Vir jare het sy haar eie woonstel gehad met al haar kosbaarhede, selfs vir haar 'n splinternuwe motor gekoop. Roelien het baie vriende gehad, maar geen spesifieke jongman as kêrel nie. Tog was haar hunkering na daardie spesiale persoon iets wat haar baiemaal gepla het. Sy wou bemin en liefgehê word.
 
Tot op 'n dag, wat daardie ridder op sy wit perd voor haar deur kom staan het. Roelien was tot oor haar ore toe verlief. Ridder het die nodige in Roelien se oor gefluister en kort voor lank trek Ridder toe by Roelien in. Roelien het bederf en aangedra. Ridder het gespreek en Roelien het gespring.
 
Wat ons natuurlik nie geweet het nie, was dat dit 'n werklose, bloedsuiende ridder was. Tog, het Roelien geen skewe woord oor Ridder geuiter nie. Sy wou niks verkeerds weet van Ridder nie.

Ridder het soggens vir Roelien met haar motor kom aflaai en baie middae het Roelien tot na son sak vir die neus van haar motortjie wat om die hoek moes kom, gewag. Ons weet van twee keer wat Roelien verniet gewag het. Ridder het haar nie kom haal nie.
 
Dit was 'n triestige, reënerige Maandagoggend toe Roelien met 'n donkerbril by die werk opdaag. Sy het ingestap en niemand gegroet nie. Sy het gefokus voor haar rekenaar gesit en probeer om nie op te kyk wanneer iemand met haar praat nie. Donkerbril was nou al af, maar Roelien was nie spraaksaam nie.
 
Einde ten laaste, kon een van die kollegas dit nie meer hou nie, en het sy Roelien konfronteer. Steeds het Roelien vir Ridder geskerm deur te se die merke op haar gesig is van 'n val. Roelien se werk het begin agteruitgaan en sy het probeer om alles bymekaar te hou.
 
Dit was nie maande later nie, toe die eerste dagvaardigings by die werk begin opdaag. Roelien was in 'n kolk van skuld vasgedraai. Sy het probeer geld leen by die werk, maar die werk kon net so ver help. Ridder het egter nie sy greep op Roelien verslap nie, en sy het net meer en meer skuld gemaak om aan sy onversadigde drang na meer, te voldoen.
 
Almal rondom haar het magteloos staan en toekyk hoe Ridder besig was om Roelien te vernietig. Haar ouers het kom praat en help, maar Roelien het vasgeskop en gesê dit haar lewe en haar besluit. Ridder het haar teen almal opgesweep en vervreem. Die blinkoog meisiekind wat by die maatskappy begin werk het, was reeds lankal weg. Dit was 'n verskrikte, bekommerde dame wat soggens haar plek in die kantoor ingeneem het.
 
Tot een laatoggend toe die telefoon in die kantoor lui ...