Dit het ’n paar dae gelede gebeur. Dié oggend het ek ’n uur later as gewoonlik wakker geskrik. My wekker, voordeurklokkie, interkom en hond was almal histeries aan die raas. Ek het lam en lui uit die bed geval en die dag met moeite ontvang.

Dieselfde oggend het ek laat by ’n vergadering opgedaag, geïrriteerd vrae beantwoord en gestoei met ’n hoofpyn. Daarna het ek byna in trane uitgebars toe ek onthou dat ek die volgende dag ’n vliegtuig moes beklim vir ’n konsert in die Kaap. Uiteindelik het ek besluit ek moet winkels toe; ek sal beter voel as ek ’n paar Kersgeskenke gaan soek.

Eers in die motor het ek besef ons het so pas Kersfees gevier en dat die nuwe jaar maar twee maande oud was. Ek was verstom. Hoekom het ek dan al my einde-van-die-jaarsimptome? Ek is doodmoeg, verrinneweer, onbeskof en ongeorganiseerd.

Ek het in my bed gaan klim, my oë toegemaak en is dadelik Kaalkop toe.

Die volgende oggend het ek broos en benoud in my welige tuin rondgedwaal. In die verste hoek het ek gaan staan en kyk hoe die slap, groen stringe blare uit die lug hang. Ek het opgekyk om te sien waarvandaan hulle kom en vir die eerste keer ontdek dat daar ’n reuseboom staan, van onder tot bo toegegroei deur ’n donkergroen rankplant. Slegs aan die punte van die takke het bondeltjies van die boom se eie blare uitgeloer. Ek het besef dat ek na my lewe staan en kyk, ook na die lewe van heelwat van my vriende en miljoene ander aardbewoners. Toegegroei en oorweldig. Versmoor deur dingetjies wat eens oulik en dierbaar was, stadig teen jou oprank en uiteindelik so om jou groei dat jy begin versmoor.

Iemand besluit met die geboorte van haar eerste baba dat sy hierdie kleintjie graag voltyds die lewe wil inlei. So vermeerder die kleintjie (so oulik soos ’n pop) later tot vier, die verantwoordelikheid is groot en tydrowend en wanneer die huis die dag uiteindelik leegloop, bly die vrou agter, trots en dankbaar, maar ook uitasem en verdwaas, haar drome so diep begrawe dat sy nie meer weet waar om te gaan soek nie. Ek dink aan my een vriendin wat haar pa daagliks tydens sy siekbed versorg. Ten spyte van ’n voltydse beroep en ’n gesin, besoek sy hom twee keer per dag. Dinge sal binnekort makliker wees; ons hoef nie nou iemand aan te stel nie, glo sy. Die siekbed duur ’n paar jaar en op ’n manier oorleef almal dit, maar teen watter prys?

Elders bestel iemand nog ’n kitsmaaltyd van ’n gewilde afleweringsdiens. Sy weet sy’s dik, maar sy’s nou te depressief om te begin met ’n dieet. En buitendien is dit die middel van die week. So swel haar wange en die oë word al kleiner.

Iemand anders probeer al twaalf jaar lank skei van haar man, maar hulle kan net nie ooreenkom oor ’n skikking nie. Intussen word elke sent uitgegee, die verslawing aan drama word ’n lewenswyse, en die hoop op ’n nuwe lewe het lankal vervaag.

Maar dit neem nie net epiese traumas om ’n sterfling te oorweldig nie, honderde klein alledaagse dingetjies begin saamkoek tot dit eendag soos ’n swaar kombers voor die son inskuif en ’n skaduwee oor jou pad gooi.

Behoort dinge in hierdie supertegnologiese wonderwêreld, waar die vooruitgang verbysterend is en nuwe uitvindsels daagliks onthul word, dan nie makliker te word nie? Moet al die gerief nie daar wees sodat ons meer insig en tyd kan hê vir dié dinge wat in ons harte wag nie? Hoekom word ons dan net moeër, lomper en dommer? Die keuse is elkeen se eie. Soveel informasie, soveel versoekings, soveel beloftes, soveel verwagtinge ... waar hoort ek?

Ek het nog baie planne, geheime ideale en gek idees. Ek moet nog lank hou. Gesonder eet, harder oefen, beter beplanning, sterker geloof, minder geskarrel, meer kennis, meer slaap, meer ontspanning, meer suurstof, wat ook al nodig is, ek kan nie toelaat dat hierdie aarde my nou al oorweldig nie.

Agter in die tuin klim ek en die tuinier op ons lere en begin aan die rankplant uitdun. Volgende jaar is hierdie boom steeds vol blare, maar minstens is die helfte daarvan dan sy eie.