Skoon, minimalistiese lyne. Snyerspakke, truie, kraaghemde, lospassende broeke en hemde asook grys jasse met androgene ondertone. Wit en swart met pers, rooi, olyfgroen en geel. Dít is wat jy sou sien as jy by Mercedes Benz Modeweek in Stockholm se laaste vertoning was.

Ons hou van Tiger of Sweden se Herfs 2013-reeks, en is ook opgewonde oor die feit dat hierdie reeks aan die einde van Augustus 2013 beskikbaar sal wees binne hul winkels in beide Sandton en Melrose Arch. Dit is duidelik, ná meer as ’n dekade se bestaan, dat hierdie modehuis ’n resep vir sukses het, want dit is tans ook beskikbaar in meer as 18 lande. Tiger of Sweden se herfs-resep bevat invloede so uiteenlopend soos die Bauhaus-beweging en David Bowie. Christian Lippich, een van die ontwerpers van die mansafdeling, meen dat die reeks gaan oor kulturele tendense. Dis klere vir vrye denkers, rebelle en ook dié wat gaande is oor argitektuur en kuns. Wat dan nou anders as om die reeks “Cultural Clash” te doop? Neem jou sitplek in in die voorste ry en vind jóú uitrusting op Tiger of Sweden se loopplank! Besoek www.tigerofsweden.com vir meer inligting.