"Wat is die mees 'spirituele' oomblikke wat ek al beleef het? Toe ek my ma so kalm haar laaste asem sien uitblaas. Toe ek gedroom het 'n vriendin se man het herstel van kanker, en hy daardie nag dood is. Toe ek in 1960 met sononder op my rolskaatse gevoel het asof my bewussyn so groot soos die heelal word. Toe my pa, nog langer gelede, op pad suidkus toe stilgehou het vir ontbyt (hardgekookte eiers en toebroodjies) en die sonsopkoms só mooi was dat daar trane uit my oë geloop het. As ek 'n pasgebore baba sien. Toe ek as 6-jarige vroeg moes bed toe gaan en gelê en luister het hoe my ma viool speel. Wanneer ek skottelgoed was, liefde maak en selfs as ek eet. Of as ek op die verhoog hoor hoe die gehoor dawerend lag. Spiritualiteit is in elke oomblik van die lewe, hoekom 'n díng daarvan maak?" - Tobie Cronjé, akteur