22 Junie

Simon is vanoggend werk toe soos enige ander oggend. Hy skakel my 10-uur om te sê die eienaar en sy seun is in die Kaap van Durban. Hul hele tak het 'n vergadering om 12-uur. Ek hoor niks vir die res van die oggend nie. 2:10 die middag skakel Simon my: "Skat, ek is retrenched - hulle bring my huis toe". Nee! sê ek, hulle bring jou nie huis toe nie - ek kom jou haal.

Ek sit die telefoon neer. Wat moet ek eerste doen? Die kaggel brand, miskien moet ek water in die kaggel gooi sodat ek die vuur kan blus - nee wag, dit gaan te lank neem. Ek stap tog na die kas en tap die plastiekbeker halfvol water. Ek sprinkel 'n paar verdwaalde druppels koue water op die vuur - dit maak geen hond haaraf nie, maar op daardie oomblik probeer ek my gewete sus met die wete dat ek wel die vuur natgegooi het. Ek plaas die vuurskerm voor die opening, neem my motorsleutels en klim in die motor.

Ek skakel die motor aan en vrolike musiekklanke vul die motor. Nee, nee, ek mag nie nou vrolik wees nie. Ek draai die soekknoppie van die radio en soek besadigde musiek - dit is mos nou meer gepas.

Ek probeer binne die spoedgrens ry - ek mag nie nou 'n verkeerskaartjie kry nie. Ek moet spaar. Ek sien daar is nie veel brandstof in die motortenk nie. Ek moet brandstof ingooi voordat ek vir Simon optel. Miskien dink hy hy moet die brandstof in my motor gooi - nee, ek wil vir hom wys, dis oukei, ek het nog geld vir brandstof. Ek ry na 'n vulstasie naby sy werk en maak die brandstoftenk vol met my petrolkaart.

Nou nog net die straat soek waar Simon se werk is. Ek neem die eerste afrit na regs en weet dit moet hier iewers wees. Sedert Simon hier werk, was ek nog net een keer by sy werk, ek is nie seker waar die gebou is nie. Ek sien nie die gebou nie, en neem die volgende afdraai na links. Ek kyk in die draai na regs om te sien of ek nie die gebou dalk gemis het nie. Nee, ek sien nie die gebou nie. Die motor het reeds links gedraai, ek sien die logo. En ek sien Simon op die sypaadjie staan.

Sy wolbaadjie toegeknoop oor sy effense boepmagie, met sy aktetas in sy hand. Ek sien die verwesenheid op sy gesig, effens bleek. Ek stop die motor en klim uit. Hy stap na die kattebak en sit sy aktetas in die motor. "Bestuur jy," sê ek. Nee, bestuur jy, sê hy. "Jy is die man, bestuur jy," sê ek weer.

Hy klim agter die stuurwiel in en ek aan die passasierskant. Ons vertrek en ry in stilte. Ek moet iets sê, dink ek. "Vertel hoe dit gebeur het," verbreek ek die stilte.

"Ons is almal 12-uur ingeroep vir 'n vergadering en die finansiële situasie van die maatskappy is aan ons verduidelik," antwoord hy. "Daarna is almal gevra om te verdaag, behalwe ek. Matthew het aan my verduidelik dat hy geen ander keuse het as om my af te lê nie. Die maatskappy kan my nie meer bekostig nie."

"Die varke," sê ek. Ek probeer enigiets sê om hom beter te laat voel. "Hulle het gesê hulle sal my gaan aflaai by die huis, jy hoef my nie te kom haal nie," antwoord hy. "Dink hulle jy het nie geld nie, dink hulle ons het nie 'n voertuig en brandstof nie?" snou ek die situasie toe. Hy moet weet ek is aan sy kant.

Hy antwoord nie. Ons ry in stilte verder. "Ons moet vir Anton bel." Anton is 'n jarelange vriend van ons in die motor-verkoopbedryf. "Anton moet my motor verkoop en twee motors vir ons kry. Wag, ek bel hom sommer nou." En met dié begin ek Anton se nommer skakel. Ek verduidelik die situasie aan hom en vra hom om te kyk wat hy kan doen.

"Kom ons gaan eet vanaand uit," sê Simon. Hoe kan ons dít nou bekostig, wonder ek by myself, maar ek sê dit nie. "Dis reg," antwoord ek.

