Ek wil die oomblik vir altyd vashou, maar ek weet in my binneste dat daar nog vele sulke tye gaan wees.  Sulke tye kom sit en vou my toe met die fluweel oomblikke. Die lap is sag op my lyf, ek streel oor die ryk kleur.

Die eerste slukkie wyn kry lêplek op my tong en ek begin lees...

“Dit is ek wat vir jou geknipoog het, jy hou my nou vas. Ek het kom wegkruip in die boek want ek wil vir altyd in hierdie woud en in hierdie huis bly. Wat jy doen met my, my raad, my woorde, die geheime wat ek gaan deel is in jou hande.

My naam is Lucrezia Borgia! Ek is seker jy het al van my gehoor, ek was en is nog steeds berug. Maar glo my dit is alles onwaar, versinsels van dié wat my nie verstaan het nie. Die belangrikste is, ek het al my skatte saamgebring. Ek het my vriende, my vertrouelinge in die woud losgelaat en hulle wil jou baie graag ontmoet. 

Maak toe jou mond, die vlieë gaan daar invlieg. Ek weet meer as wat jy dink en ek gaan jou vertel hoe jy net soos ek só lank kan leef.“

Vir hierdie boek het ek meer as wyn nodig, waar is my bottel Jack? Ek kyk weer na die woorde, net wanneer ek hulle wíl lees verander elke letter en maak Afrikaanse woorde. Terwyl ek net kyk,  is dit ‘n mengelmoes van letters en simbole. Ek het tot my bril opgesit, na ek my gesig onder die kraan buite gaan nat spat het. Droom ek nie dalk nie? Ek loop ‘n slag om die huis, kyk die woud in. Beloer iemand my dalk? Ek gaan ruik aan my pyp se tabak, nee dit is beslis Cellini Classico! Wat hou my terug om my eie oë te glo?

Ongeloof is ‘n bliksem!

Ek skink ‘n knertsie whisky sommer in my blikbeker. Ek gaan sit weer, die keer met die blink steen op my skoot en lees verder.

“Nee, Tanya, jy kan nie uit ‘n blikbeker drink nie, kyk nou wat langs jou staan.”

Die blikbeker is nie meer ‘n blikbeker nie maar ‘n kristal glas waarin die sonstrale die whisky verskeie kleure gee. Ryk goud en brons weerkaats in die glas.

Hoe vertel ‘n mens wanneer die onbekende, die misterie, dit wat jy nie voor ‘n antwoord het nie met jou gebeur? Ek kyk oor my brilglase na Lucrezia se boek...