Ek en 'n besonderse jong vrou is by Vat en Betaal. Sy sien die mooiste perske pienk skoene op die rak en kyk verlangend daarna.  Haar "tannie" koop dit vir haar en soos ons terug ry huistoe vertel sy my waarby die skoene als sal pas.

Sy is 'n mooi mens, van binne en van buite. En ek weet sy hoef nie skoene aan te trek om 'n blywende indruk te los nie.  

Haar kop is reg op haar lyf geskroef en ons gesels spoedig oor tameletjie-onderwerpe. Ek vertel haar hoekom ek bly is dat ek eers later in my lewe swanger geraak het. Ek vertel haar van my uitkyk op die lewe.  Ek voel ek kan met haar gesels en ek doen so.  

Sy vertel my van haar vrese en hoe sy haar lewe "eendag" wil lei.  Sy vertel my van haar drome en wat sy wil bereik.  Ek kan nie genoeg kry van haar geselskap nie. Ons kliek net eenvoudig.  Ek voel geeerd dat sy haar geheime met my deel.  

Ons gesels oor skool, ek vertel haar van hoe rebels ek op skool was, dat ek matriek deur is met 'n goeie algemene kennis.  Ek vertel haar van my kunsonderwyseres wat my probeer vorm het soos sy my wou hê. Hoe ek vasgeskop het.  Ek vertel haar van aalwyne wat die juffrou wou hê ek groen moes verf, "soos dit regtig lyk, Tanya" , en van ek wat besluit het aalwyne gaan beter lyk in pers en pienk skakerings.

Sy vertel my van 'n mater wat almal rondom haar ontstig, wat altyd kla en tot haar ma bel om vir haar take te doen.  Sy noem hoe sy beslis nie soos die vriendin wil wees nie, hoe sy ook al talle male met haar gesels het.  Probeer deurdring het en aan haar wou oordra dat sy vir haarself verantwoording moet neem.

Sy vra die op-42-jaar-oud-ma-word-vir-die-eerste-keer vrou wat sy te doen staan.  Hoe benader sy hierdie vriendin? Hoe vertel sy haar wat op haar hart is met genoeg trefkrag dat sy kan sien hoe sy haar eie lewe benadeel?

Ek stel krampwater voor, Woodwards se krampwater om presies te wees.  Sune begin lag, "Oh my word, Tanya," sê sy. Dit kan net werk! Ons lag lekker daaroor en die botteltjie krampwater wat nou vir my staan en kyk laat my dink.

Baie keer is daar mense rondom jou wat jou 'n erge kramp gee maar wat jy dit liefs nie voor kan sê nie.  Wel, miskien moet jy? Maar ons almal is nie soos Tanya O'Connor wat net laat waai as sy iets op die hart het en haar mond soms te vinnig uitspoel nie! Ek moet ook maar leer van diplomasie, van takt en van wanneer om die regte woorde op die regte tyd te sê.  

Baie keer is ek vinnig om my mond oop te maak, en daar is volgens my nie iets mee verkeerd nie. Dit is hoe ek is! Partykeer is ek net te direk en reguit in hoe ek dit doen. Miskien moet ek my raad aan Sune volg en 'n voorraad Woodwards krampwater in my handsak hou, net vir ingeval ek myself wil oordra sonder woorde?