En tog, toe ek pas oor die radio hoor dat die taxibestuurders vandag staak, het ek ’n rare opwelling van empatie beleef. Seker omdat ek die afgelope paar maande voel asof ek van beroep verander het. Ek is nie meer ’n skrywende ma nie, ek is ’n drywende ma. Drywend soos in dobberend op die woeste waters van die noodlot. Maar bowenal drywend soos in die drywer van ’n kar.

En dit net omdat my wederhelf sy rybewys verloor het. Nie iewers verlê en nou soek hy dit nie. (Was dit maar só maklik.) Nee, Franse rybewyse werk volgens ’n puntestelsel. Vir selfs die geringste verkeersoortreding (soos om nie heeltemal by ’n stopstraat stil te hou nie) kan ’n bestuurder een of meer punte verloor. Soms sommer ses punte op ’n slag. As jy twaalf punte verloor het, word jou rybewys summier weggevat. Jy ry agter die verkeersbeampte aan tot by die naaste polisiekantoor, jy los jou motor net daar, en jy foeter te voet verder.

Selfs al is dit sneeukoud en jy’t ’n siek kind sonder ’n jas saam met jou. Soos inderdaad met my man en dogter gebeur het. Hy’t my desperaat op sy selfoon probeer bel, maar teen die tyd dat ek die boodskap gekry het, het hulle al meer as ’n kilometer in ’n tierende mistralwind gestap.

Toe tier ek nog erger as die mistral teen die onmenslikheid van die Franse verkeerspolisie.

Natuurlik is so ’n puntestelsel ’n fantastiese plan om padvarke in die bek te ruk en padongelukke te beperk. (Kon dit maar na Suid-Afrika uitgevoer word!) Dis net, wel, noudat my eie gesin in die slagyster getrap het, voel ek nie meer so rasend geesdriftig daaroor nie. Ek bespeur ’n soort oorywerige wetstoepassing wat my onraad laat vermoed. Ek het self ook verlede maand, vir die heel eerste keer, twee punte verloor. Oral om my word bestuurders vasgetrek soos nog nooit vantevore nie.

Dit het begin, seker nie toevallig nie, kort nadat die nuwe, kort, Franse presidentjie ingelyf is. Aangesien die polisie meestal onkapabel is om egte misdadigers aan te keer (soos die bende wat laas jaar my motor gesteel en aan die brand gesteek het), het die hiperaktiewe president blykbaar besluit om hulle op ’n ander manier besig te hou. Nou konfiskeer hulle rybewyse met alle mag.

Die probleem is, hier op die Franse platteland, soos op die Suid-Afrikaanse platteland, is daar ’n groot gebrek aan openbare vervoer. Dis feitlik onmoontlik om sonder jou eie wiele oor die weg te kom. ’n Gesin soos myne - twee besige ouers en ’n spul kinders met baie buitemuurse bedrywighede - het twéé stelle wiele nodig, anders bars dit.

By ons bars dit nou al maande lank.

Ek het ’n heeltydse chauffeur geword. Die alledaagse, sieldodende karweiery van kinders, kos en inkopies - wat ek en my man voorheen darem soort van demokraties gedeel het - het volledig my verantwoordelikheid geword. So ook alle sosiale rondryery. Elke keer wanneer ons iewers heen uitgenooi word, moet ek agter die stuurwiel inskuif. Dit beteken selfs op uitgerekte deurnag-etes mag ek nie meer gesellig drink nie, want vir “bestuur onder die invloed” verloor jy blitsig al jou punte.

En wat máák ons as ek óók nie meer mag bestuur nie? Wie sal dan my wiellose wederhelf vervoer? (Nooit besef hy’t ’n skedule wat die sekretaris-generaal van die VN sou laat skrik nie.)

Verlede week het hierdie stresvolle lewenswyse my tot ’n skandalige uitbarsting gedryf. “Ek kan dit nie meer vat nie!” het ek gegil. “Ek gaan staak!”

Nou ja, aangesien my man ’n Fransman is, neem hy ’n stakingsdreigement ernstig op.

Hy het onmiddellik ’n motorfietshandelaar gekontak - sodat hy darem twee beskeie wieletjies het tot hy weer vier wiele mag bestuur. Intussen steun ek vanoggend die stakende taxibestuurders se saak, in woord indien dan nie (nog nie) in daad nie. Maar moenie my tart nie, brom ek.

’n Taxi-ma is ’n magtige ma ...