Die son het flou geskyn, maar vir oulaas wou Jesus jou ‘n sonskyndag op aarde gee.
Dit was net na 7 vanaand, toe ek die tyding kry dat jy oorlede is.  

En nou le ek in die donker in my bed, en ek wonder. Ek wonder hoe het 30 jaar so vinnig verby gegaan. Vir jare lank was ons vriendinne. Jy, nooit getroud nie. Ek, getroud, kinders, selfs ouma geword. En deur dit alles was jy daar.

Jou diere was vir jou die kinders wat jy nooit sou hê. By my sou jy na die nuutste baba-uitvindsels luister, terwyl jy sou vertel van Bella en die katte. Gemmerkat het gewoonlik sit en luister terwyl ons twee oor die telefoon sou praat. Wel, jy sou vertel hoe Gemmerkat saamgesels, en ek sou dit glo.

Was jy by jou volle positiewe toe hulle jou verlede Sondag in jou huis kry? Toe ek Maandag by jou in die hospitaal kom, het jy verwese daar gelê. Jy wou nie eet nie, gesê die kos smaak sleg.

Jy’t gesê ek moet my nommer in jou hand sit dat jy my kan bel om jou te kom haal. Jy kon nie jou arms lig nie, en ek het die nommer op jou bors onder die kombers neergesit.

Weet jy dat ek en Braam Dinsdag by jou was? Het die Sustertjie van Kenia vir jou vertel dat ons gekeer het dat hulle jou huis toe stuur? Ons het toe al geweet jy sou nooit weer jou ou self wees nie.

Beroerte het hulle gesê. Is dit ‘n verkorte weergawe vir ‘n lewensvlammetjie wat stadig uitgedoof word?

Jou diere was reeds weggeneem, maar dit sou jy nooit weet. Die feit dat hulle goedversorgd is, sou aan jou geen verskil maak. Hulle was joune en hulle moes by die huis wees. Julle huis.

Jy’t my toe nie gebel om jou te kom haal nie. Ek skakel vir oulaas jou huisnommer. Hoekom weet ek nie, ek weet mos jy gaan dit nie optel nie.

Vanaand, met die sak van die wintersonnetjie, het jy totsiens gesê aan hierdie ou wêreld.

Mag jy in vrede rus. Mag jy in die Hemel tuinmaak en met dierekinders speel. En mag jou blou-blou oë altyd op Jesus rus.

Ek gaan nou groet, want ek moet probeer slaap. Ons het more ‘n begrafnis om te reel, so ek gaan nou.

Vriendin, baie dankie vir jou vriendskap van 30 jaar.