Ons ry na 'n bekende braairestaurant. "Kyk, dis net voor 5-uur. Ons kan nog van die middag se "special"-spyskaart bestel." "Skat," sê hy, "ek kry nog twee maande se salaris". "Nee," antwoord ek, "dis net een maand se salaris, want jy het reeds vir die een maand gewerk."

Ons bestel iets van die goedkoper spyskaart. Albei van ons weeg ons woorde voordat ons iets sê. Ek stel voor dat ons 'n vriendin, Annette, nooi om by ons aan te sluit. Toe sy kom sit, vertel sy dat sy Simon se telefoonnommer geskakel het en dat die persoon wat nou Simon se selfoon het, aan haar sou sê dat Simon nie meer daar werk nie. Hy het ook geen idéé hoekom Simon nie meer daar werk nie.

Ek is ontsteld. Ek stuur 'n kort SMS na die maatskappy se eienaar, Neil, en verduidelik dat dit 'n baie jammer situasie is, maar dat hy asseblief aan sy werknemers, en spesifiek die nuwe draer van Simon se foon, moet verduidelik om die waarheid te praat en nie te maak asof Simon die een of ander kriminele oortreding begaan het nie.

Ons probeer die voorval vergeet en begin onmiddellik planne maak vir Simon se toekoms. Idees en name vir die besigheid word uitgeruil. Op pad huis toe van die restaurant skakel ek ons seun wat op die platteland werk en vertel hom van die aflegging. Hy stel voor dat Simon sy spaarselfoon gebruik. Wouter, ons seun, begin volgende week by 'n nuwe werk. Hy keer terug huis toe en sal van die huis af werk toe ry. Vol moed vertrek ons van die restaurant. Ons planne vir die toekoms is in plek ...

23 Junie

Dinsdagoggend staan ek vroeg op om reg te maak vir werk. Simon is doenig in die kombuis. Die volgende oomblik begin hy skree en skel.

"Wat's fout?" vra ek. "Hierdie simpel selfoon werk nie, die nommer werk nie en ek weet nie eens hoe om die ding aan te sit nie."

Ek is nie lus vir die geskree op my nie. Ek klim in my kar en ry Hoofkantoor nie. Ek het die een vergadering na die ander en kom namiddag by die huis aan. Simon is nêrens te vinde nie. Daar is geen boodskap waar hy is nie. Ek gaan sit by my lessenaar en begin werk.

Ek maak soos elke ander aand kos, kyk sepies, nuus en steeds is Simon nie by die huis nie. Buite waai die wind die reën teen die vensters vas. Die kaggel brand, maar daar is 'n onrustigheid in my binneste.

'n Geluid by die agterdeur dwing my om op te staan en te gaan kyk. En daar staan Simon in die wind en reën. Hy is so gedrink dat hy beswaarlik op sy voete kan staan. Ek sluit die deur oop, maar sê niks.

"Dis deur jou dat ek my werk verloor het. JY was mos vriende met Niel se vrou. Jy is die rede hoekom ek alles verloor het. Dit lê in die dorp rond dat jy die oorsaak is van my afdanking! Vat jou goed en f...f!"
Ek staan verstom en weet nie waar om te begin om myself te verontskuldig of regverdig nie. Ek het geen idéé waarvan hy praat nie.

"Se vir Wouter hy moet sy selfoon en kar vat en in sy *&*^ gaan. Ek sal nooit sy kar gebruik nie - ek is nie so nie," skree hy. "Jou man is werkloos, wat sê jy daarvan - jy is met 'n werklose man getroud," hou hy aan met sy tirade.

Ek gaan sit voor die televisie en sê niks. Ek is verstom, ek weet nie wat om te sê nie.

Simon besluit om op die bank te slaap. Ek is bly. Dit beteken ek kan in vrede in ons kamer op my eie gaan slaap. Ek maak die kamerdeur toe en sak op my knieë langs die bed neer. "Here, gee my krag, asseblief!! Gee my net krag," pleit ek by die Here.

Ek klim in die bed, drink 'n slaappil en raak uiteindelik aan die slaap.

