Saterdag 4 Julie

Ek en Simon gaan dorp toe. Nie mall toe nie. Die naaste Clicks, want dis goedkoper. Ek koop gesig- en badkamergoed. Ek vra dat Simon moet kry wat hy nodig het en in die mandjie pak.

Hy kom teruggestap met skeerskuim in sy hand. Kyk, ek het die goedkoopste gekry, die ander is te duur, sê hy. Dis OK, sê ek. Vir my is skeerskuim in elk geval net iets wat ek op my bene kan gebruik sonder dat hy agterkom.

Ek stap oorkant die pad na die apteek en koop griepmedisyne. Een plastiek pillehouertjie met 3 soorte medisyne. Die apteker dui aan dat daar pyn, antibiotika en grieppille in die potjie is.

Ek koop sommer 2 potjies, een vir my en een vir Simon. "Bargain", dink ek.

"O ja", sê ek vir apteker. "'n Vriend van ons het sy werk verloor. Is daar dalk iets wat mens oor die toonbank kan koop sonder 'n voorskrif. Iets wat hom kan help ontspan?",  lieg ek oor die vriend. Hy gee vir my 'n boksie pille.

By die huis aangekom gee ek vir Simon 'n kalmeerpil. "Drink elke oggend een, dit sal jou goed doen". "Ek gaan nie enige ding drink nie, waarvoor is dit", vra hy. "Dit is 'n kruie-tablet vir spanning, drink dit", sê ek.

Sondag 5 Julie

Ek staan op en voel regtig sleg. My lyf is seer, ek het 'n koorsblaar op my lip. Ek klim terug in die bed.

Maandag 6 Julie

Ek voel goor en bly in die bed. Slaap slaap slaap wonderlike slaap.......

Dinsdag 7 Julie

Ons staan vroeg op en maak koffie. Ek maak seker Simon drink sy "kalmeerpilletjie" getrou. Ek is regtig nie lus vir een van sy uitbarstings nie - of dat hy dalk so depressief raak, of of of - hoe moet ek al die antwoorde hê? Ek wil ook liewer niks weet nie.Ek gaan stort en begin in my kantoor werk. Ek kan nie toelaat dat ek my werk afskeep nie, wat dan? Wie gaan dan vir ons sorg? My ouers is jare gelede al oorlede en Simon het nog net sy ma oor en sy is definitief nie in 'n situasie om ons finansieel te help nie. Daar is niemand.

Simon is besig in sy kombuiskantoor en en stuur fakse die een na die ander deur. "Ag Vader, laat iemand tog net van sy produkte koop", dink ek by myself.

Hy praat nie met my nie.

11 uur gaan maak ek vir ons tee en 'n toebroodjie. Hy drink sy tee in stilte en gaan aan met fakse stuur.

Laatmiddag kom hy my kantoor ingestap. Sy gesig lewe. "Raai wat?" sê hy. "Een van die opposisiemaatskappye het vir my 'n werk aangebied."

"Fantasties" sê ek.

"Waar, wie, hoeveel salaris?" vra ek.

"Ek weet nie, hulle moet terugkom na my", antwoord hy. Ek draai terug na my lessenaar en gaan aan met werk. Ek moet gefokus bly. Ek moet konsentreer.

Die maatskappy bied 'n klein salaris, nog kleiner kommissie en 'n motor aan. "Skat, ek het werk!!" klink hy opgewonde. Ek begin 1 Augustus werk.

Vrydag 10 Julie

Vrydagoggend besluit ek om volgende week verlof te neem. Ek is só bly oor sy werk dat ek hom oortuig dat ons bietjie see toe kan gaan vir 'n paar dae. Dis goedkoop, ons huur sommer iemand se woonstel teen 'n baie billikke prys. Ons het 'n vakansiehuis in dieselfde seedorp, maar daar is huurders in. Baie goeie huurders wie se huurbetaling elke maand 'n beduidende verskil maak op die verbandkoste. 

Wat 'n heerlike paar dae het ons nie? Ons stap langs die see, gesels en maak planne. Ons bespreek dat ons miskien na die kusdorp moet verhuis. Ek kan van enige plek af werk, want my werk is baie rekenaargebonde. Dit sal goedkoper wees as ons van die vakansiehuis af werk. Wanneer ons die een huis se geld kry, kan ons die vakansiehuis se verband aflos en vir Simon 'n bakkie koop. Huise verkoop nie nou nie en siende ons een huis verkoop is, moet ons nou gaan waar dit goedkoper is. Ons skryf die plusse en minusse neer. Ons maak planne, net om dit weer te verander.

