
Ek gee nie om om te help waar ek kan nie, maar om 'n pak weggooidoeke ten duurste te koop, net om dit weg te gooi sodra daar 'n nat kolletjie op is, steek my dwars in die krop. Noem my prakties, noem my suinig, noem my enige iets, maar so wat van geldmors in vandag se moeilike ekonomiese omstandighede, kan ek nie oor my hart kry nie.
 
Daar het nou 'n neiging met tweedehandse babaklere in Amerika posgevat. Daar is 'n plek waarheen jy al jou tweedehandse babaklere bring. Daar mag geen merke, kolle of stukkend-merke op wees nie. Dit word gehang in groottes asof jy na 'n gewone nuwe klerewinkel sou gaan. Alles skoon, netjies en volgens kleur en grootte.
 
Jy ruil dan jou klere vir nommers waarin jy 'n behoefte het vir jou baba of kleuter. 'n Ander opsie is dat jy klere kan koop ook. Hierdie neiging is nie net tussen die arm en behoeftige mensies nie. Ryk en arm staan skouer teen skouer om vir hulle kleingoed klere te "koop". Jy kan in daardie "winkels" van die duurste handelsmerke koop of ruil.
 
Hoe lank gaan dit vir baie van ons nog neem om al die blink af te gooi en net weer die kosbare onder die lagie vernis raak te sien, en te waardeer? Wag ons vir mekaar, of gaan een van ons pragtige vroue en ma's die voortou neem met lekker "back to basic" -idees?

Groetnis