24 Junie


Ek staan moeg op. Ek gaan kombuis toe en skakel die ketel aan. Toe ek verby die bank stap, sien ek dat Simon wakker is. Ek sê hy moet opstaan en gaan stort. Hy het twee dae gelede laas gestort en dit is nie eie aan hom nie.

Hy staan op en gaan stort. Ek maak vir hom koffie. Toe hy sy koffie in die kombuis neem, sê ek vir hom: "Daar is baie baie dinge wat ek kan hanteer, maar die dinge wat jy gisteraand kwytgeraak het, kan en gaan ek nie aanvaar nie. Die manier waarop jy met my gepraat het, gaan ek ook nie aanvaar nie. Ons is albei in hierdie ding, en ek gaan nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat gebeur het nie."

"Ek is jammer," sê hy.

Dan sê hy: "Ek het gisteraand iemand in die kroeg ontmoet wat toeriste vervoer vanaf die lughawe na besienswaardighede. Hy is baie besig en het gevra dat ek hom help. Ons moet 'n kombi koop."

"Nee," sê ek onmiddellik. "Daar is nie nou geld vir iets waaarvan jy nie seker is nie. Hou by dit wat jy ken. Jy weet hoeveel mense in die verlede pakkette gekry het, en dan besighede oopgemaak het in rigtings wat hulle glad nie ken nie. Dit werk nie."

"Wel, Pieter kom my nou oplaai. Ons gaan na motorveilings kyk en dan gaan ek my sommer registreer vir werkloosheidsversekering." Hy stap tot by die deur en draai om na my.

"Dit is nie lekker nie, skat," sê hy voordat hy by die deur uitstap. Ek gaan sit by my lessenaar en besef ek moet iets doen, maar weet nie wat nie. Ek vra weer: "Here, help my asseblief."

Ek neem 'n pen en papier en begin weer waar ons twee aande gelede opgehou het. "Bly by wat jy ken," herhaal dit in my kop. Ek dink aan 'n naam vir sy besigheid. Dit moet sy van bevat asook wat hy presies verkoop, diens kan inkomste genereer.

Ek ontwerp 'n naam vir sy besigheid asook sy kontakbesonderhede. Ek verander die boodskap op ons voorafbetaalde huistelefoon sodat dit sy kontak met die buitewêreld word. Ek maak 'n lys van prioriteite.

*Kontak al jou kliënte wat jy by die maatskappy gehad het en lig hulle in oor wat gebeur het en wat jou planne vir die toekoms is.
*Registreer jou cc.
*Kry besigheidskaartjies.

Ek neem die lys en sit dit op sy aktetas op die eetkamertafel neer.

Ek gaan aan met my daaglikse werk, maar kan nie help om te wonder of hy nugter huis toe kom of nie.
Laatmiddag laai Pieter hom by die huis af, en vertrek dadelik. Simon kom die huis ingestap met vorms.

"Ons was by die werkloosheidsversekeringskantoor. Ek moet hierdie vorms invul, maar moet eers 'n vorm van die werk kry."
"O," sê ek. "Hoe lyk die voertuie wat julle gesien het?"
"Sleg en verniel," antwoord hy.

"Ek het vir jou 'n lysie neergesit. Kyk of jy van die naam van die besigheid hou. En, o ja, begin jou kliënte bel." Hy kyk na die vel papier en draai verras om na my. "Die naam lyk goed."

Hy begin bel en ek kan sien sy hande bewe. Dit gaan effe stotterend. Eers wil hy nie sê hy is afbetaal nie. Hy sê net hy is nou op sy eie en begin sy eie besigheid. Ek stel voor hy praat die waarheid en sê wat gebeur het. Ek maak die deur toe en gaan aan met my dagtaak.

Simon kom darem die aand in die bed slaap. Ek neem weer 'n slaappil en gee vir hom ook een. Hy raak voor my aan die slaap. Ek lê en TV kyk totdat ek skaars my oë kan oophou. Ek skakel die bedliggie af, maar sodra die donker alles toevou, begin ek dink aan die aflegging. Wat gaan ons doen? Hoe kon dit met ons gebeur? Ek skakel weer die bedliggie aan, neem 'n tydskrif en lees. My oë wil toeval, ek skakel weer die bedliggie af. Weer lê ek wawyd wakker die donker en instaar. Ek weet nie hoe laat die slaap my kom verlos het nie, maar ek het uiteindelik ingesluimer. Drieuur die oggend skrik ek wakker. Ek voel Simon beweeg langs my.