Donderdag 23 Julie

Heeldag by hoofkantoor. Kom laat by die huis. Simon het mense vir 'n braai genooi. Ek is soooo moeg dat ek net in die bed wil klim en slaap.

Toe ek my handsak neersit, sê hy, "ek het vir jou slegte nuus." 

Ek dink by myself, wat kan tog nou so sleg wees. Niemand is dood sover ek weet nie, dan sou hy my al op die pad gebel het, glo ek.

"Ek het nie meer die werk vanaf  1 Augustus nie."

"Die eienaar van die maatskappy het my geskakel en hy het nie besef dat dit so sleg met sy maatskappy gaan nie. Hy sal van sy werknemers volgende maand moet aflê. Hy sal oor 6 maande terugkom na my".

Hoe op aarde kry een persoon dit reg om soveel beheer oor iemand se lewe te hê, om met een oproep 'n familie se lewe te ontwrig, dink ek by myself. Ek sê vir Simon hy jok vir my. Dit is nie so nie.

"Sweer" sê ek. "Sweer op jou ma, jou pa (wat al dood is), jou broer, enige iemand,sweer en sê dit is nie so nie."

Ek weet mens mag nie na willens en wetens sweer nie, maar om te sweer was nog altyd vir my die ultimate. Gewoonlik sal ek sê belowe, maar belowe is nie nou kragtig genoeg nie. Ek wil nie glo wat ek hoor nie, EK WIL NIE. Mol, my vriendin, draai na my en sê, "wees net positief". Ek kyk na haar en my bors sak dat ek dit amper op my maag kan voel soos ek 'n sug uitblaas. Ek weet nie wat om te sê nie. Is dit dan net ek wat 'n benoude gevoel op my bors kry, of sien niemand anders die erns van die situasie nie?

Ek sê niks en gaan aan om aandete voor te berei.

Woensdag 22 Julie

Vriend van oorsee kom kuier. Eet hier.

Dinsdag 21 Julie

Help vir Jasper met rekenaar. Hulle eet sommer die aand hier.

Maandag 20 Julie

Dit is werk soos gewoonlik.

Sondag 19 Julie

Terug by die huis. Maak reg vir die week wat voorlê.

Vrydag 24 Julie

"Ah, dis te lekker, die huis druk jou vas, begin iets konkreets doen dan sal niks jou vasdruk nie", maar ek sê dit nie.

"Jy moet begin om die spykers uit die mure te haal, voor die nuwe eienaar van die huis oor twee maande intrek," sê ek.

"Watse spykers?" vra hy.

Ek wonder by myself, het ek die afgelope jaar alleen in die huis gebly? Waar was hy toe ek die kombuiskaste, skilderye, boeke en CD's ingepak het? Makeer sy oë iets, dat hy nog nie gesien het die mure is kaal, met spykers wat nou in die plek van die skilderye is nie? Ek sê niks. Dis die verloop van my lewe: Ek sê NIKS.

Laatmiddag kom hy huis toe.

"Ek gaan vir 6 maande werkloosheidsversekering trek. Dit sal genoeg wees om die basiese uitgawes te dek," sê hy. Ek herinner hom dat hy moet bank toe gaan om die aftrekorders te kanselleer.

"Ja, jy moet alles na jou bankrekening verskuif," deel hy my mee. Ek moet die versekeringsmakelaar gaan sien en my polisse kanselleer.

"Hou tog net 'n lewensversekering. As jy iets oorkom, wil ek nie sonder enige geld sit nie," sê ek.

Ag Here, hoe het ek nie afgelope paar jare beplan, ekonomies gelewe, planne gemaak, net om eendag 'n goeie aftrede te verseker nie.  Ons huis wat ons in bly is nou verkoop, 'n koper het al 7 maande gelede geteken, en ons wag vir haar verband om goedgekeur te word. Dan kan ons ons huis by die see klaar betaal. Daar is baie goeie huurders in. Ons kan dan daardie huurgeld gebruik om 'n plekkie nader aan my werk te huur.

