Lees haar blog waarin sy vertel hoe sy aangegaan het met haar lewe, maar ook die herinneringe van haar man se dood destyds neerpen.

31 Mei 2010

Ons almal is anders (maar tog dieselfde)

Ek en (skoon)ma sit by die Panorama kliniek, ons drink tee. Ek kyk na haar, ek voel hoe liefde in my hart opwel. Ek het weer 'n ma gekry, ek het weer 'n kans gekry. Ons is hier vir 'n besoek by 'n slim spesialis, 'n vrou so slim sy straal dit uit. Vandag sien ma haar kleinseun beweeg vir die eerste keer.

Ja ek is weer getroud, onbeskryflik gelukkig getroud, en na 'n miskraam twee jaar gelede is 'n baba op pad. Die pad tot hier vandag was 'n laaang eksamen. Ek het al die vakke geslaag maar nie altyd so goed nie, maar ek het dit tog gemaak. Ek het elke vraestel voltooi al was dit nie altyd met 'n A of 'n B nie.  Ek het my beste gegee vir myself, ek het nooit toegelaat dat die samelewing en mense my wysmaak wat ek weet nie vir myself sou werk nie.  Joan Armatrading sing 'n liedjie, ME MYSELF I . . . dit was net ek en myself en my drie honde.

Dit was vir my 'n aanpassing om alleen te wees, om die eerste oggend na my  man se dood wakker te word en te dink, ek is nou 'n weduwee. 

Om op te staan en te dink hy lê êrens in 'n yskas.

Die foon lui, dit is die Suid Afrikaanse Orgaanskenkingsvereniging. Hulle vra my man se organe! Eers wil ek elke watsenaam strip wat daar is om te strip. Ek wil vreeslik kwaad word. Hoe kan hulle my man se lyf wil he ? En toe die besef, hy is weg, die lyf wat by die hospitaal le is net 'n dop. 'n Vel sak met gebreekte bene hier en daar. Ek se vat maar, vat wat julle kan gebruik. 

Sy hartklep, beenmurg, korneas en vel word geoes. Sy vel gaan vir 'n dogtertjie met 70% brandwonde. Een van sy oe vir 'n kunsstudent, die ander vir 'n musiekonderwyseres. Sy beenmurg help 16 mense. Sy hartklep gee ook nuwe lewe.   Ek het die brief nog steeds, die brief wat dankie se. Dankie ? Dit klink snaaks, hoe se mens dankie vir organe ? Ek is soo bly ek kon help, en ek weet hy sou dit ook so wou he. 

Ek het al baie gedink oor die dood. Die oggend toe ons vir hom totsiens se en sy as in houtboksie langs sy geliefde bier staan besef ek hoe ek presies voel oor die dood.  Dit is 'n vars oggend, almal is daar in hulle beste klere, aangetrek om koebaai te se. Hulle motors blink, hulle blink, en ook die trane op hulle wange blink.  Ek glimlag, die eerste werklike glimlag, in 'n week. Die dood is 'n viering van die lewe, hy het sy take op die aarde voltooi, hy het voluit gelewe en nou is dit tyd vir hom om tata te se.  Hoe kan ek bitter wees oor die dood? Hoe kan ek vrae vra? Die dood is finaal en ek was bevoorreg om deel van sy lewe te wees. Ek sit sonder enige verwyte.  Ek het liefde, verstaan, blomme, vriendskap, motorfietse . . . wat ook al gegee toe hy geleef het.  Ek het vrede, en . . . ek het die lewe. 'n Lewe wat voorle om soos hy 'n verskil te maak in my eie lewe en in ander se lewe.

Ek het al gehoor, is al gesê, "ek kan nie glo jy het die dood dadelik aanvaar nie" ? Hoe kon jy, daar is mos prosesse ? Wel dit is juis hoekom ek hierdie skrywe noem ons almal is anders.  Ek was eerlik met myself, ek het gedoen, opgetree en aangegaan met die lewe want my uitkyk en filosofie het vir my gewerk.   Ek het aanvaar ek is anders as ek dit kan vergelyk met die samelewing se proses gedrewe standaarde wat dood, hartseer, aanvaarding en liefde aan betref!

My uitkyk werk nog steeds vir my! Nee ek gaan nie crack nie, nie nou of vorentoe nie. Hoekom sou ek, ek doen elke dag selfondersoek en ek luister vir my eerlike self.  My dae is nie elke dag vol voelgesang of pronkertjies wat altyd lekker ruik nie. Hier en daar is daar wel 'n malva en 'n haantjie wat al van vroeg af iriterend kraai. Ek is egter oortuig dat wat ook al op my pad kom ek mee hand kan skud en se kom ons gesels. Kom ons maak dit werk, kom ons verander dit, soek 'n uitweg en gaan aan met die lewe!