Ék kyk in die straatlig se rigting en besef dis die digte mis wat buite hang. Die straatlig het 'n sagte orange skynsel. Selfs die volmaan hang vanaand dof in die verte.
 
Ek hoor die tv in die agtergrond - steurend - en ek besluit om dit af te sit. Dis doodstil buite. Geen motors wat ry of stadshonde wat blaf nie.

Kan mens luister na stilte? Ek glo so. Om te luister en niks te hoor nie - dis hemels.
 
In ons almal se besige bestaan, is stilte 'n luukse. Weet ons nog hoe om stilte te geniet? Net jy en jou gedagtes. Of, as jy dit verkies, jy en niks.
 
Baie aande wanneer ek op my knieë voor die bed staan, sê ek dankie vir die stilte rondom my. Dankie vir rustigheid.
 
Dis dan wat ek 'n gebedjie opsê vir die ma wat wag dat haar kind moet huis toe kom. Of vir die moedelose ma wat nie weet hoe sy haar kleingoed se magies gaan volkry nie. Ek bid vir die jong mamma wat met 'n siek baba sit, en nie meer raad het hoe om die kleinding gesond te kry nie.
 
Ek dink aan die gesin waar rusies vanaand die botoon voer. Waar 'n jong kind vanaand voel hy kan met die duvet sy ore toedruk om nie die geskree en geskel te hoor nie. Ek bid vir die ouer wat 'n kind verloor het. Of die mens wat in 'n liefdelose huwelik vasgevang is, wat nie meer seker is oor hoe sy of haar pad vorentoe lyk nie.
 
Ek bid vir elke gesin wat vasgevang is in drank- of dwelmmisbruik. Waar die res van die gesin die gevangenisse is van die persoon wat in daardie hel van dwelm vasgeketting is.
 
Daar is mense wat sê, wanneer jy onverwags vroeg in die more wakkerword en wawydwakker lê, moet jy net luister. Dis dan wat Jesus met jou wil praat, jy moet net luister.
 
Ek neem die laaste slukkie tee, en besef net weer, hierdie magiese, rustige, doodstil, mistige stoepsit vanaand, is "priceless".
 
 
Groetnis