Wouter kom met 'n groot glimlag by die huis ingestap.

"Mamma, ek het my eerste salaris gekry en hier is my strokie ook".

Die kind is so opgewonde en dit maak my bly.

Saterdag 25 Julie

Ek en Aaron werk in die tuin. Ons snoei, knip, skoffel en maak die tuin netjies. Al die boompies moet soos groot rondekop soldaatjies geknip word. My lewe is besig om al hoe meer beroerd te lyk, maar ek is gepla oor die boompies wat almal perfek rond gesnoei moet word.

"Ma, jy kan darem werk uitkrap as jy tyd het!" laat Aaron verbaas hoor.

Ek klim op die dak om die oorhangende takke af te knip. Hulle kap teen die dak as die windwaai.

"Ma, jy's te dik om op die dak te sit, jy gaan deurval, en hoe kry ek ma dan gehelp?" lewer Aaron weer kommentaar. Ek lag en knip verder.

"Aaron, wat pla jou so as ek nou deur die dak moet val?" vra ek.
"Ma, al wat my pla is wie dan vir my gaan kos gee," sê hy ernstig.

Ai, Aaron, dink ek by myself. Ek is so bly dat ek darem iets in iemand se lewe kan beteken, al is dit net om te sorg dat jy koskry.

Sondag 26 Julie

Toe ek vanoggend my oë oopmaak, staan Simon al reg om af te stap see toe. Ek stap saam, hopende dat ons kan praat oor wat ons gaan doen. Hy vermy die onderwerp en ek kan agterkom hy is nie lus vir praat nie.

Wouter kom staan buite by my en koffiedrink. "Mamma, help die huurgeld wat ek vir julle die maand gegee het?" Ek besef dat hy verantwoordelik vir ons voel. Ek voel dat ek hom moet gerusstel en verseker dat dit ons baie help.

"Ja, ek het krag gekoop vir die huis, dit was amper klaar," verseker ek hom.  

Vroegaand sit ek en werk voor die rekenaar. Ek het hierdie week 'n groot uitstalling en ek is besig om my voorbereiding te doen. Dis net na 8. Ek staan op om te gaan tee maak.

"Hou tog op raas!" snou hy my toe van die bank.
"Wat is dit nou?" vra ek.
"Jy maak die deur oop en toe, oop en toe."
"Ek probeer slaap."
"Ag moenie vir jou belaglik hou nie. Hoe moet ek weet jy probeer slaap. Dis net na 8-uur in die aand".

Ek is regtig nie lus vir hom nie. Hy seker ook nie vir my nie, maar dis sy probleem.

Maandag 27 Julie

Ek moes vanoggend vroeg opstaan om 'n uitstalling te gaan doen by 'n groot en bekende konferensiesentrum. Simon het saam met my opgestaan en gaan stap. Ek is heeldag besig en kom laatmiddag terug by die huis. Die goeie vriend van ons van Australië kom maak 'n draai. Simon skink vir ons elkeen 'n glasie rooiwyn. Ons gesels sommer oor die lewe en wat dit alles inhou, en vir die eerste keer voel ek lus om in trane uit te bars en te huil en huil en huil.

Maar ek doen dit nie. Ek bly net doodstil.

Hy vergelyk ons situasie met 'n kurkprop en sê, " You will never keep 'n good man down", en hy hou die kurkprop in sy hand. "Jy kan hierdie kurkprop met 2 hande diep onder die water hou, maar die oomblik wat hy hom los, spring hy bo die water uit".

Ek neem die kurkprop by hom en druk dit in my sak. Ek wil hê dit moet my simbool wees wanneer ek twyfel. Ek weet dis verkeerd, maar Here hoe kan u my kwalik neem? Ek sug, ek's moeg. Simon het vandag Wouter se motor gebruik, maar vanaand gaan hy weer gal af. "Môre stap ek ABSA toe", sê hy. Dis meer as twaalf kilometer. Ek weier om kommentaar te lewer. "Stap maar", dink ek by myself.

