Die weer was fantasties en ek, manlief, seun en sy nuwe liefde het soggens vroeg op die stoep gesit en koffiedrink. Hierdie was ook sommer ons Kersfees-ete-kuier-afskeid, want ek en manlief vertrek oor twee dae na ons oorsese kinders en kleinkinders. Of moet ek eerder se, kleinkinders en kinders. Kleinkinders het mos die gawe om hul ouers se plekke weg te druk in mens se hart. Hulle druk hulleself in die diepste plekkies, daar waar niemand hulle kan uitkry nie.
 
Vrydagoggend, net na koffiedrink, spring elkeen vir 'n beurt in die stort, almal ewe haastig vir die pad af strand toe. Manlief gaan kreef uithaal saam met ons bure. Hulle is lank voor ons ry, al weg see toe. Seunskind, gewapen met sy permitte, het gou-gou sy kwota seekos vir die dag uitgehaal. Ons geniet die eerste werklike somerweer van die seisoen. Middagete is lekker growwe toebroodjies met kouevleis, rocket en appelrooi tamaties.
 
Laatmiddag ry ons moeg, maar ontspanne by die hek in. Voor ons staan 'n ander provinsie-registrasienommer karretjie en sleepwa. Ek sien die man en vrou klim uit. Ek bly in die kar sit, terwyl die kinders uitklim en die huis instap. Die man kom na my aangestap, "Hallo, ek is Ben", se hy. "Hallo Ben, kan ek help?" "Ja, jou man het ons genooi om die vakansie 'n paar dae by julle te kom kuier", antwoord hy. "Huh, se weer", antwoord ek.
 
"Ek het jou man op die een of ander jag-trip ontmoet, hy het vertel dat julle 'n vakansiehuis het, en toe ek hom vra, se hy dis reg, ons kan die einde van die jaar 'n paar dae kom kuier." Net so. Uit die hoek van my oog, sien ek hoe sy vrou die tasse en mandjie van die treiler aflaai.
 
Ek glo nie wat my oë sien of wat my ore nou besig is om te hoor nie.
 
Ek sit steeds in die kar - te verontwaardig om uit te klim.
 
"Ben, ek is verskriklik jammer, maar ek weet niks hiervan nie, en hier is in elk geval nie slaapplek nie. Die kinders is hier en my skoonouers kom vroeg moreoggend deur".
 
"Die ding is Tallie, my bankkaart werk ook nie, en ek is bietjie kort van geld". Dit voel asof ek droom, ek kan nie glo wat ek hoor nie.
 
"Luister Ben, ek kan jou ongelukkig nie help nie. My man is op die see saam met vriende vir die dag, en ek en die kinders het planne vir die res van die dag", ek is vreeeeeeslik jammer". Ek stel voor jy kontak een van die jagtersvriende van jou vir moontlike akkommodasie vir die vakansie".
 
Ek glo sy vrou moes agterkom wat aangaan, want sy begin die mandjie, tasse en sakke terugpak. Ek ry agteruit by die paadjie en parkeer in die straat. Hulle klim terug in die kar, en ry die karretjie met die sleepwa skeef-skeef agteruit.
 
Hulle kyk nie eenkeer in my rigting nie.
 
Toe hy langs my stop om straat-af te ry, skree hy deur die venster, "Sê vir jou man hy is 'n bliksem".
 
Manlief slaap nou al twee dae in die gastekamer.