Ek het 'n ou oorpak van my pa aan. My maters langs my is net so behang met kettings en die hare is in allerhande kleure. Ek onthou die aand goed! Dit was 'n "Back Streets of London"-partytjie en ons het oorboord gegaan.  Deesdae is blou lippe in en ek hang nou 'n perdestang om my nek, so ek het nie baie verander nie! Miskien is die heupe wyer en die hare skakerings van rooi om die grys by die slape weg te steek, maar van binne is ek nog dieselfde.

Die aand is vars in my geheue, hoe kan ek vergeet dat ek daardie aand die perfekte "jump" gespring het, net soos David Lee Roth van Van Halen? Ek het 'n paar weke gelede hul nuutste CD gekoop en een liedjie wat "live" opgeneem is se woorde, wat David L Roth met die skare deel, het my bygebly. Hy het vertel van hoe hy een aand voor die konsert in sy hotelkamer sit en worry het oor die "show". Hy sê terwyl hy sy tyd gemors het om hom te bekommer het sy mede-"band"-lede geparty soos min in 'n ander deel van die hotel. Hy vertel die jillende menigte, "What matters is right here right now, tomorrow my never come, and *&^&& tomorrow". Wat tel is nou en hier!

Mnr. Roth se woorde weergalm in my kop, klap teen die wande van my skedel terwyl ek oor die woeste see uitkyk. Die wind waai verwoed. Koning Neptune roer die see met sy enorme vurk, sy wit seeperde met skuimpote is op galop. Dit gaan woes daar op die oop see, en ek wonder hoe dit moet wees om in die seesproei te wees? Hoe moet dit voel? Ek dink aan David se woorde, en ek geniet elke sekonde van die oomblik, van die kyk en van die dink.

Hoeveel keer dink ek aan ander onbenullighede wanneer die oomblik waarin ek my bevind die beste van my lewe kan wees? Ek kry hoendervleis terwyl ek hier skryf, ek raak sooo opgewonde en ek spreek myself hard aan! Tanya jy GAAAN van nou af elke oomblik van jou lewe indrink, jy gaan dit ervaar, jy gaan vertoef in daardie oomblik! Ek ril wanneer ek dink hoeveel sulke oomblikke ek al vermors het. Hoeveel keer was ek op 'n plek, by 'n mens, in 'n oomblik en ek het dit nie werklik myne gemaak nie? Ek was nie werklik daar nie.

Dit help nie om daaroor te tob nie, dit help nie om kwaad te wees vir myself nie, wat help, is om die besluit te neem om NOU en HIER te geniet! Om NOU en HIER myne te maak, want ek gaan nooit weer die voorreg hê van NOU en HIER nie!

PS. Ek staan op en gaan skink 'n glasie 5 jaar oue De Compagnie Brandewyn! Cheers op Koning Neptune en sy vurk, maar die grootste cheers op NOU en HIER!