Stap stap stap. Ek moet vroeg gaan slaap omdat ek môre vroeg moet opstaan. Ek moet die hengse verkeer stad toe aandurf om vroeg op my pos by die uitstalling te wees. "Ruben het gevra dat ek môre vir hom moet help om goedkoper apparaat vir sy maatskappy te kry", deel hy my mee. "Ek hoop hy betaal jou," sê ek. "Ag moenie belaglik wees nie", sê hy. "Simon, jy verstaan nie, alles wat jy nou doen, moet geld genereer". Ek begin moedeloos raak.

Geen geld kom in nie.

Dinsdag 28 Julie

Ek durf vroegoggend die druk verkeer aan. Ry, stop, ry, stop vir twee ure lank, en die afstand sou ek normaalweg in 20 minute met gemak aflê.

Simon probeer om sy werkloosheidsversekeringsbrief van sy vorige maatskappy te kry. Hulle ignoreer hom net eenvoudig. Binne my wroeg dit. Ek het baie tyd om te sit en tob in die motor. Skielik besef ek wat die gesegde "slakkepas" beteken, want 'n slak sou my wragtig vanoggend verbygegaan het.

Hoe kan mense so gemeen wees? Ek begryp die ekonomie het hulle gedwing om afleggings te doen. Ek begryp ook dat personeel met hoë salarisse eerste moet gaan.

Wat ek egter nie kan verstaan nie, is hoekom die agtergeblewe personeel 'n ooreenkoms moes teken om geen kontak met Simon te mag maak nie. Indien enige van die personeel dit durf waag om kontak te maak, kan hulle hulle werk verloor. Liewe hemel, die man het julle mos geen skade aangedoen nie. Het hy gesteel? Gelieg, Bedrieg? Nee nee nee! Waarom behandel hulle hom asof hy 'n krimineel is? Kon ek die eienaar en sy vrou so verkeerd lees? Waarom nie sy werkloosheidsdokumente aanstuur nie? Waarom hom nie bel en vra hoe dit gaan nie? Was dit dieselfde eienaar wat die dag met aflegging Simon se hand geskud het en gesê het hy wil vriende met Simon bly? Vrae vrae vrae. 

Simon stuur weer 2 fakse na sy vorige hoofkantoor en vra sy werkloosheidsvorm/dokument aan. Hulle ignoreer hom egter.

Woensdag 29 Julie

Dis weer ek en die slak wat resies jaag om eerste by ons bestemming aan te kom. Weereens skop hy stof in my oë. Vanoggend kyk hy selfs om en met 'n glimlag in sy twee uitpeul ogies, en verdwyn vóór my om die laaste draai. Die verkeer maak my gedaan.

Simon gaan stap nou elke oggend. Ek's bly. Dit hou hom besig en hy voel goed. Hy is besig om 'n lys saam te stel van al die voorraad wat hy in die hande kan kry. Hy neem elke telefoonboek en stel 'n kliënte-lys saam.

Ek kom laataand by die huis. Dis donker. Dit reën. Dis koud en ek is moeg. Simon vra of ek nie die kliëntelys vir hom sal netjies oortik nie. Ek gaan sit voor die rekenaar, maar hy skryf so onduidelik dat ek nie sy skrif kan ontsyfer nie.

Ek roep hom en hy skuif sy stoel langs my in. Hy lees die vreemdste name. Ek ken glad nie die name nie en maak tikfoute. Hy raak geïriteerd en ek begin giggel. Ek giggel gewoonlik oor alles as ek moeg is. Hy raak al hoe bleker langs my.

"Ek kan nie waag om die lys na kliente te faks nie, hulle sal dink ek is die grootste brood in die bedryf", snou hy my toe.
"Kom tik dan self", sê ek. Giggel giggel giggel.

Ek is so moeg dit voel of my skouers elkeen 'n sak lood op het. Dit is amper elkf uur en ek moet môreoggend weer net na vyf opstaan. Ek is nie lus om te sit en tik nie, maar ek doen dit want ek moet. Elke dag wat hierdie voorraadlys nie uitgaan na moontlike kliënte nie, is 'n dag nader aan 'n leë bankrekening.    

Hy kla oor die telefoonkoste, maar ek hou my doof.

Donderdag 30 Julie

Vandag is die laaste dag van die uitstalling. Ek is bly. Geen vroegoggend verkeer meer nie. Ek beman die stalletjie met 'n huppel in my stap. Dit was vanoggend die heel laaste keer dat ek en slakkie resies gejaag het. Ek is bly en ek gee ook nie om wat nou van slakkie gaan word nie. Hy kan met liefde vir hom 'n ander maatjie soek.