"Is jy wakker?" vra ek.
"Ja," antwoord hy. Ek gaan maak vir ons tee. Halfses staan ek op. Ek moet Wellington toe gaan en met die reën buite, moet ek vroeër ry om met die verkeer betyds te wees.

Oppad terug van Wellington, stop ek by PNA. Ek koop 'n swart hardebandboek, 'n faktuurboek, 'n swart ringleêr, leêrsakkies, skeidings, penne, highlighters en die grootste sjokolade in die winkel! Opgewonde kom ek by die huis aan. Simon sit by die eetkamertafel en bel sy kliënte.

"Almal ondersteun my," kondig hy moedig aan.
"Jy verjaar môre, wil jy voortgaan met die beplande ete?" vra ek.
"Ja," antwoord hy, "ons kan nie alles nou stop nie. Wat gaan jy maak vir ete?" vra hy.
"Definitief nie die fillet wat jy 'n week gelede voorgestel het nie."
"Ek sal môre besluit, laat ek net deur hierdie nag kom. Ek is moeg tot in my siel."
"Dis reg," antwoord hy.

Ek neem die aand 'n slaappil, spierverslapper en drink 'n glas rooiwyn. Ek SAL sorg dat ek vanaand slaap. Ek klim vroegaand in die bed en slaap die slaap van die gode.

26 Junie

Verjaardag

Ek staan vars en uitgerus op. Ek gee vir Simon sy skaapvelpantoffels wat ek vir sy verjaardag gekoop het. Hy is baie tevrede met sy geskenk.
Ek gaan aan met my werk en hy neem die motor om 'n kennis te gaan spreek oor 'n moontlike werkgeleentheid. Ek vra verlof vir die middag. Ons kry gaste en ek het nog geen idéé wat ons gaan voorsit nie.

Ek maak die vrieskas oop en besluit op maalvleis en hoender. Ja, maalvleis is altyd 'n wenner met lekker pasta. Ek besluit dit sal vanaand maalvleis en pasta, asook hoender en pasta wees.

Ek kook 'n storm los in die kombuis.

Ek pluk laventel en druk dit in elke denkbare pot. Dit lyk pragtig en ruik nog lekkerder. Simon kom van buite en kyk na die laventel. "Ja," sê hy, "ons kan mos nie meer blomme bekostig nie." "Wel, dit lyk mooier as baie blomme wat ek al gesien het," antwoord ek.

Die aand is 'n reuse-sukses. Ek maak 'n speech en bedank almal wat hom die afgelope week op een of ander manier gehelp het - van die registrasie vir werkloosheidsversekering tot die maat wat vir hom 'n geleentheid gee om 'n produk te bemark. Ek bedank ook vir Simon omdat hy so 'n wonderlike man is. Maar Simon drink ook vanaand hopeloos te veel en ek gaan slaap.

27 Junie

Vanoggend is ek moeg. Dood, sielsmoeg! Ek is nie lus vir enige iemand nie. Simon se drinkery is besig om my onder te kry. Ek maak my slaapkamerdeur oop. Hy het mense vir ontbyt genooi en staan met 'n bier in sy hand. My moed sak tot in my pantoffels, ek draai in my spore om, maak die deur toe en klim terug in die bed. Ek trek die duvet tot oor my kop.

Ek moes aan die slaap geraak het, want toe ek wakker word, is die huis stil. Ek staan op en maak die deur oop. Simon is buite in die tuin by die tuinier en staan met 'n glas in die hand. Ek kan sien hy het gedrink. Ek sê niks. Ek het nie krag hiervoor nie. Ek stort en trek aan. Ek smag na rustigheid en vrede. Ek wil in my kar klim en ry, maar waarheen??? Ek wil ry na 'n plek en net slaap slaap slaap. Ek wil nie met iemand praat nie, wil niks van niemand weet nie. Los my asseblief net uit!

Simon ry saam met 'n vriend na iemand wat die vorige aand in 'n motorongeluk was. Hy is gedrink, het nie gestort nie en is in sy eie wêreld.

