En daar gaan julle . . . Sy voor met lang bene, jy agterna.

“Stuur my!” roep sy uit.

“Waantoe?!” vra jy.

Deur die sitkamer, die eetkamer en gang af tot in die kombuis en terug. Sy’t haar matriekafskeidsrok aan vir die geleentheid. Dis net dat jy nooit geleer tango het nie, maar jy’t dit op Strictly Come Dancing gesien. Jy dink dis ’n gesondheidsrisiko as mense mekaar so rondpluk terwyl hulle teen mekaar skuur. Jou nek kan uit lit spring en wat help die geskuurdery dan? Buitendien trek sy aanmekaar weg.

“Jy trek aanmekaar weg as ek nader kom,” kla jy. Kom-hier-gaan-weg, vat-my-los-my. Jy hoor hoe bandoneóns in Buenos Aires kerm met uitgerekte konsertina-klanke, eers ekstaties, dan meewarig, sugtend, smagtend, sensueel, kil, tergend, hitsig, haastig, eroties, eufories, vriendelik-dog-ferm. Julle omsingel mekaar soos katte.

Sy dink aan kolonel Al Pacino, wat daardie vrou in die swart nommertjie met die kaal rug blindelings in Scent of a Woman lei. Jy dink meer in die rigting van Marlon Brando in Last Tango in Paris.

“Vóél die passie, Patrys!” sê sy. Al wat jy voel, is jou asem wat begin jaag en jou tong wat lê.

“Jy gaan te vinnig!” keer jy.

“Vinniger!” sê sy.

“Balke toe!” antwoord jy.

“Moenie simpel wees nie!” sê sy. “Laat jou voete glýýý, dis ’n vloéééiende beweging.”

“Is ek nie veronderstel om ’n roosstingel tussen my tande vas te byt nie?” vra jy. Maar daar’s nie rose nie. Jy gryp ’n papawer uit die blompot op die tafel. Die papawer se koppie hang dadelik. “En is jy nie veronderstel om ’n lang spleet in jou rok te hê nie, tot bo?” Sy sê dis opsioneel, nie alle tango’s wys been nie.

“Konsentreer nou! Improviseer! Abrazo!

“Wat praat jy???”

“Omhels my! Abrazo beteken omhels my!”

Daar’s twee soorte: ’n “oop” omhelsing - met afstand tussen julle - teenoor ’n “toe” omhelsing - met jul bolywe of heupe teen mekaar (dis waar die geskuurdery vandaan kom). Jy omhels haar sommer oop en toe. Julle stamp koppe.

“Sien jy nou?” vermaan sy. “Daar stamp jy my neus raak, eina.” Die papawer werk ook nie so goed nie, dis ál tussenin. Jy spoeg dit uit.

Skielik swaai sy om, die ene kwaaikat in haar matriekafskeidsrok, jy kan borde hoor breek. Dis presies soos die tango werk: Sy neuk jou die heeltyd rond, nes in die werklike lewe. Kyk, sy probeer jou pootjie. Sy haak haar een been om joune in die seekat-posisie. Hulle noem dit die gancho.

Gancho!” roep sy uit en jul knieë knoop amper.

Gotcha!” antwoord jy terwyl jy haar onverwags van links bespring.

“Bly stil!” sê sy en gee jou ’n pluk.

Want die tango is eintlik dialoog sonder woorde, ’n tweegesprek in stilte. Julle bly dus albei stil, jy konsentreer selfs en improviseer: Jy gooi haar agteroor in die waai van jou linkerarm, haar kop raak amper aan die vloer en haar een been lig op. Toe glýýý jou voet, so vloéééiend onder jou uit.

“Whaaa! Vang my!” roep sy. Maar te laat ... Julle lê albei ruggelings, half bo-oor mekaar in die oorkruisposisie. Jy voel soos die papawer, ietwat pap.

“Kan ons nie maar so bly lê nie?” hyg jy.

Abrazo!” hyg sy terug.