Eers het ons verslaap, hopeloos verslaap. Met die aantrek-slag, vind ek dat die klere wat ek ingepak het vir die naweek, glad nie by die koue wintermôre gepas het nie, dus moes ek raap en skraap om ietsie bymekaar te kry. Dit was dus met baie gemaklike, draklere wat ek die oggend in die kerk gesit het. Ons was so laat vir kerk, maar iets het my forseer, aangemaan, van agter my rug die kerk ingestoor. Net vir 'n oomblik het ek gevoel, ek is mos nie vir my mede-kerkgangers in die kerk nie, is ek? NEE! Dus, sit ek toe maar met my "raapskraap" klere.
 
Die rede waarom ek so lief is vir hierdie spesifieke kerkie, is die samehorigheidsgevoel, die vroue wat nog 'n hoed op Sondae dra. Niks in die kerk is vernaam nie, niks blink en uitspattig. Die dorp is nie bekend vir sy vername en gegoede inwoners nie. Die mense wat saam met ons die kerkdiens bywoon is "sout van die aarde"-mense. Mense met 'n sagtheid in hul oë.

Aanvanklik het ek soos 'n seer-vinger gevoel wanneer ek Sondae met my stadsklere die kerk instap. Tog, in hierdie mense het ek 'n rykheid ontdek. Ryk in lewenservaring, ryk in afhanklikheid van die Here, ryk in omgee vir mekaar, want dit is al wat daar is. Wanneer die woeste wind waai en die branders soos sneltreine teen die rotse vas jaag, wanneer die see suinig is met sy gawes, dis dan wat omgee vir mekaar oorbly. Dit is dan wat 'n sagte hand op die skouer druk en se "al hierdie bekommernisse sal verbygaan, die see sal weer gee."
 
Dit is die vroue wat sterkstaan op land wanneer sy huis en haard bymekaar moet hou. Dis die mans wat die onbekende aandurf om die magies by die huis vol te hou.
 
Dit was vadersdag en ons sit soos gewoonlik, agter in die kerk. Ek sit die mense en kyk, terwyl ek luister na die boodskap.
 
Een ry voor ons, heeltemal op die regterpunt skuins voor my, sit 'n man. Heeltemal eenkant. Langs hom aan sy linkerkant, is drie stoele leeg. Ek kan sien hy is nie meer jonk nie. Hy is skraal en sit ineengekrimp, arms inmekaar gevou. Bene oormekaar gekruis. Sy donker pak klere dui op 'n naoorlogse snit. Sy hare is van die kroontjie op die middel van sy kop, alles vorentoe gekam. Sy nek en gesig is bruingebrand. Toe ek afkyk na die vloer, sien ek hy het "crocs" aan met donker blokkie-sokkies.
 
Hy vou sy voete onder hom in, asof hy sy skoene wil wegsteek. Hy kyk nie links of regs nie, hy kyk net voor hom. Na die preekstoel en boodskapper.
 
Daar is iets in hom wat my interesseer, sy storie, sy lewensverhaal, die dinge wat hom laat asemhaal, die rede vir sy opstaan in die more.
 
Toe die diens verby is, en ons uitstap, gebeur dit dat hy toevallig vir my moet wag by die stoele se gangetjie. Vir 'n oomblik ontmoet ek sy oë, en ek sien 'n sagtheid, 'n lig in sy oë, en ek knik net my kop as 'n groetgebaar.
 
Laatmiddag gesels ek met 'n vriendin van die dorp en vra haar of sy weet wie die man is.
 
"Ja", vertel sy. "Louis was jare gelede 'n gegoede man van die bo-dorp. Hy het heelwat skuite gehad wat soggens die onbekende pad see toe gevat het. Hy het twee seuns gehad, Henkie en Bertus.
 
Dit was in die winter van 1954, wat die bote weer see toe is. 'n Hewige storm het losgebars oor die see. Die boot waar Henkie op was, het omgeslaan. Louis en Bertus het Henkie te hulp gesnel. Die golwe was hoog. Die deinings het dit onmoontlik gemaak om by Henkie uit te kom en Bertus het die see ingeduik, gehoop om Henkie te help.
 
Albei seuns het ons die water verdwyn, met Louis wat magteloos staan en toekyk.
 
Louis was nooit weer Louis soos die dorp hom geken het nie. Die dorpenaars kry hom baiemaal langs die kus, waar hy net na die see sit en staar.
 
En skielik onthou ek Uys Krige se gedig:
 
KEN JY DIE SEE (Fragment)

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?

Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur...
Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kliphuis, kalm en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas.
En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos ‘n veer gevee
deur ‘n grys golf hoog soos ‘n tronk se muur.
Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
sluk jy eers daardie waters sout en suur?
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur...
Sien jy die krom ou vroutjie daar, mevrou Mathee,
wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briese bring haar seuns betyds vir tee.
Hul slaap aldrie agter die kerkhofmuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur...

Groetnis!