Toe die tuinier klaar gewerk het, betaal ek hom, sluit die agterdeur, maak al die vensters, blindings en gordyne toe. Ek stap na my kamer en trek die deur agter my toe. Ek gaan lê op my bed en skakel die TV aan. Ek kyk die een fliek na die volgende.

Toe die son sak, kom Simon huis toe. Hy is so gedrink dat hy skaars kan praat. Hy gaan lê op die bank. Ek neem vir hom 'n kussing en kombers. Ek is moeg.
Ek gaan na die kamer en drink 'n slaappil en chamomile-tee. Die slaap kom soet, salig en vinnig. Ek slaap vir 13 ure aanmekaar. Ek word wakker en voel uitgerus.

28 Junie

Ek maak vir ons koffie. Ek het geen lus vir enigiets nie en skakel al die telefone in die huis af. Ek wil niemand sien nie. Simon gaan kamer toe en ek sien hoe hy sy sweetpak uit die kas haal.

"Gaan stort," sê ek. Wat gaan met hom aan? Ek het nog nooit nodig gehad om hom aan te praat om te gaan stort of bad nie.

Hy gaan lê op die bank en kyk TV. Hy praat nie, doen niks, kyk net TV en raak soms aan die slaap.
Ek vat 'n boek en gaan lê en lees op die bank.

Ons eet iets ligs, en dit voel meer na 'n noodsaaklikheid as wat dit iets is wat lekker is om te doen.
Ons gaan slaap die aand vroeg.

29 Junie

Ek is vroeg op. Maak koffie en gaan stort. Simon gaan stort en neem die kar om iemand te gaan sien. Ek begin werk en probeer myself motiveer. Ek moet iets doen - ek móét beter voel. Simon het nogal baie uitgerig vandag. "Ek het heelwat kontakte, maar nog geen werklike idee van inkomste nie."

Ek sien hy raak moedeloos. Ek weet nie hoe ek hom en myself moet staande hou nie.

Etenstyd begin ek 'n groentesop vir aandete. Ek skil al die groente, sit dit in 'n pot en plaas dit op die plaat om te prut. Teen sewe-uur vanaand sal dit reg wees.

Ek kan sien Simon is nie homself nie. 'n Vriendin stuur 'n SMS om te sê ek moet Oprah kyk. Ek skakel die TV aan en die program gaan oor 'n gesin wat hul huis verloor het en op die punt is om te skei. Dit kom gedurende die program na vore dat kommunikasie die grootste oorsaak van skei is in 'n situasie soos hierdie. Ek vra vir Simon om saam met my daarna te kyk.

"Nee," sê hy, "dis 'n klomp nonsens." Hy tel die telefoon op en skakel iemand wat na 'n masjien moet gaan kyk wat gebreek het. 'n Masjien wat hy verkoop het terwyl hy nog by die maatskappy was.

Ons kyk TV en gaan slaap.

30 Junie

Ons huis was verlede jaar in die mark. Ons het besluit om na 'n beter area te trek. Die prokureur laat my weet dat die koper van ons huis se fondse binnekort sal deurkom. Ek is baie bly alhoewel ons nog nie weet wanneer en waarheen ons gaan trek nie. Huiskoop is nou buite die kwessie. Beter area is wat ek nou in huisbylaes lees, maar ons sal definitief nie kan trek nie. Ons sal moet huur.

Die res van die week pak ek elke aand 'n boks. Eers die kombuisgoed wat mens nie elke dag nodig het nie. Dan die skilderye teen die muur. Die ou familiefoto's. Terwyl ek die foto's afhaal, gaan sit ek op die trap. Ek kyk na die foto van my ouma en oupa wat jare gelede bekende boere in die distrik was, en ek wonder, hoekom het ons almal in die stede beland? Was ons nie veronderstel om altyd grond onder ons voete te voel nie, of het ons uit vrye wil die vlaktes vir blink ligte verruil?

Ons dogter, Mia, woon al 6 jaar in die buiteland. Sy is verloof aan 'n Amerikaner. Sy het geen begeerte om terug te keer na haar vaderland nie. Nooit weer nie. Nooit ooit weer nie. Sal haar kinders my ken? Of sal ek hulle telefoonouma wees?