Simon is baie gefokus op sy nuwe onderneming. Hy sit voldag voor die faksmasjien om sy voorraadlyste na moontlike kliente te stuur. Hier en daar kontak iemand hom om moontlik met hom besigheid te doen. Hy is opgewonde as hy vertel van die mense wat hom skakel vir pryse. Dit is egter waar dit bly. Hulle skakel, maar niks verder gebeur nie.

"Gelukkig word my laaste salaris môre inbetaal," merk hy laataand op. "Ek was reeds by die versekeringskonsultant om die polisse minder te maak. Ons moet lewens- en kortermynversekering hê, so ons het nie daaraan verander nie," lig hy my in wat ek reeds weet. Maar ek sê niks, te dankbaar dat hy verder dink.

Om die een of ander duister rede kom die koper van ons huis se geld nie deur nie. Ek begin benoud raak. Ek blaai die koerant elke dag deur op soek na moontlike huurplekke. Ek kry 'n bekostigbare tweeslaapkamer huisie met 'n motorhuis in 'n middelklasbuurt. Motorhuise by hierdie plekke is nie 'n algemene bonus nie. Die rede vir die bekostigbare huur vir die huisie? Dit is langs die spoorlyn geleë. Ek en Simon gaan kyk hoe die huisie lyk.

"Mmm, nie te sleg nie," dink ek. Daar is ongeveer 50 huisies in die sekuriteitskompleks. Die tuintjie is almal netjies en daar is vreeslike hoë sekuriteitsdraad tussen die spoorlyn en die kompleks. Daar is plek vir my, Simon en Wouter om te bly. "Bly positief, Tallie, bly positief."

Ons kan egter nog nie teken vir die spoorlynhuisie, voordat ons nie weet wanneer ons koper in ons huis gaan intrek nie. Die verhuringsagent bel my knaend dat ek die vorms moet teken. "Betaal sommer die deposito, huur, administratiewe koste en mootlike skade bedrag in die rekening," spel sy uit. Ek werk uit hoeveel dit is.

Ek verduidelik dat ek nie kan bevestig wanneer ons intrek nie, want ons weet nog nie wanneer on suit ons huis moet wees nie.

"Watter deel van die storie verstaan sy nie?" wonder ek by myself. Ek gaan definitief ook nie vir haar vertel Simon is werkloos, ek wag vir die geld van die huis, én dat ek op hierdie staduim met die ergste moontlike scenario moet werk wat geld betref nie.

Vrydag 31 Julie

Simon se geld word nie inbetaal nie. Ek sien hy is moedeloos. Alhoewel hy heel week bemarking van sy nuwe besigheid gedoen het, kom daar nog geen geld in nie. Ek stop alle moontlike gate met my salaris toe.

"Ek is seker as hulle my salaris vandag inbetaal, sal dit môre op die bankstaat wys," sê Simon. "Die huis by die see se verband is reeds afgetrek. Ek is in my oortrokke fasiliteit," sê hy.

Vrydagaand het hy weer een van sy uitbastings.

"Jy druk my baie hard," word ek toegesnou. Ek staan voor die wasbak en kyk hoe 'n druppel water uit die kraan op water in 'n glas neerplons. Dit voel asof my laaste ordentlikheid saam met die druppel uit my gewurg word.  Ek draai stadig om en kyk Simon in sy oë.

"Dit was nou die laaste keer dat jy my blameer vir jou werkloosheid. Ruk jou reg en neem verantwoordelikheid vir wat met jou gebeur het. Hou op om almal rondom jou te blameer, te vloek en te skel. Ek het nog my werk. Ons het nog medies, want ek betaal die medies. Ek is bereid om saam met jou langs die spoorlyn te gaan bly, maar jy sal my nie langer afkraak nie. Dis vir my ook baie erg, maar nie een van ons kan nou bekostig om moed te verloor of op te gee nie," sê ek afgemete.

"So, dan slaap ek seker weer vannag op die bank", sê hy.

"Slaap waar jy wil," antwoord ek nonchalant. Ek stap na die kamer, maak die deur toe en klim in die bed.