29 Julie

Op my maag kan ek beslis nie meer lê nie want die ertjie het gegroei na ‘n lemoen en die lemoen na ‘n waatlemoen. Ek slaap sleg en boonop slaap ek alleen, behalwe natuurlik vir Chivas wat al vroeg oggend kom oui oui het by die kamerdeur. Hy sal nie net op die bed klim nie, jy moet hom nooi. Nou is hy rustig en ek is wakker.
 
Ek mis my man, hy werk op Swellendam, hy hou van sy werk is al vir baie jare werksaam by sy maatskappy. Hoe kan ek hom vra om te verander, dit sou selfsugtig wees. Hy teken al pad optel, padmaak masjiene op skaal vandat hy vyf jaar oud is. Ek is oukei daarmee, ek is lief vir hom. Ek is ook al gewoond daaraan dat hy soms wegwerk van die huis af.
 
Ek lê en kyk TV, ‘n mooi storietjie sou ek dit eers genoem het, ek huil nie met hartseer stories nie, dis mos net ‘n storie! Deesdae loop die trane egter maklik, kan net die klein Rory wees wat trek aan sy ma se hart. Die storie gaan oor ‘n man wat ‘n “Reading Room” begin en al die struikelblokke op sy pad, van bendes wat sy “room” amper afbrand tot ‘n 'reverend' wat hom kritiseer en vertel dat hy nie die mas gaan opkom nie. Daar is ook ‘n seun in die verhaal wat sukkel met lees, ‘n ma wat werk en nie weet waar om haar kind heen te neem nie, brokkies uit die samelewing. Baie naby aan die werklike lewe, probleme, geweld, kritiek en haat.
 
Ek wonder hoekom kan mense nie net iets lekker aanvaar nie, hoekom MOET daar altyd kritiek wees? Hoekom kan een persoon nie ‘n ander se geluk aanvaar nie, hoekom moet dit bevraagteken word? Hoekom moet daar gesoek word vir foute/onderliggende probleme/wat ook al as ‘n persoon sê hy/sy is gelukkig? Hoekom nie liewer vrae vra oor die geluk nie, hoe het die persoon te werk gegaan om gelukkig te wees? Hoekom is hy/sy gelukkig?
 
Hoekom nie die individualiteit van ‘n medemens erken as hy/sy sê ek is gelukkig en dit of dat het vir my gewerk nie? Ons almal hanteer die lewe op ‘n ander manier.  
 
‘n Wyse man het eendag vir my gesê : “Ons leef in ‘n gebroke wêreld, en ons almal hanteer ons gebrokenheid op ‘n ander manier.”  
 
Hoekom dan nog mekaar kritiseer as die wêreld al klaar ‘n eina plek is? Is dit nie beter om liewer te vra voor jy kritiseer nie? Vra hoekom dink jy so? Vra hoekom het dit wat jy verkondig vir jou gewerk? Vra hoekom het jy dit gesê? Hoekom net inklim met ‘n opinie.
 
My kind laat my dink al is die klein Ier nog nie langs my nie. Hy laat my dink aan my tekortkominge, hy laat my dink aan kritiseer. Hy laat my wonder hoekom mense kritiseer, is hulle nie maar net eenvoudig seer van binne en kan nie ‘n ander se geluk/sukses/vrede noem maar op hanteer nie?
 
Ek het gisteraand aan nog ‘n hoofstuk begin skryf, die hoofstuk se naam was “Om dankie te sê”. Ek het gedink ek gaan dit sommer vinnig klaar skryf. Ek het tot ‘n lysie gemaak voor die tyd. Die hoofstuk is nog nie klaar nie, daar is so baie om voor dankie te sê.
 
Bo aan was die motorfiets se naam waarop my man dood is, ek het dankie gesê dat die motorfiets my man weer laat lag het. Hom weer selfwaarde gegee het. Klink lekker vlak, ‘n stuk metaal, materiële iets wat jou gelukkig maak. Hoekom nie? In ‘n gebroke wêreld moet jy als gebruik wat jy kan om ‘n glimlag op jou gesig te sit. En dit klink nog meer plastiek, maar dink so daaraan. As ek destyds nie my Revlon lipstiffie nader getrek het nie kon ek nie nou hier tik nie. Ek het ‘n besluit geneem om my gesig te verf vir die lewe. Al was dit net met R30 se lipstiffie!
 
Ek sê dankie vir die eina in my lewe, nee ek het nie ‘n afwyking nie, ek weet net wat vir my werk. As ek nie ‘n paar jaar gelede van ‘n perd afgeval het nie sou ek nie weer opgeklim het nie. Die opklim was vir my ‘n les dat ek op enige uitdaging kan klim en dit kan ry!
 
Ek sê ook dankie vir kritiek, opbouend en afbrekend. Die opbouende kritiek van mense het ek al aan gewerk, en dit het my weer by ander waarhede uitgebring. Die afbrekende kritiek het my ‘n sterker mens gemaak en my laat besef dat baie keer staan die wat afbreek agter die deur met hul kritiek se naam daar op geskryf.
 
As ek nie die kans gevat het om my siel oop te maak nie sou ek nie hierdie boek kon skryf nie. Daar het baie trane op my Appeltjie se toetsbord al geval. En trane is nie koud nie, dit is warm, dit kom uit jou hart uit. Juis vanoggend toe ek my bril opsit, was daar trane in my oe en my bril het toegewasem.  
 
Trane van dankbaarheid vir wakker wees om die fliek op TV te kyk, trane van dankie sê vir klein Rory wat sy ma wakker gemaak het sodat sy hierdie woorde kon skryf.