Jy is totaal uitgeboul deur ’n kolskoot-antwoord of opmerking. Dan weet jy: Bly liewer tjoepstil. Piet Cillié van Die Burger het my ’n paar maal so gekry, en nog talle ander ook.

Toe ek student was, was ’n agtuur-klas in die winter ’n nagmerrie in Stellenbosch se druppende koue. Een so ’n oggend het ek in die bed gelê en deur die venster
gestaar. Alles was grys en nat en ek het besluit om die geskiedenis-klas maar te los. ’n Maat het my later kom vertel prof. Wiid wou weet waar ek is.

Ek het baie respek vir dié prof gehad en besluit om te gaan verskoning maak met die storie dat ek nie my wekker gehoor het nie. Gelukkig het ek hom voor die
gebou raakgeloop en my verhaal vertel. Hy het my aangekyk met ’n gestrenge glimlag en gesê: “Ek kan jou nou sê om soggens beter te luister na jou wekker, of om ’n ander een aan te skaf. Maar jy weet en ék weet dit sal nie help nie. Ek is net verbaas dat jy nie aan ’n beter verskoning kon dink nie. Jy het op ‘nog ’n
bietjie slaap’ besluit. Ons gaan daarmee akkoord?”

Ek het geknik en my uit die voete gemaak. Tjoepstil.

Toe Henno Cronjé predikant was in Londen het ek by hulle gekuier in Wimbledon. Ons het besluit om met sy Peugeot-stasiewa in Ierland te gaan rondry, met sy vrou, Charmara, wat agter in die kar die padkaart gelees het: Hier voor vurk die pad en ons gaan regs, ensovoorts. Dit was ’n lieflike rit oor die groen eiland en die weer het saamgespeel.

Maar op pad na Tipperary het ek en Henno begin verveeld raak en grappies met allerlei stekies en slimmighede na mekaar gemik, ’n ou laai van ons twee. By Tipperary het ons gestop vir tee en die plekkie bekyk – en besluit dis nie juis die liedjie werd nie. Ná ’n foto of twee het ons weer die pad gevat oor die eindelose heuwels, verby plasies, beeste, skape, hier en daar ’n toring, en lang klipstapelmuurtjies.

Ons het vir mekaar gesê ons moes liewer ’n bietjie langer by The Meeting of The Waters gebly het, die plek waar die digter Dylan Thomas ook ’n tyd lank gewoon
het. (Die mense daar maak dit goed duidelik met hul soewenier-winkeltjies.) Daar is ’n lieflike, groot watermeul en twee stil strome wat inmekaar vloei.

Maar ek en Henno het weer in die ry mekaar se siele begin uittrek, kwinkslag op kwinkslag. Alles om mekaar spottend die loef af te steek. Toe skielik praat Charmara heel bedaard op die agterste bank: “Julle twee kan nou gerus end kry met jul kwinkslae en knypies. Ek moet sê ek vind dit verveliger as die pad en julle grappies is ook nie meer . . . wel . . . snaaks nie.”

Net dit, niks meer nie. Ek en Henno het onderlangs na mekaar geloer en geweet ons is uitgeboul. Nie een van ons twee het iets geantwoord nie. As ek reg onthou, was ons ’n goeie uur lank tjoepstil.

Want tjoepstil, sonder onderlangse gebrom, is die beste reaksie op ’n beskaafde, kalm teregwysing. Alles wat daarná gesê word, is uit pas en oorbodig. Om te
reageer is om modder te begin trap waar daar net ’n nat kol was. Ons was ná ons stilte gou weer aan die gesels, sonder om te probeer om mekaar die loef af te steek. Min argumente indien enige word gewen deur altyd te probeer om net nóg iets te sê.

Dit gebeur ook dat ’n mens jou betyds moet bedink voor jy praat. Ek erken ek sukkel daarmee, maar onthou dat ek eenmaal in ’n groot geselskap vertel het van
’n erg eksentrieke ou tante wat ek as kind geken het. My gehoor het geskaterlag en ek wou nog ’n ietwat gewaagde storie van haar vertel toe iets my skielik waarsku: Bly nou verder tjoepstil.

Later die aand het ’n vrou bedaard vir my kom vertel dié ou dame was haar ouma. Raai maar die res.

Wat my laat dink aan die ou klomp Fariseërs wat ’n vrou by Jesus aangekla het. Toe gee Jesus sy beroemde “eerste klip”-antwoord en skryf in die sand.  Waarskynlik die sondes van dié Fariseërs self. Toe verdwyn hulle soos muise.

Tja, gaan soek gerus die storie in die Bybel en lees dit weer. ’n Juweel van tjoepstil.